Soos ’n leeuwyfie

  • 0

Die gordyn het grasieus toegeval toe die begrafnisondernemer uit die vertrek geloop het. Isabel Roux was alleen oor in die kamer. Stil het sy na haar man in die doodkis gestaar. Die ondernemer se personeel het hard probeer om die wond te bedek, maar hulle kon nie daarin slaag nie. Dit was ooglopend dat Isabel se man sy eie lewe met ’n pistool geneem het. Isabel het nie gehuil nie. Sy wou, maar die trane wou net nie loop nie. Al waaraan sy kon dink, was hoe hy steeds so ongelukkig gelyk het soos hy daar in sy doodkis gelê het; so ongelukkig soos wat hy die laaste twee jaar van sy lewe was. ’n Tragiese figuur in die doodskis is al wat oorgebly het van ’n man wat jare lank groot drome gekoester het. Isabel het geweet wat sy moes doen om sy dood te wreek.

Die begrafnisdiens was kort. Min woorde is gesê, met min roubeklaers wat hul laaste eer kom betoon het. Toe die lykswa wegtrek, het Isabel net saggies gesnik en stil vir die lykswa gewaai toe die voertuig wegry. Sy het bedroef na haar eie motor geloop en by die kerk se hek uitgery. Mense wou nog vir haar sê hoe jammer hulle is oor wat gebeur het, maar sy het nie belanggestel in hul simpatie nie. Isabel was ’n sterk vrou, so sterk soos ’n leeuwyfie wat enige prooi op die vlaktes kon plattrek. ’n Leeuwyfie soek nie simpatie wanneer haar lewensmaat deur ’n sterker mag vermorsel is nie. Leeuwyfies smag na wraak.

In haar huurhuis het haar tasse reggestaan. Bo-op haar spieëlkas het haar paspoort gelê. Sy het die paspoort oopgemaak en na haar Britse visum gesoek. Sy was twee maande gelede in Engeland vir besigheid en sy wou net seker maak dat sy nog die reg sou hê om weer terug te keer. “Ja,” het sy saggies gesê, “ek het nog drie maande oor.” Sy het die paspoort neergesit en haar telefoon opgetel. Sy het ’n buitelandse nommer geskakel. Die foon het gelui.

“Hallo,” het ’n stem aan die ander kant geantwoord.

“Hallo, Susan, dis Isabel. Dis verby.”

“Ek is jammer, Nig, ek weet nie wat om te sê nie.”

“Daar is niks om te sê nie. Mag ek asseblief met Gregory praat?”

“Hou aan, ek roep hom gou.” Isabel kon hoor hoe Susan in die agtergrond na haar man roep. Gregory was ’n oud-Engelse matroos wat Susan, Isabel se niggie aan moederskant, gedurende ’n kort vakansie in die vroeë 1990’s ontmoet het. Hulle wou in Suid-Afrika bly, maar Gregory, as buitelander, kon nie werk vind nie. Hulle het na Londen verhuis, waar Gregory as ’n sekuriteitswag begin werk het by ’n bank in Queenstraat.

“Hello, Isabel,” het Gregory gesê toe hy uiteindelik die foon by sy vrou geneem het.

“Hello, Gregory. It is over.” Gregory het net ’n keelgeluid gemaak om sy erkenning te gee.

“Will you be able to help?” wou Isabel weet.

“Yes, Isabel. I will pick you up from Gatwick. Just make sure you do not leave anything that can link me to your plan.” En met dié woorde het Gregory die gesprek summier beëindig. Isabel het die telefoon se gehoorstuk teruggeplaas. Sy het na haar bed geloop om haar tasse toe te maak voordat sy dit na die voordeur dra. Sy moes binnekort na die lughawe in Johannesburg vertrek. Toe loop sy na haar studeerkamer. Sy wou net ’n laaste keer kyk na die plan wat sy uitgewerk het. Sy het die straatname wat sy moes volg en die adres waarheen sy moes gaan nadat haar plan voltrek was, gememoriseer. ’n Leeuwyfie maak mos seker hoe sy haar prooi gaan plattrek, nog voordat sy die jagtog begin.

Die Uber-bestuurder het haar studiesessie onderbreek toe hy bel om haar te laat weet hy het gearriveer. Sy het ’n laaste draai deur haar slaapkamer gemaak, haar paspoort en handsak geneem en na die voordeur geloop. Oomblikke later het sy in die motor geklim en stil saam met die bestuurder na die lughawe gery. Sy was glad nie lus vir los praatjies met ’n onbekende persoon nie. Leeuwyfies meng mos nie met die kleiner katsoorte nie.

