Sonia Cabano, ek en Bruce Springsteen

  • 1

Sonia Cabano (foto: YouTube)

.......

Want jy was een van ons. 'n Lewensgenieter. Maar meer nog, een met vuur in haar are. Een met kaiings en moerkoffie in haar bloed. Die vrou wat pampoen en perlemoen sexy gemaak het.

........

Ek het jou in 2007 vir die eerste maal ontmoet. Een van jou kookboeke, Kombuis, het pas verskyn en jy was ateljeegas by die televisieprogram waar ek destyds gewerk het. Ons skiewies se pet hate was om die bekendes rond te ry. Niemand wou dáái trippies doen nie. Ek het die betrokke dag die kort strooitjie getrek en met ’n lang lip lughawe toe gery.

Bruce Springsteen se Magic het toe nét uitgekom, en as jy my goed ken (of nie eers so goed nie), sal jy weet dat ek graag vir meneer Springsteen inspan om die langpad korter te ry. So vat ek en Bruce die pad om jou te gaan oplaai. Die enigmatiese Sonia Cabano.

Jirre, jy was intimiderend mooi. Daar was ’n loslittigheid in jou stap wat mens sweerlik mal sou maak as jy te lank sou staar. Daai donker oë en breë glimlag het oral in tydskrifte en op televisie gepryk, letterlik die wêreld vol. Jy het láter, by een van jou mooie kinders se matriekafskeid, vir my gesê dit was eintlik maar tough vir ’n meisie van die Vrystaat.

Terug in die kar. Ek vra versigtig of jy al die nuwe Springsteen gehoor het? Jy het nie, sê jy, en ek maak ’n bietjie harder. Ek sien uit die hoek van my oog hoe jy glimlag. ’n Smile so wyd soos die Here waarin jy waarskynlik nie in geglo het nie se genade. Ons bond ’n stukkie oor my boy Bruce en skielik is die pad nie meer so lank en swaar nie. Jy praat lekker kak met my in jou Brandfort-bry. Rock ’n roll en kos is immers bondgenote van lewensgenieters soos ons. So het ek gedink. Jy skryf daardie aand in my kopie van Kombuis: “Kos is Koning” en ek verbeel my ons het nog ’n stoute grappie daaroor gemaak.

Fast forward tot binne ’n ander lewe en dekade en provinsie in. Ons paaie kruis weer, op ’n onwaarskynlike plek. Ek begin werk as bemarker vir die skool waar jou kinders is en sommer al in week een loop ek jou in die ontvangslokaal raak. “Jy het Bruce vir my gespeel. Hoe sal ek jou ooit vergeet.”

En vir vier jaar lank sien ek jou amper maandeliks. Soms elke week. Partymaal het jy kom groet, ander male het ek jou loslittigheid uit my kantoor sit en dophou terwyl jy een van die sekretaresses vermaan oor ’n ding. Ander kere het jy deur die venster vir my gewaai. Op Facebook was dit minder formeel. Daar het ons gelag vir mekaar se grappies, kommentaar gelewer op mekaar se skrywes en selfs ’n keer of drie sommer lekker baklei. En jy kón lekker baklei. Jy het sterk opinies gehad. Vuiste gebal vir die underdog, jou sê heel moeiteloos gesê. Maar soms, as ek doodeerlik moet wees, het ek jou inskrywings op sosiale media gelees en gewonder wie regtig agter die woorde en die kamera se vleiende lens skuil.

Ek het jou in 'n jaar nie gesien nie. Hoe kon ek? Covid en 'n mal, stukkende wêreld maak dat ek nou sit en wonder watter dag ons paaie die heel laaste keer gekruis het. Ek kan nie onthou nie. Ek onthou wel dat ek die laaste ruk gewonder het hoekom jy so stil is op Facebook. Hoekom jy nie meer fight nie. Hoekom jy nie meer rock ’n roll op jou wall post nie.

Want jy was een van ons. 'n Lewensgenieter. Maar meer nog, een met vuur in haar are. Een met kaiings en moerkoffie in haar bloed. Die vrou wat pampoen en perlemoen sexy gemaak het. Die ongetemde. Die wilde een. Hard. Hartseer. Vrolik. Uitgesproke. Snaaks. Sag. Sonia.

Magic.

Rus in vrede.

 

 

  • 1

Kommentaar

  • Adriaan Oosthuizen

    Dis 'n pragtige storie oor Sonia. Ek het haar vir lank nie gesien nie en is nou baie spyt dat ek nie meer moeite gedoen het nie. Spyt kom altyd te laat in hierdie lewe wat in 'n oogwink verbyvlieg. Bob Dylan het gesê: "Time is a jetplane. It moves too fast."

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top