Sons of Settlers: "Ons behoefte is om net te jam"

  • 0

Die plaaslike “melodic folk”-groep Sons of Settlers het al duisende aanhangers hier gewen, maar hul visier is ook elders ingestel – onder meer op Europa en spesifiek Duitsland. Le-Roi Nel van dié groep beantwoord ’n paar vrae.

Goeiedag, Le-Roi. Hoe's dinge deesdae?

Dinge is ’n kombinasie van gefokus en deurmekaar, opwindend en stresvol. Ek het besluit om ná tien jaar van studeer in ’n finansiële rigting my studies opsy te stoot en nét op musiek te fokus. Die vooruitsig van eendag ’n gemaklike posisie in ’n groot finansiële firma met ’n gemaklike salaris en aftreepakket te ruil vir die onbekende, onversekerde lewe in die musiekbedryf is stresvol, maar ook opwindend. Ek is verveeld met die korporatiewe wêreld, ek wil getoets word. Ek wil my idees van my bestaan en toekoms uitdaag. Ek wil ook my eie pad uitkerf en in hierdie stadium van my lewe kan die korporatiewe finansiële bedryf dit nie bied nie.


Foto: Marvin Strauch

Geluk met die onlangse vrystelling van Sons of Settlers se nuwe album, Lullabies for the Restless. Dit is ’n album stampvol goeie vervaardiging, goeie vermenging, kief kinkels en bowenal bliksems goeie songs. Hoe het die skryf-, samestelling- en opnameproses vir Sons of Settlers verloop? Waarop is julle spesifiek trots, en is daar enigiets wat julle terugskouend (al is dit “early days”) anders sou wou doen?

Baie dankie vir die komplimente! Die skryfproses was heel organies. Ek en Gerdus het hierdie groep gevorm as deel van ons behoefte om net musiek te maak, met ander woorde, net te jam. Ons baat meer uit die vryheid van bloot te speel en ons liedjies vind natuurlik vorm as ons nie te behep raak met die idee van lirieke neerpen nie. Hoe minder struktuur daar is, hoe makliker kom ons idees na vore. Dis soos as ’n mens djembe speel: hoe meer jy fokus op die ritme, die beat, hoe meer foute maak jy. Hoe meer jy net laat gaan en daai drom met alles in jou slaan hoe makliker vind jy ’n natuurlike ritme wat binne jou weerklink.

Die meeste van die snitte op die album het hul basiese vorm in ons bandroom gevind. Goeie bottels wyn met geen verwagtinge in terme van ’n spesifieke uitkoms nie was ons resep. Party dae het ons daar uitgestap sonder enige nuwe idees en ander dae het ons sommer ’n nuwe liedjie in sy geheel geskep. Die beste manier is om net aan te hou skryf. Kreatiwiteit moet beoefen word en daag nie net skielik eendag voor jou deur op nie.

Ek is spesifiek trots op hoe die album sy live element behou het. Op al die vorige albums waarby ek betrokke was, is elke element afsonderlik opgeneem. Elke lid het sy kans gekry om afsonderlik sy rol vas te lê. Dié album is nie só opgeneem nie. Ons het almal saam en op dieselfde tyd opgeneem. Om as ’n individu op die pols van ’n metronoom te speel, is een ding, maar om in ’n tuisateljee met nie die beste klankafsondering tussen die kamers nie, almal op click te probeer speel en vir mekaar se foute probeer compromise, was heeltemal ’n ander storie. Vir my was dit die moeite werd om dit anders te doen en ek kan die verskil in die musiek voel. Ons het steeds sekere elemente weer opgeneem, maar die basis is live.

Dié is ons eerste album as ’n groep, maar nie ons eerste album as musikante nie. Sekere goed het dus langer geneem. Ons het verskillende metodes probeer in terme van opnames, vermenging en mastering. Ongelukkig het dit baie tyd geneem om hierdie steekproewe te doen. In die toekoms gaan dit wel die proses vir ons vergemaklik, maar met hierdie opname was dit soms ’n frustrasie en by tye wou ons net die album klaar en verby hê.

