Soos ’n hotnotsgot op ’n jazz-plaat – oftewel, Wat maak Ta’ Ingrid daar ...

  • 0

Die boek van toeval en toeverlaat

Ingrid Winterbach
Human & Rousseau
ISBN-10: 0-7981-4728-8
336 pp
R140

 

 

I

Die boek van toeval en toeverlaat aktiveer Milan Kundera se titel The book of laughter and forgetting. Die boek van iets en nog iets. Ingrid Winterbach se jongste roman is waarskynlik haar mees leesbare roman op ’n storievlak. Die verhaal van ’n vrou, ene Helena Verbloem, wat besig is met ’n projek om alle woorde wat in Afrikaans in misbruik geraak het, op te teken saam met Theo Verwey. Die krisis ontstaan wanneer haar skulpe – ’n pragversameling – gesteel word, en met die hulp van konstabel Modisane word daar gesoek na die skulpe.

Die roman is ’n faux-speurverhaal, ’n sogenaamde oplossing wat gevind moet word vir iets wat verlore/weg is, ’n raaisel wat die leser (saam met Helena) moet oplos.

En hoekom het die dief op haar mat gedefekeer? Is dit bloot om die Markies de Sade te kan betrek? En waarom Ladybrand? En die Steinmeiers?

Die sogenaamde raaisel aktiveer onmiddellik die psigoanalise en Oedipus wat die sfinks se raaisel moet verklaar. Hy doen dit en betree Thebes, die ruimte van die baarmoederlike volgens feministiese psigoanaliste. Die sfinks kan volgens sekere teoretici gelees word as ’n voorstelling van die klitoris.

Onwillekeurig dink ’n mens aan Thomas Pynchon se Oedipa Maas (Oedipus, My ass!) en sy groot romans, V, Gravity’s Rainbow en The Crying of Lot 49, en Deleuze & Guattari se Anti-Oedipus, waar psigoanalise op sy kop gedraai word en woorde dinge, objekte, instrumente word. (Wanneer gaan iemand die verband tussen Etienne Leroux en Thomas Pynchon goed navors? Die gebruik van mitologiese verwysings wat onder die voortstuwende verhaal bruis ...)

Is dit oa “toevallig” dat ons verneem dat Sof na De Sade verwys? De Sade – as ons hom lees via Barthes – is die skrywer van orde: elke oomblik wys uit na ’n ander moment ...

Haar vriendin, Sof Benadé, ’n predikantsdogter, is haar gespreksgenoot in ’n verhaal wat die leser meesleur deur die ontstaan van die kosmos en ander bekende verhale as intertekste.

Soos Franz Kafka, onder andere.

En Darwin, wat hom besig gehou het met wurms in sy laaste dae.

En mierkolonies wat onder die aarde gebou word en wat op hoogs gesofistikeerde wyses funksioneer ... 

II

Die boek van toeval en toeverlaat is eweneens ’n teks wat fenomenologies werk. By die lees van hierdie roman het die Metabletika van JHH van den Berg vir my duidelik na vore gekom. Dit is die leer van die samehang tussen dinge. Breedweg verklaar is daar sekere tye waarin daar by nabaat ’n samehang/verband tussen “dinge” uitgewerk kan word. Toe Freud die onbewuste ontdek het, is Dr Jekyll & Mr Hyde op dieselfde tyd geskryf.

Dit is ’n roman wat fenomenologies werk: dit werk met “dinge”, met “woorde” as objekte. Die gesteelde skulpe is iets waaraan Helena raak om haarself te oriënteer in ’n wêreld van angste, misdaad, toevallighede. Agter elke verlies, verneem die leser dikwels, word ’n ander verlies opgesluit. Dit waaroor ons treur, aktiveer ou, onopgeloste konflikte. Die lang binnespraak – Henry James se Portrait of a lady is ’n interteks waarna die jonge Helena verwys – aktiveer die weggaan van die man by wie sy ’n kind het. So gelees, kom Klaaglied vir Koos en Erf as intertekste na vore: die vrou, weerloos en alleen gelaat, met die man wat ’n stryd buite homself aanknoop. Hier verneem ons dat dit gaan om sy stryd om humanitêre redes. Hy maak die vrou die verwyt dat sy selfsugtig is – ’n fyn kommentaar ook op die skryf van ’n roman wat in wese moet inbeweeg in die primordiale terrein van die self/selfsug en oa James se romans na vore bring waarin die oënskynlik "toevallige" burgerlike daad, soos teedrink en oppervlakkige gesprekke, dieper ontsettings en teleurstellings aktiveer. Hier word ook tee gedrink, maar by Die Sandduin! 

