Soos die kraai vlieg, ’n ode aan Bra-skap
Christiaan le Roux het hierdie reisverhaal in 2019, voor die pandemie, geskryf. Aangesien ek sy skrywe op sosiale media gevolg het, en sy Weltanschauung en skryfstyl geniet het, het ek twee kopieë bestel: een vir myself en een vir my pa as ’n verjaarsdaggeskenk. Ek het egter slegs die laaste drie hoofstukke in druk gelees:
Soos die kraai vlieg is ’n reisverhaal wat uit die oogpunt van ’n argitek-pa van drie vertel word. Hierdie pa slaag daarin om sy gesin in Desember op ’n huisverruilingsvakansie na Wallis en Engeland te neem. Uit die staanspoor is dit duidelik dat dit heel moontlik nie die regverdigste ruiltransaksie mag wees nie. In ’n semistroom van bewussynsnarratief geskryf, vertrou hierdie vertelling op ’n aantal literêre trope. Die eerste hiervan is die “konyngat”. Le Roux deel interessante feite met die leser voor die voet soos hulle in sy gedagtes opkom. Hierdie brokkies inligting mag genoop word deur die vreemde landskap, historiese argitektuur, en selfs die verskil in die aard van katte en honde. Dit kom voor asof enige en alle vrae wat die skrywer se gedagtegang betree, soos ’n goue draad gevolg word, wat op sy beurt weer mag lei na nog verskeie ander konyngate. Met hierdie draad spin Le Roux die hele bol wol. Hierdie tegniek herinner my aan ’n lank vergete ondervinding uit my kinderdae, die dag toe ons ons eerste en enigste stel ensiklopedieë gekry het: Die wêreldspektrum. In daardie eerste paar maande nadat die kraakvars kopieë ons huis betree het, sou ek elke middag na skool deur boek na boek blaai terwyl ek alles lees en verteer waarop my oog val. So het ek dan ook goue drade gevolg wat na vele en verskeie lane gelei het. Om na Le Roux se stories te luister het my aan daardie selfde gevoel van onbekende wonder herinner – die konyngate het bekend dog vreemd gevoel. Dit is veelseggend dat Le Roux in sy vertelling verwys na Die wêreldspektrum se aartsnemesis, Die kennis. In die laat 1980’s was elke huishouding óf ’n Kennis- óf ’n Wêreldspektrum-huishouding. Ek bevind my in verskillende realiteite met baie van Le Roux se vertellings. Hierdie teenstrydigheid is simbolies van my verbintenis met Le Roux.
........
Dit kom voor asof enige en alle vrae wat die skrywer se gedagtegang betree, soos ’n goue draad gevolg word, wat op sy beurt weer mag lei na nog verskeie ander konyngate.
........
Hier behoort ek seker ’n vrywaring by te voeg: Ek ken vir Christiaan (Kittie) le Roux reeds van hoërskool af. Tog is ons paaie verdeel deur verskillende skole, en ons vriendekringe is op interessant verweefde maniere gekruis en versprei. Daar was nog altyd ’n vierde, vyfde en sesde graad van skeiding, maar ons was selde op dieselfde tyd in dieselfde plek. Verskillende skole, verskillende ensiklopedieë, verskillende paaie, verskillende geslagte, dieselfde era, dieselfde voorliefde vir literatuur, musiek en popkultuur.
Dit bring my dan by die tweede troop wat Le Roux, met groot sukses, in sy vertelling gebruik, naamlik nostalgie. Indien jy grootgeword het in die 1990’s in die noordelike voorstede van Kaapstad, en in een van die twee sogenaamde rock-hoërskole was wat verantwoordelik was vir die weerbarstigheid van musieklegendes soos Theo Crous en Adriaan Brand van die Springbok Nude Girls, en ook Hunter Kennedy van Fokofpolisiekar en Die Heuwels Fantasties, sal jy aanklank by hierdie vertelling vind. Daardie ander skool het François van Coke geproduseer (ja, ek was vriende met sy suster, die ouer een, in die ander skool – dit sal dan my sesde graad van verdeling wees). Ek is dan ook ewe onoortuig deur die amper nasionalistiese trots wat Le Roux koester vir sy alma mater – ek het immers self skaars my hoërskoolloopbaan aan die ander skool oorleef, en is tans besig om ’n tweede (derde en vierde) noue ontkoming te oorleef, maar dit daar gelaat. Le Roux bied nostalgie as ’n strelende balsem aan. Hy deurkruis die strate van Boston, Oakdale en Chrismar. Vertel in ware Stranger things-styl van Betamax-vs-VHS-gevegte, en videospeletjies speel by die hoekkafee. Le Roux poog hard om teen die Gees van die Goeie Ou Dae te stry, en noem Netflix en Amazon Prime as voorbeelde van die wonders van vandag in vergelyking met Video Den en Mr Video van gister. Die narratief lei tot nog ’n graad van skeiding: Hannes, wat sy familienaam gestand gedoen het op my ma se eetkamertafel. Nee, dit is nie naastenby so opwindend soos dit mag klink nie – ’n ondervinding wat ek dink beide van ons eerder sou wou vergeet, maar nostalgie is ’n tweesnydende swaard, waarop ek self val, tussen die blaaie van hierdie boek.
........