Dis interessant dat byvoorbeeld "Stay Together", wat al twee jaar gelede gesurface en vir groot opwinding gesorg het, nou van voor af deur julle opgeneem is vir die album. Waarom die heropnames, en waarom het dit so lank geneem vir die snit om op ’n album of uitreiking te verskyn? Heelwat mense wag al lank vir dié album van SOS ... is daar ’n spesifieke rede hoekom die wag so lank was, of wat is jul filosofie in die opsig van "strike while the iron is hot" versus die tyd vat en iets stewigs saamstel, en hoe word dit volgens jou weerspieël in Lullabies for the Restless?

SOS het twee jaar gelede met ’n projek begin wat ons weer in die toekoms sal verder voer. Hierdie projek was om van ons musiek, of die musiek van ander kunstenaars, live met die pragtige landskap wat Suid-Afrika as agtergrond bied, op te neem. Hierdie konsep sluit aan by die idee van wie ons as Sons of Settlers is en só uit te beeld waar die verskillende groepe gesettle het. Hierdie konsep kan ook in “to yesterday” gesien word, waar ons die voorstedelike gedeelte uitbeeld. Ons het “Stay Together” twee jaar gelede in Kalkbaai opgeneem om die eerste vorm van setlaars uit te beeld – die seevaarders. Dit was nie iets wat ons vooraf opgeneem het, eerder ’n regstreekse optrede met geen betrekking op albumopnames nie. 

SOS het baie verskillende tegnieke getoets en ons voel ons het nou die wenresep in terme van opnames, vermenging en mastering gevind. Ongelukkig het dít tot die lange wag gelei. 

Ek glo absoluut om die yster te smee so lank dit warm is, maar ek glo ook die hele pakket moet reg wees wanneer ’n mens die skuif maak. Ons voel as ’n groep steeds nie asof die album werklik amptelik vrygestel is nie. Ons wou eers die resep perfek hê voordat ons dit wou blootstel.

Die snitte op die album is grootliks radio- en luisteraarsvriendelik (bedoelende, vreemdeling-luisteraars sal nie sommer skrik nie). Tog is daar elemente wat dui op ’n meer prettige, bykans waaghalsige inslag – byvoorbeeld die lied "Trippen' shit". Het julle met die samestelling van die album en die skryfproses enige mikpunte gehad in terme van dié balans? Hoe belangrik is dit vir ’n album om albei elemente te bevat?

Daar was geen plan met die samestelling van die album nie. Ons het bloot al ons materiaal op daardie gegewe tydstip opgeneem en die liedjies wat ons die beste verteenwoordig op die album geplaas en die res vir moontlike B-sides opsygesit.

’n Element van ons album wat ons reggekry het, is variasie. Die album beweeg deur verskeie genres. Weer eens was dit nooit ’n doelstelling om verskillende genres aan te pak nie, maar meer iets wat natuurlik en organies gebeur het. Dit was ’n geval van al die musiek wat die verskillende lede toe geluister het en ons uiteenlopende musikale agtergronde wat ons hierdie genres laat invaar het om ons spesifieke klank te ontdek.

Elke album is uniek en daar is geen spesifieke wenresep wanneer dit by kunstenaars kom nie. Ek praat nou nie van die massavervaardigde worsmasjien, geldmaak, siellose nonsens nie. Wat ’n album suksesvol maak, is as mense die kunstenaar kan voel. As ’n mens kan voel die kunstenaar het iets van homself agtergelaat wat heeltemal uniek is van daardie groep of persoon. Wat jou liries suksesvol maak, is as jy ’n konsep, emosie of gevoel op ’n basiese menslike vlak kan kommunikeer. Dit moet vir die luisteraar voel asof hy of sy self die skrywer van die lirieke kon gewees het. 

Die "melodic folk"-genre is sedert die deurbraak van groepe soos Mumford & Sons, die Lumineers en Edward Sharpe-hulle besonder gewild (en natuurlik sedert die veel vroeëre deurbraak van ander melodic folk-groepe), en soos enige gewilde genre loop dit die gevaar om "saturated" te word. Ervaar julle enige druk in hierdie opsig – dat daar talle bands is wat die genre betree en dat ’n mens méér moet doen om uit te staan? Is bedonnerde songs genoeg, of hoe moet ’n mens maak om spesifiek in ’n bedryfperspektief seker te maak die aandag word getrek? Hoe wissel dié oorweging in terme van opnames en live optredes, en hoe pak julle dit aan?