Sy was mooi betyds vir haar vlug en kon haarself gemaklik in die komplimentêre rus-area voorberei vir die taak wat in Engeland op haar gewag het. Sy het een van die gratis koerante by die besprekingstoonbank gevat omdat iemand wat sy haat op die voorblad gepryk het. Sy het gelees hoe Emil Rothstein weer spog oor wat sy maatskappy kon regkry. Rothstein se besigheid, Jones & Rothstein, was die bobaas openbare betrekkinge-maatskappy in Engeland, met kliënte regoor die hele wêreld, selfs ook die Suid-Afrikaanse regering. Sy het gelees hoe Rothstein spog oor hoe sy maatskappy weer ’n diktator gehelp het om sy korrupte regering na ’n onlangse verkiesing aan die stuur van sake te hou. Rothstein se plan was eenvoudig. Hy het ’n minderheidsgroep in die land uitgesoek en hulle begin uitbeeld as ’n bedreiging vir die land se regering en die welstand van die meerderheid. Deur middel van die land se media sou hy die diktator se beeld omskep as ’n soort redder wat die oplossing het om die minderheidsgroep in hul plek te hou. Sy plan het geslaag.

Dit was die eerste keer daardie dag dat Isabel haar humeur in toom moes probeer hou. Sy kon voel hoe die woede in haar opbou. Leeuwyfies brul mos wanneer hulle kwaad word – ’n brul wat die hele jagveld mooi laat verstaan dat iemand te ver gegaan het.

Teen negeuur die aand het sy in die besigheidsklas van die gewone Vrydagaandvlug na Londen gesit. Sy wou nie in die ekonomiese klas vlieg nie omdat sy uitgerus wou wees wanneer sy in Engeland aankom. So was dit ook. Sy kon agt ure se slaap inkry en was heeltemal reg vir haar beplande aksie later die volgende dag. Met haar paspoort gestempel, het sy Gregory met gemak in die aankomssaal gevind. Na ’n emosielose groet het die twee na Gregory se motor in die parkade geloop sonder om ’n woord met mekaar te praat. Met die aankoms by die motor het Gregory haar bagasie in sy kattebak gelaai terwyl Isabel haarself aan die passasierskant gemaklik gemaak het. Hulle het by die parkade uitgery. Isabel het by die venster uitgestaar terwyl Gregory probeer het om ’n geselsie met haar aan te knoop: “Isabel, I know that you are in mourning, but I am not convinced that your plan will succeed.”

Skielik het Isabel haar kop na Gregory gedraai en haar irritasie met sy stelling gewys.

“What, Isabel?” het Gregory verbaas gevra.

“It’s more than just a plan, Gregory. I am avenging my husband’s death. Understood?”

“Okay ... okay,” het Gregory saggies gesê om haar te laat bedaar. Die hele pad het hulle nie verder met mekaar gepraat nie. Met hul aankoms in Greenwich het Gregory haar by ’n klein hotelletjie afgelaai. Hy wou wegry sodat niemand hulle saam sou sien nie, maar Isabel het hom gevra om haar met haar bagasie te help tot by haar kamer.

Toe Gregory haar bagasie in die kamer neersit, het sy hom gevra of hy dit het. Hy het gehoop dat sy daarvan vergeet het, maar het ’n leersakkie uit sy swart baadjie se binnesak gehaal en dit vir haar gegee. Sy het hom vir die guns bedank en ook vir wat in die leersakkie was.

“Just remember to throw it in the Thames when you are done with it.”

Isabel het belowe sy sou. Gregory het by die kamer uitgeloop en die deur toegemaak. Daar sit Isabel toe weer alleen in ’n kamer. Voordat sy vir haarself ’n bad water wou intap, het sy eers die leersakkie oopgemaak. Sy het haar hand ingesteek en die koue staal van die pistool wat binne-in die sakkie is, gevoel. Sy het die pistool uitgehaal en dit van naderby bekyk. Sy het die magasyn uitgehaal en gesien dat dit vol patrone is. Gregory het sy kant van die belofte gehou. Sy het die pistool teruggeplaas in die leersakkie en dit in haar handsak gesit. Die res van die oggend sou sy ontspan, maar met die oopdraai van die bad se krane het sy haarself weer herinner hoekom sy in Engeland is. Sy het oor die foto’tjie van haar oorlede man wat sy altyd saam met haar dra, gevryf. Sy wou nie huil nie, maar net soos die water uit die krane, het haar trane begin vloei. Sy het teruggedink aan die dae toe hulle saam studente was by die destydse RAU en hoe hy haar altyd vertel het wat hy vir die toekoms beplan, veral toe die moratoriums en boikotte uiteindelik van Suid-Afrika se skouers gelig was. Sy hoor nog sy woorde van blydskap toe hy sy eerste miljoen in 1995 gemaak het. Uiteindelik kon hy vir haar die ring koop wat hy graag wou. Sy het natuurlik nog steeds die ring gedra. In haar hart was sy nog met hom getroud, al was hy nie meer by haar nie.

