
Foto: Canva
Sonnet vir die reën
Die westerson se skilderwerk in rooi en geel
word met ’n raam van strepiesreën omring.
In die skemerooste begin witblou ligte speel.
Oefenlopies vir die ou skermutseling
van lig en nag wat kom. Skerp dolke sal die nag
se donker bors aan repe skeur,
tot weer ’n blye nuwe dag
’n stil mis donsigwit sal kleur.
Vannag kry elke blaar ’n silwerkroon
om dankbaar aan die eerste lig te toon.
As ek môre deur die skoonheid stap, o Heer,
van helder druppels suiwer lig
wat glinster op elk blaargesig
Sal U my weer en meer van U groot liefde leer?