Dis meer ’n spesifieke klank wat deurdrenk word. As ons dieselfde liedjies as Mumford gaan begin skryf, gaan ons sukkel om ’n bestaan te voer, daarmee stem ek 100% saam. As jy goeie liedjies skryf en nie ingee tot ’n tydelike tendens nie, sal jy altyd relevant wees en vry van beknop in ’n genre te voel.

Melodie is koning en ritme is baas in Sons of Settlers. Die vorm en genre waarin die liedjies geskryf word, word bepaal deur die melodie en daardie melodie word nie noodwendig deur ’n stem vertolk nie. Ons het deur die lang opnameproses gevind ons wil op die melodie fokus. Alles moet rondom dit vorm. In plaas van ’n kitaarsolo of ’n drum roll wat teen die melodie baklei om sy plek te vind, moet die elemente die melodie versterk deur wat afsonderlik gespeel word. Tweedens, wat gespeel word, moet die gehoor wil laat dans, al is dit ’n foot-tap of ’n knieg wat gepomp word. As daar ’n kitaar-rif gespeel word, moet dit die beat beklemtoon of ’n teenritme wees wat met die beat saamsmelt. Hierdie twee konsepte het ons nog nie vervolmaak nie, maar dit is iets wat ons opgewonde maak oor die nuwe liedjies wat ons skryf en wat die fokuspunt gaan wees in ons toekomstige skryfstyl.

Sons of Settlers voel nie noodwendig druk in terme van om in ’n deurdrenkte mark te beland nie. Ons gaan ons nooit alleen in een genre en een klank bevind nie. Ek weet self nie wat die wenresep is vir ’n groep om groot sukses te bereik en in die kollig te wees nie. Al wat ek wil doen, is goeie liedjies skryf en elke dag ’n beter musikant word. Ek het vir lank studeer en ’n verdeelde lewe geleef. Nou wil ek selfsugtig wees in terme van my ontwikkeling as ’n musikant. Dít beskou ek nou as ’n maatstaf vir sukses en ’n doelwit wat ek wil bereik.

Die oorweging tussen live en ateljee-opnames is ’n moeilike een. Ons wil nie sekere liedjies overplay nie. Ons wil nie live opnames van liedjies maak wat ons reeds ’n musiekvideo voor beplan nie. Ons wil ook nie live opnames van nuwe liedjies maak totdat ons gereed is vir die ateljee nie, anders gaan dit weer ’n geval wees waar mense vir twee jaar vir ’n album moet wag. In terme van live optredes probeer ons verskillende tegnieke om dit uniek en vars vir ons en die gehoor te hou. Ons het byvoorbeeld op ons Playing for Change-toer al ons liedjies se name op klein stukkies papier geskryf en in ’n hoed gegooi. Tydens die optrede het ons die hoed in die gehoor omgestuur en wat ook al die gehoor gekies het, moes ons speel. Dit was baie interessant vir ons en die gehoor. Die vloei van ons set was noodwendig nie die beste ooit nie, maar die interaksie tussen ons en die gehoor was ’n groot sukses. ’n Mens moet dit so vars en uitdagend hou vir jou as ’n musikant, anders raak jy verveeld en vasgevang in ou gewoontes.

Julle het pas teruggekeer van ’n toer in Europa. Luidens die mediaverklaring het dié toer drie maande geduur. Man, dis ’n lang toer. Is dit moontlik tekenend daarvan dat jul visier eerder op die buiteland as Suid-Afrikaanse gehore gestel is? Hoe het die toer in die algemeen vir julle verloop? Hoe het die verbinding met die Duitse groep Riders Connection ontstaan?

Wel, drie maande is ’n lang toer. Gelukkig was dit nie die geval nie. Ek en Gerdus het vir die eerste twee maande op ons eie in Berlyn gaan bly. Die drummer en baskitaarspeler het net vir die laaste maand by ons aangesluit. Ek en Gerdus het vir die eerste twee maande op die kombuisvloer van die hoofsanger van Riders Connection geslaap. Sons of Settlers en Riders Connection deel ’n bestuurder, JP Enderli. Hy het ons gekontak en voorgestel ons klank sal meer suksesvol in Europa wees. Ek en Gerdus het toe besluit om vir die volle toelaatbare driemaande-toeristevisum aansoek te doen om die meeste uit die Europese avontuur te put. Ná ’n lang gesukkel, ’n berg papierwerk en heen-en-weer het ons die nodige visums ontvang.