Soos sy verder aan hom gedink het, kon die trane nie meer ingehou word nie. Sy het op die yskoue teëlvloer neergeval en alles net laat uitvloei. Elke traan, alle gevoelens van smart en seer, alles is net daar op ’n badkamervloer in ’n hotel iewers in Engeland uitgestort. Die water in die bad het begin oorloop – ’n simbool van hoe sy die pyn en bitterheid nie langer kon inhou nie. Eers toe haar hele lyf net so nat was soos die badkamer se vloer, het sy opgestaan en die krane toegemaak. Sy het al die handdoeke wat sy kon kry, gaan haal en die vloer begin droogmaak.

Die pyn verdwyn mettertyd, het sy gedink, terwyl sy die badkamervloer probeer droogmaak. Sy dood sou makliker gewees het om te aanvaar as hy van natuurlike oorsake gesterf het. Seker 20 of selfs 30 jaar, dink sy, kon hulle nog saamgeleef het. Hy het geweet dat sy nie weelde wou hê nie. Sy het geglo aan die idee dat hulle met min kon klaarkom omdat die lewe eenvoudig aangepak kan word. Die spreekwoord lui: “Hoe meer jy het, hoe meer het jy om jouself oor te bekommer.” Maar dit was nie wat hom gepla het nie – hy het sy doel in die lewe verloor. As hy nie kon werk nie, as hy nie aan iets kon bou nie, was hy glad nie meer mens nie. Om ’n geleentheid van hom te ontneem was soos om sy hart uit sy borskas te ruk. Dit is wat booswigte soos Emil Rothstein aan haar man gedoen het. Hulle het sy rede om oor die jagveld te brul weggevat en hom gestraf omdat hy met ywer aan ’n loopbaan wou bou – ’n loopbaan wat aan ander geleenthede kon gee en sodoende ’n doel vir ander mense se lewens kon skep. As gevolg van wetgewings en stereotiperings van regimes van vervloë dae en van die teenswoordige tyd kon hy nie sy drome deur sy lewenstog bereik nie. Die stelsel het hom gebreek, en daarmee sy lewe gevat. Dit was tyd dat Isabel op die stelsel wraak sou neem op die mees pragmatiese, maar klandestiene manier waaraan sy kon dink.

Sy het teen tweeuur die middag haar weg gevind na Queenstraat in Londen. Duskant die Verenigde Vrymesselaarslosie van Engeland en Wallis was die hoofkantoor van Jones & Rothstein. Gregory het die gebou self ’n dag of twee vroeër besoek en vir Isabel die roete gegee wat sy moes volg om tot binne-in Emil Rothstein se kantoor te kom. Sy sou hom daardie aand besoek. Die Vrymesselaarslosie se maandelikse byeenkoms was ook vir daardie aand geskeduleer en Rothstein moes sy plig as lid vervul. Gregory was ook ’n lid en het gedurende sy besoeke aan die hooflosie agtergekom dat Emil altyd na so ’n byeenkoms terug na sy kantoor gaan voordat hy huiswaarts keer. Daardie brokkie inligting was vir Isabel goud werd, want sy het geweet dat sy net een kans sou hê om haar prooi plat te trek.

Teen sesuur die aand het die lede van die hooflosie een vir een gearriveer om hul byeenkoms te hou. Geklee in hul beste aandpakke, sommiges met hul voorskote reeds aan, het die Vrymesselaars mekaar gegroet en saam binnegestap. Geduldig het Isabel in ’n koffiehuis net oorkant die losie gesit en wag. Sy het by ’n sitplek naby die venster gesit en probeer kyk of sy Rothstein kon sien. ’n Halfuur later het hy by die koffiehuis ingestap. Isabel het geskrik. Sy het nie verwag dat hy so op die nippertjie van sy maandelikse byeenkoms eers na die koffiehuis toe sou gaan nie. Hulle het vir ’n oomblik in mekaar se oë gekyk, maar nie een van hulle het iets gesê of gedoen nie. Isabel het gewonder of sy die pistool kon uitruk en hom sommer net daar kon doodskiet. Die koffiehuis was nie vol nie en sy sou maklik kon ontsnap.

