Soweto, under the apricot tree deur Niq Mhlongo: ’n resensie

  • 0

Soweto, under the apricot tree
Niq Mhlongo

Uitgewer: Kwela
ISBN: 9780795708374

Die heel beste verhale is in staat om ’n leser nie net bekend te stel aan ’n nuwe wêreld nie, maar om haar so vertroud te maak daarmee dat dit soos ’n tweede tuiste voel.

Die bekroonde skrywer Niq Mhlongo doen presies dit met Soweto, under the apricot tree. Hierdie is sy tweede bundel kortverhale, na Affluenza (2016). Die bundel is geskryf terwyl hy inwonende kunstenaar was by die Akademie der Künste der Welt in Cologne gedurende 2017.

Die bundel bevat 11 kortverhale, met wyd uiteenlopende temas. Soweto is ’n sentrale karakter in feitlik elke verhaal, en teen die einde van die bundel sal die leser voel asof hy of sy met gesag kan praat van die Avalon-begraafplaas, van Chi Town se sjebiens, en van die bedrywighede by Meadowlands Zone Two-park.

Twee kortverhale speel nie in Soweto af nie, nl “Nailed” en “Turbulence”. Dit is waarskynlik ook die twee verhale met die mees overte politieke satire in die bundel. “Nailed” vertel die verhaal van ’n politikus met ’n naelfetisj wat in flagrante delicto betrap word deur sy minnares se man. Terwyl ek dit gelees het, kon ek nie anders as om by tye ’n bietjie schadenfreude te ervaar terwyl die politikus homself probeer lospraat uit ’n situasie waar hy net deur sy eie arrogansie beland het nie.

“Turbulence” speel af op ’n vliegtuig onderweg na England en vertel die verhaal van ’n politieke konfrontasie tussen ’n bejaarde wit vrou en ’n jong man van Sepedi-afkoms. Natuurlik is daar, in tipiese Mhlongo-styl, laag op laag van ondertone en subtekste wat eers ontsyfer moet word voordat die ware tema van die verhale na vore kom.

Met elke verhaal kry die leser ’n kykie in ’n skatryk kultuurlewe wat sy aan sy met die Westerse kultuur bestaan. Mhlongo se temas dans ligvoets tussen kultuurverskille (en partykeer -geskille), godsdiens, politiek, moraliteit, misdaad en gewone, outydse goeie storievertellery. Ragfyn verweef deur dit alles is die alledaagse lewe in Soweto, en die wyse waarop mense met hul kultuur omgaan. Waar anders word die zamazamas, umqombothi, sangomas met hul tradisionele medisyne en nyaope-verslawing met soveel outentieke gesag beskryf? Waar anders is die belangrikheid van begrafnisse en die onderliggende verpligtinge teenoor en spanning met die voorvadergeeste al so meesterlik uitgebeeld?

Die karakters in die verhale sal lesers bybly lank nadat hulle die bundel toegemaak het. Mhlongo slaag daarin om selfs die mees onsimpatieke karakters hul oomblik van verlossing te gee. Bra Makhenzo in “Avalon”, Elsabe Nel in “Turbulence”, Ousie Maria in “Curiosity killed the cat”: in elke geval slaag Mhlongo daarin om die leser verby hul baie ooglopende foute te laat kyk, na ’n diep universele mens-wees.

Dis een van daardie bundels waar ek by tye geskaterlag het, en ander kere weer stilletjies ’n traan moes wegpink. Die verhale sleur mens mee, en die temas kan elke leser mee vereenselwig.

In twee verhale het Mhlongo besluit om die perspektief van ’n vroulike karakter te gebruik. Dis ’n tegniek wat hy maar eerder nie weer in die toekoms moet gebruik nie. Hy is ’n gebore storieverteller, maar hy slaag nie heeltemal daarin om te oortuig as ’n vrou nie. In die eerste verhaal, “My father’s eyes”, word die verhaal vertel van Naledi wat op soek is na haar biologiese pa. Die eerste gedeelte van die verhaal, waar Naledi se stryd binne haar kultuur beskryf word, hanteer Mhlongo meesterlik. Wanneer Naledi egter die waarheid omtrent haar biologiese pa ontdek, is Mhlongo eenvoudig nie in staat om homself te plaas binne die skoene van ’n vrou in daardie omstandighede nie.

In “Private dancer Saudade” is die protagonis ’n student wat die universiteit verlaat omdat sy nie die universiteitsgelde kan bekostig nie. Sy ontmoet ’n skatryk man wat haar bekendstel aan ’n lewe van vinnige karre, ontwerpersklere en vyfsterhotelle. Natuurlik is daar nie ’n gelukkige einde nie, maar Mhlongo beskryf die oomblik van konflik soos wat ’n man dink ’n vrou behoort te reageer. Dit oortuig nie, en laat die karakter in die proses eendimensioneel en koud voorkom.

Dit doen afbreuk aan wat andersins uitstekende verhale is. Dit sou miskien beter gewees het as Mhlongo daardie twee verhale nie uit ’n eerstepersoonsperspektief probeer vertel het nie.

In “Whistle-blowers and vuvuzelas” word misdaad en gemeenskapsvergelding met behendigheid en hartverskeurende eerlikheid hanteer.

“Every dog has his day” gaan ook oor misdaad, maar hierdie keer kom die skuldgevoelens van ’n persoon wat misdaad oorleef, onder die loep. Mhlongo versteek leidrade soos suinige broodkrummels tot by ’n verrassende slotsom.

Die bundel is heerlike leestof uit die pen van ’n meesterstorieverteller en sou ’n uitstekende toevoeging tot enige boekrak wees.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top