Musikante maak daagliks op die strate en in die parke van Berlyn musiek. Dit was ’n ongelooflike ervaring om te sien, veral die feit dat jou gehoor met elke verkeerslig verander en jy as ’n musikant jou optrede en liedjiekeuse daarvolgens verander en jou sukses so kan bepaal.

Die groot verskil wat ek in die gehoor gevind het, kan ek die beste verduidelik deur ’n voorbeeld wat ek daagliks op die strate van Berlyn gesien het. Ons het gesien hoe ouers hul kinders vanaf die ouderdom van drie jaar kultiveer om geld in die kitaarbokse van straatmusikante te gooi. Ongeag die gewilligheid van die kind, sal die ouers hulle beursies leeg skud van hul bruin sente, dit in die kinders se handjies stop en hulle stamp in die rigting van die kitaarbokse soos een wat met sy voete aan die grond vasklou asof hy by ’n afgrond afgestamp word. Van jongs af word hulle geleer om die kunste te ondersteun en hoe ’n mens jou dankbaarheid wys vir die straatmusikante wat die strate meer kleurvol vir die publiek maak.

Die toer met die volle band was baie suksesvol. Weer eens is daar ’n verskil in terme van venue-eienaars oorsee as ’n mens dit met Suid-Afrika vergelyk. Etlike eienaars by wie ons gespeel het, het altyd vir ons meer gegee as wat oorspronklik ooreengekom is, al was die venue leeg en hulle amper geen geld die aand gemaak het nie. Asof hulle die waarde heg aan die energie waarmee ons hul venues gevul en ingekleur het. Dit het ek nog nooit voorheen ervaar nie. Drank, kos en akkommodasie is altyd deel van die pakket en ononderhandelbaar, weer eens nie altyd die geval in Suid-Afrika nie.

Dit is nou opgevolg met ’n toer in Suid-Afrika wat teen die Suid- en Ooskus afgeloop het. Hoe het dit verloop? Hoe ervaar julle die verskil in ontvangs tussen Suid-Afrikaanse en Europese gehore? Is daar ’n noemenswaardige verskil in wat Suid-Afrikaanse en Europese musiekaanhangers en -liefhebbers wil hoor, en indien wel, hoe lyk daardie verskil vir jou?

Ek en Gerdus het hierdie toer gereël met ’n paar goed in gedagte. Die een ding was om die toer as ’n geleentheid te gebruik om van ’n paar van ons gunstelingplekke langs die kus afskeid te neem – nie permanent nie, natuurlik, maar miskien vir ’n jaar of twee. Die ander doelwit was om vir die Duitsers die skoonheid van ons Ooskus en die mense van Suid-Afrika te wys. Ons was baie suksesvol met albei van hierdie elemente. Elke liewe oop datum tussenin ons toer was vinnig opgevul met ou en nuwe vriende wat ons teruggenooi het na hulle venues toe. Ons is nou behoorlik gaar getoer, maar elke oomblik was die moeite werd. Die Duitsers het ’n gevoel gekry van waar ons as musikante vandaan kom en hulle was baie geskok, om die waarheid te sê. Die Duitsers het almal op die strate begin en hulself opgewerk na professionele musikante wat feeste en goeie klubs in Switserland en Duitsland speel. Ons het hierdie hele toer met ons eie sound-rig rondgetoer en moes elke keer ons eie klank uitlaai, opstel, klanktoetse doen, optree, oppak en weer terug in die motors en waentjies laai voordat ons kon huis toe gaan. Kos en verblyf was minimaal voorsien, net by spesiale plekke soos Wildspirit Backpackers in Nature’s Valley. Vir die Duitsers was hierdie hele storie van self alles reël en doen net te veel moeite vir die klein betalings wat ons ontvang het.

Daar is definitief ’n verskil in dit wat Suid-Afrikaanse en Europese musiekaanhangers en -liefhebbers wil hoor en op reageer. Riders Connection was byvoorbeeld na my mening baie beter ontvang in Suid-Afrika as wat ek in Duitsland gesien het. Riders Connection maak meestal reggae-musiek met die hoofsanger op akoestiese kitaar, ’n baskitaarspeler, en ’n beatboxer. Reggae in Duitsland is groot as gevolg van suksesvolle groepe soos Gentleman en Seed, en as gevolg van die straatmusiekkultuur in Berlyn is beatboxing in musiekgroepe redelik algemeen. In Suid-Afrika is beatboxing redelik onkonvensioneel in musiekgroepe en ’n mens kon in die reaksie van die gehore sien dit was iets spesiaals.


