Soos ’n parfait of ’n sundae: die kykNET Fiëstas 2019

  • 0

kykNET se Fiëstas, die kanaal se jaarlikse toekennings vir kuns, musiek en teater, het op Valentynsaand in die Kunstekaap in Kaapstad plaasgevind. Dit was ’n swierige, plesierige, inderdaad lieflike, snikhete aand.

Die verhoogproduksie – met “grond” as tema – het my herinner aan Theodor Adorno se beskrywing van ’n boek deur Georg Lukács: “The book is like a parfait or a sundae – halfway between a so-called thaw on the one hand and a renewed freeze on the other.” Adorno noem nie dat beide die parfait en die sundae soet geregte is nie, maar die onvermydelike implikasie is dat daar ’n soetigheid – ’n lekkerte, ’n plesier – in die boek is.

Só was dit dan ook met die Fiëstas-verhoogproduksie vanjaar. Aan die een kant het mens soms die gevoel gekry dat die plesierigheid op die punt was om te versmelt en te vervloei in die banale en selfs die belaglike. Die soetigheid van die pasticheagtige verwerkings van bekende klassieke musiek – wat die “songs” ingelei of afgesluit het – het my van die begin af geïrriteer; maar ek is ’n enkele toeskouer en kykNET ken hulle teikengehoor. Hierdie soort soet musiek, aan die einde van nóg ’n beurtkragdag, hou die TV aan – veral as dit gepaardgaan met skaflike dans en bekwame spel deur die Kaapse Filharmoniese Jeugorkes onder leiding van Chad Hendricks.

Dit is seker ook waarom dié musiek ’n deurlopende tema in die produksie was en uiteindelik gekulmineer het in ’n sundae-agtige hemelvaart van ’n wit engel met ’n massiewe sluier wat oopsprei oor die ganse verhoog, alles op die maat van ’n (vir my skrikwekkende) verwerking van Beethoven se negende simfonie. My indruk was dat die visuele oordadigheid aan die kortstondige oomblik van verlossing ’n sweem van desperaatheid verleen het. Die klimakse in van die musikale items was ook telkens so luid dat die klankdistorsie in die gehoorsaal steurend was en ongelukkig nie heeltemal reg aan die sangers se stemme laat geskied het nie.

Aan die ander kant was tekens van ’n “renewed freeze” sigbaar in die “In Memoriam”-gedeelte van die program, waartydens ons weer eens vermaak is met ’n klassieke treffer – dié keer genadiglik nie verwerk nie – wat bedoel was om die hartsnare te roer, terwyl donker foto’s van die gestorwenes kom en gaan op die skerm. Sommige van hierdie foto’s was só spookagtig dat dit gelyk het of die regisseur mik na die ontslape kunstenaar se onsterflike gees. Wanneer dit kom by ’n “In Memoriam”-gedeelte van só ’n program, is dit nie onredelik om te verwag dat meer sorg aan die dag gelê sou word om duidelike foto’s van ons gevalle kunshelde te vertoon nie. En waarom is dit nodig dat die kontras so voorspelbaar monochroom en ooglopend somber (kompleet met solo-koperblaas-in-kollig, “Last post”-styl) moet wees in ’n andersins kleurryke en uitspattige produksie?

Vir my is die visuele taal van die verhoogproduksie in die geheel dus oorheers deur te veel voorspelbare letterlikheid en geykte ooglopendheid – en dit is ironies, gesien in die lig van die feit dat dit die poëtiese, dikwels subtiele, taal van die teater en kuns is wat hier vereer word. Hiermee wil ek nie sê dat die produksie geheel en al letterlik was nie – die feesuittreksels byvoorbeeld het vir goeie afwisseling gesorg. Ook die estetiese hantering van die grondtema was, in die geheel beskou, besonder vernuftig, deurdag en dikwels in die kol.

Kort voor die Fiëstas het Joanna Lumley vanjaar se Baftas in Londen aangebied. Haar flou grappies en kwinkslae oor Brexit het onder andere veroorsaak dat die Guardian ’n berig geplaas het waarvan die opskrif was: “Is Joanna Lumley the worst Bafta host of all time?” By tye het dit gelyk of die Fiësta-gasheer, Bennie Fourie, in dieselfde strik as Lumley gaan trap. Sy sjarme ten spyt het Fourie se gasheertegniek, veral wat die komiese betref, nie altyd hond haaraf gemaak nie. Die grappie oor die kateders wat, geskoei op die grondtema, gelyk het soos ’n emoji van ’n hopie iets-anders-wat-ons-almal-ken, was baie snaaks, maar partykeer was die grappies so flou dat selfs die luimige gehoor nie ’n beskaafde giggel kon bybring nie.

Enige goeie sundae of parfait het sy sublieme oomblikke, en by die Fiëstas was die hoogtepunt van die aand ongetwyfeld die verering van John Kani as ’n teaterlegende. Die commendatio is gelewer deur Sandra Prinsloo, wat self ook vroeër in die aand as ’n teaterlegende vereer is (in ’n oomblik wat baie mense na die snesies laat reik het). Kani se toespraak het perfek gepas by die grondtema en in net ’n paar woorde het hy die problematiek, tragedie, hoop én potensiaal verwoord van wat dit beteken om saam in hierdie land te leef en om saam aan die grond gebonde te wees. “You’re stuck with me,” was die sin uit sy toespraak wat my bygebly het, en dit het my laat dink aan ’n gunstelingreël uit die Wachowski-broers se film The Matrix revolutions: “I’m interested in one thing, Neo – the future. And believe me, the only way to get there is together.”

Kani is ook luid toegejuig nadat hy verklaar het dat die kunste ’n onontbeerlike rol speel in die strewe na versoening, vrede en harmonie, en dit het my herinner aan Albie Sachs wat ’n paar jaar gelede in ’n onderhoud verklaar het dat die kunstenaars van Suid-Afrika die Grondwet “geskryf” het lánk voor die regsgeleerdes dit op skrif gestel het.

Ook Saartjie Botha het tydens een van haar meerdere aanvaardingstoesprake (sy het inderdaad skoonskip gemaak) klem gelê op die belang van die kunste en dank uitgespreek aan kykNET vir die kanaal se belegging in die kunste.

Diane Victor het in haar toespraak verwys na die feit dat die kunstefeeste ruimtes maak vir kuns wat nie in kommersiële galerye geduld word nie. ’n Mens spreek dus enige kritiek van die aand met gelyktydige enorme waardering uit – dit is immers die kuns wat ook die kritiek moontlik maak.

Dit was dan ook besonder gepas dat die aand, oorkoepelende wit engel en al, met ’n boodskap van hoop afgesluit is in ’n lied vertolk deur die gaskunstenaars Craig Lucas, Jo Black (wonderlike stem) en Paxton. Hoop beleef wêreldwyd vandag ’n oplewing, te midde van die verskriklike menslike verdelings, polarisasie, geweld en die versnellende verval van ons planeet – die grond is inderdaad besig om hopeloos onder ons voete mee te gee. As ’n idee, gaan die geskiedenis van hoop gepaard met ’n ambivalensie wat nie onderskat moet word nie. Die ondubbelsinnige retoriek van die Valentynsdag-Fiëstas was egter dat ons hoop in mekaar kan vind, in die feit dat ons saam op die grond is, dat ons “stuck” is met mekaar – en dat dit nie ’n slegte ding is of hoef te wees nie.

 

# Jaco Barnard-Naudé is mededirekteur van die Sentrum vir Retoriekstudie (CRhS) aan die Universiteit van Kaapstad.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top