III

Nie alleen word woorde opgeteken nie, maar in ’n belangrike toneel word boeke georden.
Hoofstuk 7 is dan vir my ’n sentrale hoofstuk wanneer ’n mens die roman wil situeer binne die Afrikaanse romankuns. Mevrou Dudu se versoek dat dit alfabeties moet gebeur, hierdie ordening, is snaaks, maar dieper beskou is daar verwysings na Van Melle, Mikro en Etienne Leroux, onder andere.

Een vir Azazel word ’n belangrike interteks, daardie groots-opgesette mitologiese speurverhaal in Afrikaans. Ironies genoeg flits die populistiese roman ’n Bruid vir Welgelegen na Leroux se Welgevonden!

Hierdie vinjet illustreer welke assosiasies daar van die leser verwag word. Soos sy woorde orden, opteken, liasseer: Waar kom hulle vandaan? Wat is die oerbetekenisse wat in hul skuilhou?

Hierdie roman vra vir dieper, meerduidig lees: vir die Freudiaanse "aha"-oomblik wanneer jy ’n interteks ontdek, ’n selfverwysing of ironisering opspoor. Barthes se term lexias kom handig ter sprake: elke lexia bind met ’n ander deel, onderdeel, vinjet.

So is elke skulp ’n klein kosmos, ’n wonderwerk wat "toevallig" ontstaan het ... 

IV

Dit is ’n humoristiese boek. Ek het lanklaas so gelag as by die lees van hierdie roman waarin die absurde so heerlik met ’n weggooilyn of -toneel na vore kom. Op bladsy 64 word Donna Summer se “Hot Stuff” en “I will survive” byvoorbeeld na vore gebring! Sof help Helena om die gewone te begryp: specials by Clicks of ’n geskenkie wat jy kry by afdelingswinkels. 

V

Nabokov se Lolita is ook hier. Vanselfsprekend dan weer ’n inbuig op Karolina Ferreira, nes die verwysing na James Joyce se magistrale roman Ulysses en hoe hy flardes van grappe en alledaagse belewenisse versamel het en opgetower het in sy roman.

Die begrafnistoneel is Leroux waardig in die satiriese opmarse van stakendes wat beskryf word.

Die boek Rut is ’n interteks – die leser tel saam met Rut die koringgerwe van betekenisse op in die manlike domein van die romankuns wat ’n begin, middel, einde verwag.
Daar is die Reis van Sint Brandaan.

Die prente in die Kinderbybel wat assosiasies by Helena losmaak.

Die verhouding met die pa, wat vir die kind lag, is ’n refrein van erkenning en afwysing. Die jong meisie voel verraai wanneer die vader haar honend uitlag en die beskrywing van haar verbeeldingspeletjies is pakkend beskryf.

Tog bly die vader haar treiter en is sy gedurig op soek na die ruimte van sy afkoms.

Sof is ’n gids vir Helena. Daar word nie om dowe neute nie ingespeel op Dante; en natuurlik, op die gids wat begelei en verklaar in Sewe dae by die Silbersteins!

Maar Sof help vertaal/vertel/verduidelik aan die banale wat ons oorspoel, en wanneer Helena soek na nuwe skulpe – wat sal bly bestaan lank na die mensdom verby en uitgewis is – is daar ’n teddieversameling wat getrotseer moet word.

Moet ’n roman ’n einde hê of ’n oplossing vind? word daar gevra.

In hierdie roman beweeg alles in ’n sirkel. Idees, uitinge word herhaal. Soos die dood van die suster, Joets, voortydig weg, self met talent om te skryf, wat die verhouding tussen AS Byatt en Margaret Drabble aktiveer.

Vir my is een van die aangrypendste vinjette die analise van die digter Marthinus Maritz se verhouding met sy moeder en sy geskonde verhouding met Helena en sy vroeë dood. Die man met die misplaaste, verbete lewensdrang. ’n Man voortgedryf deur skuldgevoelens omdat hy sy moeder, wat kennelik ’n insestueuse verhouding met hom wou hê, verlaat en verloën het.

Jaykie, Alverine. Hugo Hattingh wat in die inrigting is, Matroos, Frans, ea word belangrike draers van betekenisse in die roman. Die broer wat terugkeer na sy omswerwinge ...

Dit is ’n roman wat in sirkels beweeg: Dante se sirkels, maar ook die sirkels van ’n skulp ... Die Freudiaanse herhalingsdrif is tersaaklik.

Ons beleef die idees rondom die opbou, bedinking van ’n roman. Die soeke na die juiste woord of oomblik is dit waarmee die verteller/Winterbach voortdurend worstel.

