Soveel meer in Elle Amor

  • 1

Elle Amor-launch. In ’n lae keldervertrek by ’n gesogte venue met ’n view is die verhoog teen die verste muur, die saal vol, sop en brood en die borg se wyn beskikbaar,

Ek dink terug aan vondste – die dag toe ek sit in ’n waenhuis in Durbanville, en mense die mooiste musiek speel – hoe ek daai dag trane teen my wange voel afloop het. Toe was dit teen die agtergrond van Suid-Afrika ná die ’90’s. Die landskap vir Afrikaans yl; populêre musiek wat die botoon voer - enige plek waar brandewyn en Coke bedien word.

Egte pogings tot kuns het my altyd sedertdien herinner aan Bob Dylan se Basement Tapes. Soveel talent, soveel bereidheid om baie hard te werk, bo en behalwe die dagtaak; en uiteindelik skep Roesemoes shows wat met groot sukses by KKNK speel (oa Skilder, 2000), en die een lid word Heleen Burger wat sing en dans in Cats. Ek dink aan die “profound” Petronel Baard, wat die mees fantastiese TV-musiek-oudisie aflê vir iemand wat nie die werk gekry het nie, daarna die Crescendo prys wen, en gaan van krag tot krag – vandag nog.

Humble beginnings. En vandag nog ag ek die musiek van Nico Burger van Roesemoes as van die mooiste wat nog in Afrikaans geskryf is. En ag ek die stemme en instrumente wat meegewerk het, as van die mees toegewyde en talentryke nog.

Vanaand is daar weer so ’n onmiskenbare genie op die verhoog: Elzeth Germishuys (klavier en trekklavier). Die res van die groep is Tereza du Plessis (sang en kajon), Andriette de la Harpe (sang, trekklavier en kajon) en Hilandi du Toit (akoestiese en baskitaar).

Hulle noem hulself ’n “theatrical cross-over”-sanggroep. Miskien dieselfde fout wat Roesemoes gemaak het. Daar steek soveel meer in ’n naam; daar was soveel meer aan Roesemoes as dit. Daar steek soveel meer in Elle Amor as ’n “sanggroep”. Elle Amor is Elle Amor.

Die style in Elle Amor is uiteenlopend: van die liedjiekeuses, verby die musikante se aanslag, tot by die sangeresse s’n – en die kombinasie iets formidabels. En in die eindproduk – die samesnoering van alles, is die klassieke onderlegdheid hoorbaar. Liefdesmusiek, kabaretmusiek, ligte musiek en klassieke musiek word verweef in ’n toenemend vermaaklike, en meesleurende, en soms verruklike, eenheid.

Elle Amor is: Tereza du Plessis, Elzeth Germishuys, Andriette de la Harpe. Die bykomende kunstenaar vir die cd launch was Hilandi du Toit op baskitaar en akoestiese kitaar.

 

Thereza slaan met oorgawe die note van kabaret, die moves van kabaret, die smeuling, en die musiek; Andriette de la Harpe gooi gees, gooi onskuld, gooi die vreugde van onskuld en gooi die uitdaginge van onskuld omver – in ’n uitdagende show wat wissel van middle-of-the-road tot klassiek.

En van agter is die meesteres, op die klavier, en later trekklavier, die sterretjie wat skyn bo alles.

Bravo vir die keuses - wat net uit ’n kundige se skatkis kan kom, die hoogtepunt die “Sweef soos ’n arend” op Liszt, en die verwerpte trekklavierster-juweeltjie. En dan is daar die gees van Hilandi – op kitaar, op baskitaar, op die vriendelikste vibe in ’n show in ’n lang tyd …

Elle Amor is al verby die “basement tapes”-fase. Hulle is reeds ’n sukses wat wag om opgeraap te word. Jy kan hulle rééds opraap – hulle is by die KKNK. Besluit self wie ry en wie bly – ek dink jy sal almal saamvat, al moet party stap … 

Stasies en Trommels (musikale teater)
Regie: Liesl Marx
Musikale regisseur: Elzeth Germishuys
Datum: 1 - 5 April
Tyd: 12:30 – 13:30
Venue: Deurbraak Teater (Laerskool Wesbank)
Kaartjies beskikbaar by Computicket
 

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top