Soveel W’s, en soveel vraagtekens

  • 0

W   whitewash    ?
W  warra-warra ?
W wrintie waar   ?

Wyer, wyer warrelwinde wars van
vergane weë oral oor vier seë se
strome goed en kwaad – gelief; gehaat.

G’n ge-Google, Wintie. Vra jou af:

Het elke huis sy muis, e-sleutels en
kajuitvenster vir inloer en uitkyk?

Seëvier elke huis (kerkmuis inkluis)
die e-era oor bodems van al vier seë?*

Branderry jy verby golwe whitewash
op die wêreldwye web, Wintie?

Neem jy warrel-waters warra-warra
waar op die wêreldwye web, Wintie?

Skei jy waters van vier seë vir wêreldwye
wrintie waar, Wintie?

Wys wêreldwye web sommer net wat
gebeur wrintie op elke eiland en kontinent?

Woel waters wêreldwyd vanweë
weetwaardigheid? 

Stroom al vier seë sonder meegevoel
vol tegnologieë?

Versuip wirwar van veranderlikheid
knaend kleinlikheid gedwee in al vier seë?

Spoel vier seë se strome bababinnegoed
en krieseltjies kristalbal, kouseltjies koudheid
asook beentjies in brokkies uit op strande
– vol sout van die aarde?                                  

Beleef net jy eiewys reis, Wintie?

Ontpop jou kop tjop-tjop in
vreemde vlieënde vaartuie
wat grense gou-gou goël?

Ontkom jy aan haaie se kake, seekatte
se gigagrepe gemors met kruissprake?

Wissel jy, Wintie, willens en wetens
ongehoorde walviswoorde?

Gooi e-geskiedenis se wiesewasies
binne Sjinese wokke vol wolhaar Weense
worsies jou disnis?

Jol jy toegedraai in derduisende dollar
wat al doller dobber op wendings in waters
waarin Pa en Ma se gruwelgeheime
gedronge spartel?

Ontsnap hul kleingoed versuip met vertel van
’n vuil grap in grootmeneer-geselskap?

Wintie, dans wasems vol stilswye
met jou saam, watewwer jy scheme?

 

*  Netwerk vesel-optiese kabels op seebodem van die vier oseane  verbind kontinente en maak die www moontlik. Sien gegewens http://cil.nus.edu.sg/wp/wp-content/uploads/2009/10/Undersea-Cables-in-ECS.pdf.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top