Foto: Yannick Tiefenthaler

Hierdie Playing for Change-toer sluit ook ’n humanitêre uitreikelement in. Dit word vlugtig in die persverklaring vir die toer beskryf, maar ek sal jou eerder laat vertel wat dit alles behels. Hoe het julle daarop besluit, wie moes julle almal nader, wat presies behels dit en dies meer? Wat beteken dit vir Sons of Settlers en ook vir Riders Connection?

Die naam is ’n speling op die kultuur wat ons in Berlyn gesien het deur op die strate vir kleingeld te speel, sowel as die minimale betalings wat vir ons aangebied was deur sommige van die Suid-Afrikaanse venues. Dan wou ons ook ons musiek oor die vakansietyd vat na die mense toe wat nie musiek oor die feestyd sou ontvang het nie, soos kinderhuise, tronke, ens. Dit was ongelukkig moeiliker as wat ons vooraf gedink het. Ons het vir ’n kinderhuis in Philippi gespeel, sowel as ’n kinderhuis in Du Noon. Ons wil baie graag mense toegang gee tot instrumente. Elke keer wat ons vir hierdie kinders gaan speel het, was hulle so opgewonde oor die instrumente en ongelooflik geïnteresseerd. Elkeen het die geleentheid aangegryp om ’n bietjie tromme of kitaar te speel. Dit was ’n ongelooflike ervaring wat ek definitief meer deel van my musiekloopbaan wil maak.

Lede van Sons of Settlers was vroeër in suksesvolle groepe soos Foto Na Dans en New Holland. Wat het julle geleer uit die vorige projekte wat julle nou toepas in die nuwe strewe? Is daar spesifieke hoogte- of laagtepunte uit daardie ervarings wat jou laat dink "Nooit weer nie" of "Ja, ek wil weer dáárdie gevoel kry"?

Ek het baie geleer van professionaliteit, veral omdat ek die voorsanger was. Ek het geleer dat my medegroeplede se hele ervaring van die optrede afhanklik was van my en my instrument. Ek moes my instrument oppas en die musiek eerste sit, voor my eie behoeftes. Ek het ook geleer dat sukses iets is wat innerlik erken word en nie uiterlik bereik word nie. Wat ek daarmee bedoel, is: die erkenning wat ’n mens van ander mense ontvang, is nie wat ek as sukses definieer nie en sukses is iets wat vir elke persoon verskil. Die laagtepunt van my vorige projek was seker toe ons ophou jam het en net vir optredes rehearse het. Dit was juis toe dat ek en Gerdus mekaar gevind het en ons behoefte om net te speel vir speel ontdek het. Dít het natuurlik gelei na die vorming van Sons of Settlers.

Noudat Lullabies for the Restless vrygestel is, en wanneer die toer afgehandel is, wat is die volgende mikpunt vir Sons of Settlers? Wat is die nabye en verre planne vir die band?

Die volgende mikpunt vir Sons of Settlers is om ’n kunstenaarsvisum vir hopelik twee jaar te kry en toegelaat te word om wetlik in Berlyn te kan geld maak. As dit gebeur, gaan ons selfsugtig wees en net vir onsself musiek maak en as musikante groei. Ons wil ook aan ’n nuwe album werk. 

Wat is die sin van die lewe?

My lewensfilosofie is eenvoudig: Don't be a d**s. Mense sal altyd selfsugtig wees en net na hul eie belange omsien. Dis fine. Dis ’n primitiewe instink en oorlewingstaktiek om net vir jouself uit te kyk. Die groot probleem is wanneer jou selfsugtigheid ander mense se lewe verarm. Dit kan emosioneel, fisiek of ekonomies wees. Ek glo in die “invisible hand”-teorie van die ekonoom Adam Smith – die groep sal dikwels meer baat as elke individu sy eie belange nastrewe in plaas van om elke keer te doen wat hy of sy dink die groep die meeste sal baat. Ek stem saam met Smith – ek sou net byvoeg dat jy nie ’n d**s moet wees terwyl jy jou eie behoeftes nastrewe nie. 

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top