Sy het haar hand in haar handsak gesteek, maar besluit om liewer by haar plan te hou. Sy het gehoor hoe Rothstein ’n pakkie sigarette koop en toe net so vinnig uit die koffiehuis loop as wat hy ingekom het. Isabel het diep asemgehaal. Dalk was die ys nou gebreek. Dit sou nou makliker wees om hom weer later die aand te sien en hom dan uit die lewe te help, noudat sy hom in die oë gekyk het. Die leeuwyfie staar mos eers vir ’n oomblik na haar prooi voordat sy wegspring om die doodbyt aan die keel te gee.

Teen tienuur die aand was die losie se maandelikse ontmoeting verby. Die klomp Vrymesselaars het uit die losie gestroom en hul weë gevind na hul huise. Emil Rothstein was een van die eerstes uit. Hy kon nie wag om weer terug te wees in sy kantoor nie. Hy kon dan gou sy personeel in Sjina skakel om te hoor of hul nuwe veldtog om Tibet se beeld te beswadder mooi aan die gang was. Rothstein het deur die glasdeure van die gebou gestap en die sekuriteitswag oudergewoonte gegroet. Die wag het Rothstein vertel dat ’n dame na hom gesoek het so net na seweuur se kant en dat dit ’n dringende saak was. Die wag het verder vertel dat sy ’n brief in haar hand gehad het. Rothstein het hom gevra waar die brief is.

“She asked me if she could slip it under your door. Your secretary was still there, so I gave her permission to go up to your floor.”

“Did she leave?” wou Rothstein weet.

“I believe so. I called your secretary when I returned from my second floor rounds to ask that very same thing. She said that there was no one there, so I figured she had left during my absence.”

Rothstein het net geknik en by die oop hysbak ingeloop. Sy besigheid se kantore was op die boonste vloer; sy kantoor in die hoek met ’n pragtige vista oor die hele middestad van Londen. Die Londense Oog was seker die helderste ikoon wat ’n mens van sy kantoor af kon sien. Dit is presies waarna Isabel gestaar het terwyl sy in sy leunstoel vir hom gewag het, met ’n glasie van sy duur Skotse whisky in haar hand.

Met sy aankoms op die boonste vloer kon Emil Rothstein dadelik sien dat iets nie pluis was nie. Sy kantoordeur het oopgestaan. Hy was seker dat hy dit gesluit het voordat hy vertrek het. Hy het stadig na sy kantoor geloop, saggies, sodat niemand hom sou hoor nie. By die deur van sy kantoor het ’n koevert gelê. Hy het stadig afgebuk om dit op te tel.

“This must be the letter,” het hy vir homself gesê. Hy het sy kantoor se lig aangeskakel en die koevert oopgemaak. Binne-in was ’n klein kaartjie wat net gesê het: “Headline: Rothstein apologises.”

“What on earth?” het hy saggies gemompel terwyl hy die deur toemaak. Die volgende geluid wat uit die kantoor gekom het, was die harde slag van Rothstein se swaar liggaam wat op die vloer val. Niemand het die slag van die swaar objek wat sy kop getref het, of die geluid van sy liggaam wat die vloer tref, gehoor nie.

Toe Rothstein bykom, was dit steeds nag. Sy hande en voete was vasgebind en hy het teen die glasvensters van sy kantoor gelê. Die vensters was so hoog en so breed as wat die hele kantoor se lengte was. Net as iemand op dieselfde vlak van ’n ander gebou sou staan, sou ’n mens kon sien of Rothstein in sy kantoor was of nie. Anders kon mens niks sien of hoor wat in die kantoor aangaan nie. Dit was die perfekte jagveld vir ’n leeuwyfie soos Isabel.

Rothstein het stadig bygekom en was verbaas om Isabel te sien wat op sy gemaklike leerstoel gesit het en na hom gestaar het.

“Who are you?” het hy gevra terwyl hy sukkel om op haar te fokus.

“That is not important,” het sy geantwoord.

“What?” het hy met verbasing gereageer terwyl hy probeer om sy kop te vryf om vas te stel of dit bloei. “Why am I tied up? You want money. I have about 200 quid in my wallet. Take that.”

