Soos roomys val my woorde
Ai, my woorde weer
uitgelap weer ’n keer
ek is net ’n toeskouer
my pen span saam my hart
Almal moet hoor
elke jan rap en ook sy maat
Sonder ’n staffie is ek getoor
net ’n glimlag het my lam gelaat
Dan skielik sal ek besef ...
Koor:
Al wat sy wil doen is dans
sy vat my hand en raak my hart
Stomgeslaan, ek is betower
soos roomys val my woorde ...
Simpel is my hakkelwoordjies
versigtig my gelapte liedjie
Mooi kan haar nie opsom nie
Pragtig klink te normaal
Ek los dan maar my rympies
Sy breek al my reëls
Haar vryheid steel my patroon
as sy hardloop in die reën
Dan skielik sal ek besef ...
Koor:
Al wat sy wil doen is dans
sy vat my hand en raak my hart
Stomgeslaan, ek is betower
soos roomys val my woorde ...
Sy pluk vrolik veldblomme
en ek sal net staar
Al my plannetjies saam die wind
geen toutjies aan dié meisiekind
As die wêreld begin draai
en alles tot ’n reënboog smelt
Is my oë oop of slaap ek nog?
Wat is waar en wat is droom?
Dan skielik sal ek besef ...
Koor:
Al wat sy wil doen is dans
sy vat my hand en raak my hart
Stomgeslaan, ek is betower
soos roomys val my woorde ...
Sy fluister skielik saggies
en ek weet dan ek is wakker
Steeds hoor ek die liedjie
en wil ek sing maar klink ek vals
Ek sweet om te beïndruk
maar sy lag vir my simpelheid
saamlag is dan al antwoord
en aanhou wonder oor die waarheid.
Dan skielik sal ek besef ...
Al wat sy wil doen is dans
sy vat my hand en raak my hart
Stomgeslaan, ek is betower
soos roomys val my woorde ...
![]() |