VI

In evolusionêre terme moet die leser self die vergissing uitwerk (p 179): wat behoort, moet dáár wees ...

Die leser betree hier as’t ware die onbewuste van Ingrid Winterbach; haar skrywerswerkswinkel en die onbewuste is, volgens Derrida, ’n argief. ’n Argief sonder liassering. Alles is daar, aanwesig, maar moet gesoek word of kom arbitrêr na vore (Writing and Difference, p 211).

Hy gebruik die beeld van die “originary prints” en dat alles begin met transkripsies of dit wat reeds bestaan.

Die roman buig dus nie net in op die eie skryfwerk (en skilderkuns) van Ingrid Winterbach/Lettie Viljoen nie, maar neem die leser na Kafka, James Joyce, Henry James, Vladimir Nabokov en Etienne Leroux.

En na Virginia Woolf. Die manlike orde word opgesoek – dit is waarheen die skrywer die leser lei. Dit is haar modelle. Woolf se romans wat in ’n sirkelgang bly beweeg soos ’n skulp en die soeke na die kamer van stilte en verbeelding.

Dis blote toeval – soos die saamtrek van verwysings in my lesing in hierdie allamagtige boek. En waarom maak “Wat maak oom Kalie daar” die jonge Helena so hartseer?

Natuurlik is die I Ching ook hier. En wanneer ons hiermee werk, is Jung eweneens relevant in sy uitgebreide studies oor “toeval”, sinkronisiteit ...

Vantevore het sy gewerk met die Tibettaanse Boek van lewe en Dood.

Allamagtig, groots, wonderbaarlik, meesleurend, oorrompelend, briljant.

Bibliografie

Roland Barthes: Sade/Fourier/Loyola. Hill and Wang, New York. 1971/1976.

Gille Deleuze and Félix Guattari: Anti-Oedipus: Capitalism and Schizophrenia. The Athlone Press, Londen. 1983/1984.

Jacques Derrida: Writing and Difference. Routledge & Kegan Paul, Londen. 1978.

Nawoord

By die herlees van Winterbach se boek kom ek toevallig af op ’n vergete boek in my studeerkamer: Peter Quennell se versameling van kundige essays deur ander: Vladimir Nabokov (William Morrow & Co, New York, 1980.) Die boek is ’n huldeblyk aan die groot skrywer, waarskynlik een van die grootstes van die 20ste eeu.

Die binnespraak van hierdie roman is eg, óngekontamineerd – dit is in goeie balans met die beskrywing van die landskap, veral in KwaZulu-Natal en die Oos-Transvaal (Mpumalanga).

Ook die tema van die insestueuse (die verleiding van die jonge Helena teenoor die digter se verhouding met die moeder) verdien verdere aandag. Dit neem die leser vanselfsprekend na die Dora-saak van Freud.

In Quenell se studie word daar ook oor die komiese aspek van Nabokov se werk geskryf – die humor in Winterbach se jongste roman is weliswaar swart humor, maar tersaaklik vir die begryp van die roman.

Die obsessie met skulpe neem die leser vanselfsprekend na Nabokov se obsessie met vlinders – ’n tema wat alreeds in Karolina Ferreira ondersoek is.

In sy beroemde lesing oor Kafka se Metamorfose verwys Nabokov na die dood van die individu. Alles is sterwend, verganklik – ook skoonheid. Hierdie is temas waarmee Helena Verbloem / Ingrid Winterbach worstel: verganklikheid en skoonheid (“On Revisiting Father’s room” deur Dmitri Nabokov in Quennell se studie, p 126).

Nou gaan ek opnuut kyk na Nabokov se Lectures on Literature (Wedenfeld and Nicolson, New York, 1980). Fredson Bowers het die teks versorg en die inleiding is behartig deur John Updike. Hier praat hy oor Jane Austen se Mansfield Park, Charles Dickens se Bleak House, Robert Louis Stevenson se The Strange Case of Dr Jekyll and Mr. Hyde, Marcel Proust se “The walk by Swann’s place”, Kafka se Metamorfose, en natuurlik Joyce se Ulysses.

Gaan kyk ook na die kaart wat Nabokov geteken het om die roete in Joyce se roman te begryp en vir homself te verhelder.

By ’n lesing jare gelede het ek Winterbach besielend hoor praat oor Georges Perec se Life: A User’s Manual.

’n Laaste opmerking: Nabokov het gedigte geskryf en ’n mens vermoed in hierdie roman van Winterbach ’n digtershand ...

Nabokov/Nabokov.
Lettie Viljoen/Ingrid Winterbach.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top