Isabel het hom ’n harde skop in sy ribbekas gegee wat Rothstein laat brul het van die pyn. Steeds het niemand niks gehoor nie.

“It’s not about money!” het Isabel woedend terug geantwoord.

“What then?” het Rothstein gevra.

“What do you have against white South Africans?” wou Isabel weet.

“Nothing! Don’t you know I am a white South African myself?”

“Come again?” het Isabel geskok gevra.

“I was born in Johannesburg, raised in Cape Town. I lived in South Africa until 1996.”

 “Why did you leave?” wou Isabel weet, steeds verstom.

“Due to the crime, mostly. Now speaking of crime, untie me!”

“Shut up!” het Isabel vir Rothstein gegrom terwyl sy die pistool uit haar handsak haal en teen sy bakkies druk. Rothstein het sy oë toegeknyp en gevra of sy beplan om hom te skiet. Isabel het hom nie geantwoord nie, maar net gevra: “Why then did you broadcast to the rest of the world false news about white South Africans still being supporters of Apartheid? Creating the image that none of us are willing to build up the country and create opportunities for others without taking away anything from someone else?”

“Lady, you obviously do not understand the history of that country. South Africa is forged on the idea of taking away something from others. Like when the National Party took away my youth and my innocence. Forced me, at the age of 18 into a regiment to serve in their war, a war that was theirs to fight, not mine. Never mine!”

“You did not answer my question, Mister Rothstein,” het Isabel weer vir haar prooi gegrom.

“What on earth has my South African business deals have to do with you?” het Rothstein terug gegrom. Dit was vir Isabel duidelik dat Rothstein self ’n leeumannetjie was. Sy sou haar taktiek mooi moes uitvoer om hom plat te trek. Sy het van haar stoel af opgestaan. Sy het om Rothstein se lessenaar geloop en die verte ingestaar.

“I buried my husband yesterday,” het sy stil gesê.

“My condolences. Now, would you please let me go?” was Rothstein se antwoord.

Isabel het nie vir Rothstein stilgemaak soos wat hy grommend op die vloer gelê en kriewel het nie. Sy het net aangehou om vir hom te vertel oor haar man. Hoe hy homself met ’n pistool doodgeskiet het omdat hy nie werk kon kry nie. Hoe hy vir twee jaar hard probeer het om ’n betrekking iewers te kry. Hoe hy dosyne kopieë van sy CV na maatskappye gestuur het wat vir hom terug laat weet het dat hy net te bevoeg is vir die pos, óf dat hulle nie enige blanke mans kon aanstel nie omdat wetgewing hulle sou penaliseer. Hoe hy nie ’n besigheid kon opbou sonder dat hy ’n gedeelte daarvan sommer net moes weggee aan iemand net omdat hul velpigment die regte skakering was soos die teenswoordige regime dit wou hê nie. Diskriminasie om elke hoek. Mens kan net soveel daarvan sluk voordat jy ingee.

“Lady, I know what discrimination is all about. Do you have any idea how it was to be an English-speaking South African in a pro-Afrikaner defense force during my National Service days? Can you imagine how it felt to live as an Englishman under the National Party regime?”

Isabel het die pistool stywer in haar hande vasgeknyp. Sy het met mening omgeswaai en die pistool op Rothstein gerig.

“Can you imagine, Mister Rothstein, how it feels like to look into the eyes of someone who is desperate for work, but cannot find it! Do you have any idea how it feels to see your spouse slowly collapsing because he feels unwanted and purposeless in a country to which he has given his entire youth! He gave his time, his ambitions, his dreams, his taxes and his labour to a country that he wanted to see flourish, and yet he was classified as being undesirable! Not due to anything he did or said. Merely classified based on an attribute he never had any choice over – the pigment of his skin and the language group in which he was born into. Just to hear how he should be guilt-ridden for decisions made in parliament by, as you say, the National Party regime. To make matters worse, your company’s campaign then started to spread lies of supposedly planned ‘White Control Protocol’ groups that wished to dump South Africa back into the days of grand and petty Apartheid!”

“So what? We were paid to spread the message that the ghost of Apartheid was not dead and buried. It’s an election year, lady! Wake up and realise that ruling parties will do anything in their means to blacken the name of any opposition, no matter if it is a political party or a part of the population. Aye! The National Party also did it with their ‘Swart Gevaar’ campaign and don’t think for a single moment that someone didn’t get rich from that! Yet my previous question still stands: Why am I tied up?” roep Rothstein uit met die hoop dat iemand hom sou hoor. Niemand het nie.