Indien jy grootgeword het in ’n Afrikaanssprekende huishouding gedurende die ’80’s en ’90’s behoort jy baie goed bekend te wees met Herbst se fiktiewe karakter Wimpie van Tonder van Orkney snork nie-faam.
........
Dog laat ons voortgaan met die soetheid van die bekende. Dit kan sekerlik geen toeval wees dat Anrich Herbst die voorlesing van die oudioweergawe van hierdie boek behartig nie. Indien jy grootgeword het in ’n Afrikaanssprekende huishouding gedurende die ’80’s en ’90’s behoort jy baie goed bekend te wees met Herbst se fiktiewe karakter Wimpie van Tonder van Orkney snork nie-faam. Die seun wat oor die rusbank gespring het, sy aandoenlike serenade aan Sonja Conradie en wat ietwat aangeklam betrap is met sy oom se mampoer. Wetend dat Christiaan le Roux en Anrich Herbst ’n hegte vriendskap deel, lei my na die ander groot tema in hierdie boek: broederskap, of eerder bra-skap.
Die tema van bra-skap loop soos ’n pelgrimstog deur die boek. Le Roux vertel op ’n nostalgiese manier van diep manlike vriendskapsbande, en hy verwys ook na die band tussen sy twee seuns. Hier en daar noem hy ’n naam of twee. Sommige van die mense na wie hy verwys, is alombekend, ander nie (selfs my buurman kry ’n kopknik). Die mees treffende vertelling van manlike vriendskapsbande is sekerlik Le Roux se weergawe van hoe hy sy pa onthou. Hulle was verskillend as mans, uit verskillende eras met verskillende wêreldbeskouings, wat mekaar halfpad ontmoet het. Daar is geen spoor van brose manlikheid hier nie, net die eenvoudige eerbare paradoks wat daarna verwys om binne twee verskillende realiteite gelyktydig te bestaan. Die frase uit sy pa se Kersgebed, “Vergewe ons ons menslikheid”, som die gees van hierdie boek miskien die beste op.
........
Die frase uit sy pa se Kersgebed, “Vergewe ons ons menslikheid”, som die gees van hierdie boek miskien die beste op.
........
Vir my as vrou is dit verfrissend om ’n werk so uitsonderlik manlik soos hierdie vertelling te lees. Dit lees maklik, duidelik, helder, gemaklik en bowenal bedagsaam. Die wyse waarop Le Roux oor sy vrou en dogter praat, is saggeaard, sorgsaam en heeltemal anders as die manier waarop hy na sy bra’s verwys. Hierdie opmerking is geensins as kritiek bedoel nie; dit is bloot hoe dit voorkom, soos dit veronderstel is om te wees, ’n subtiele viering van verskil. Die feit dat Le Roux se skrywe nooit demonstratief spoggerig of pretensieus word nie, is merkwaardig. Dit is ’n seldsame verskynsel vir ’n man om ander van die vroue in sy lewe te vertel sonder dat dit soetsappig of oordrewe voorkom.
Broederskap omvat die hele vertelling – almal wat Le Roux ontmoet, is ’n bra, ’n vriend, ’n goeie ou. Natuurlik raak hy gefrustreerd om in die winter ’n hele gesin in Engeland te onthaal. Hy doen dit terwyl hy baie vroeg in die boek erken dat hy nie alkohol drink nie, wat ’n onmiddellike skoot skuldgevoel en mislukking in hierdie vrouehart ontketen, maar dit daar gelaat.
........
Die sagmoedigheid en vrygewigheid van gees waarmee hierdie boek geskryf is, vloei oor die bladsy tot in die leser se psige. Hy mag dalk sommige oortuig; ek bly skepties.
........
Ten slotte: Die literêre apparaat wat hierdie boek omvat, is ’n volkome Zen-filosofie van leef en laat lewe. (Geen oordeel oor jou skemerkelkie-G&T nie, Laurette.) Hierdie filosofie gaan gepaard met ’n subtiele utopiese optimisme. Natuurlik is ons nou beter daaraan toe as wat ons drie dekades gelede was. Dit is byna seker dat ons ’n geneesmiddel vir kanker sal vind, maar miskien nie wêreldvrede nie – of moontlik andersom. Die mensdom bevraagteken sy bestaan sedert die vroegste tye, en daarom is ons geensins anders nie. Le Roux is ’n utopiese realis. Hy skryf pragtig en gebruik volkome bewonderenswaardige literêre instrumente om sy filosofie te illustreer. Die sagmoedigheid en vrygewigheid van gees waarmee hierdie boek geskryf is, vloei oor die bladsy tot in die leser se psige. Hy mag dalk sommige oortuig; ek bly skepties. Soos dit hoort, soos ek nog altyd was. Dit is nie te sê dat ek nie hierdie vertelling beide deur Anrich Herbst en toe, later, die laaste drie hoofstukke in gedrukte formaat, baie geniet het nie. Waarom moes ek noodgedwonge Herbst se strelende stem vir die fisiese ervaring van my oog oor die blad verruil? Ek het die laaste drie hoofstukke in ’n plastiekstoel in ’n hospitaalsaal gelees, want my seun het die boonste lid van die middelvinger aan sy regterhand gebreek. ’n Veelseggende einde aan ’n wonderlike storie.
Lees ook: