Sonnet

  • 0

Vir Gerrit Komrij & Charles Hofman

Die tuin van G & C het veel te bied:
druif, olyf en ’n vywer in die son
— niks laat dink aan Holland van waar hul kom —
en groen berge wat teen die blou verskiet.

Die huis van G & C het veel te bied:
in die kelder wyn van eie oorsprong
en boontoe boeke tot aan die plafon.
Wie hom hier verveel — godweet — leef verniet.

Gerrit & Charles het mekáár veel te bied:
as hulle nie tot skryf of skilder kom,
sing hulle smartlik saam ’n lewenslied.

Ons het die kuier, G & C, geniet —
selfs al was daar meer mis en reën as son.
Vriendskap is veel; ’n luukse die verdriet.

    Vila Pouca da Beira, Portugal
    November 1998

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top