Isabel kon voel hoe die woede in haar opbou. Dieselfde woede wat sy ervaar het toe sy die koerant die vorige dag in Johannesburg bestudeer het. Sy het ’n oomblik geneem om haarself weer in toom te kry. Sy het diep asem gehaal en in Rothstein se oë gekyk. Hy het nie bekommerd gelyk nie, maar woedend na haar terug gegluur. “My husband wanted to leave South Africa and was the prime candidate for a job in New Zealand.”

“So?” het Rothstein geantwoord, “why did he then kill himself if he could go somewhere else like I did? Maybe you should look at yourself as the reason for his suicide.” Met daardie woorde het Rothstein sy doodsvonnis geteken. Isabel kon haarself nie keer nie. Sy het hom oor sy hele lyf begin skop. Die bloed het later by sy neusgate en mond begin uitloop en hy het na sy asem gesnak.

Sy het afgebuk sodat sy in sy oor kon fluister: “The day after your ‘White Control Protocol’ campaign was launched, the New Zealand company called him and said they did not wish to hire any white South Africans anymore. They believed your lies that there was a secret coup planned by extreme white rightwing groups, a coup that was however stopped before it could start, even though no evidence could be found to prove such accusations. No matter what my husband said, they would not listen. When that call was over, he walked towards his desk, took out his pistol and ended his misery moments later. While you were making money from the South African government to polarise the South African population for the sake of the ruling party’s next election victory, people you never met, like my husband, had to suffer and even pay the highest price. Let me ask you this: Did you obtain your revenge for a lost youth?”

Rothstein het nie geweet wat om te sê nie. Hy het verbaas na Isabel gestaar. Sy het sy kop met haar linkerhand opgetel en die pistool in sy mond gesit.

“I ask you again, Mister Rothstein, have you ever looked into the eyes of someone who could not find work?” Rothstein het iets probeer sê, maar dit was te laat.

Die skoonmaker in die teenoorgestelde gebou wat nagskof gewerk het, sou nie kon uitmaak dat die druppels op die vensters van Rothstein se kantoor nie reëndruppels was nie. Isabel het Rothstein se lewelose liggaam, met die warm bloed wat oor die mat vloei, net so gelos. Sy het die toue om sy voete en hande losgemaak en die kleeflint van die sekuriteitskamera se lens afgehaal voordat sy by die kantoor uitgestap het. Sy het die hysbak na die onderste vloer geneem en met die uittreeslag die brandalarm aangeskakel. Vinnig het sy terug in die hysbak geklim en die deure gesluit sodat die sekuriteitswag haar nie sou sien nie. Die wag het by die trapskag ingestorm en homself spoedig na Rothstein se kantoor gehaas toe hy die brandalarm gehoor het. Met niemand in die voorportaal nie het Isabel op haar gemak die hysbak oopgemaak en by die gebou se voordeure uitgestap sonder dat iemand haar gehoor of gesien het. Sy het doodluiters oor Queenstraat geloop en haar weg na die Thames se oewer gevind.

Minute later kon sy hoor hoe die ambulanse hul weg na Rothstein se kantoor vind. Sy het op die oewer gaan staan en die pistool in die rivier gegooi. Die leeuwyfie het haar prooi platgetrek en die karkas net daar gelos sodat elke gedierte kon sien dat sy enige opponent uit haar pad sou verwyder. Sy het stadig langs die Thames-rivier afgestap en gewag vir die oggendson om sy opwagting te maak.

“Na die donkerte kom die lig, na die smart kom die verligting,” het sy saggies vir haarself gesê en weereens liefderik oor haar ring gestreel.

Twee dae later besoek Isabel haar gunsteling koffiehuis in Melville. Sy bestel ’n espresso en vra vir die dag se koerant. Die hoofopskrif lui: “Beeldpoetser dood in Londen, vra glo verskoning.” Sy lees verder:

Emil Rothstein, Suid-Afrikaans gebore Britse miljardêr, is eergister dood in sy kantoor in Queenstraat, Londen aangetref. Hy is vermoedelik geskiet, maar die moontlikheid van selfmoord word steeds oorweeg. Langs sy lyk is ’n briefie gevind met die woorde: “Rothstein apologises.” Dit kan verband hou met sy maatskappy se veldtog wat onlangs in Suid-Afrika geloods is om die regerende party se steun te verhoog ...

Die leeuwyfie het oorwin. Sy kon weer oor haar jagveld regeer, al moes sy dit alleen doen.    

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top