sondoop

  • 0

vir Lize – Nkoma, Malawi

jou hare en voete
was die kleur van naeltjies
in flou lig van die son
wat glip deur die kombuis
was moeders soos kalbasse
rond aan't klots en klets
op gebreide boerbokvel

iemand het die werf
met 'n stokbesem gevee
en die rietmat oopgerol

'n ouvrou met blaartjies
in hoë wange gekerf
het grondbone vir ons gegee
en kookeiers vir die langpad

haar oogwitte 'n dooiergeel

onthou jy die wagters het gevloek
toe jy die bok-ooi losknoop
sodat sy vry kon wei?

die mense het gesê
jy is die klip by die spruit
waar donkies drink
en roofvoëls bad;
bidsprinkaan tussen jou tone,
geitjies wat op jou voorarm paar

maar ons het weggehol
verby ses seuntjies in 'n kring
wat 'n groen papaja deel
en 'n man met sweetblink slape 
het derms oor 'n vuur gebraai

my woorde was te jonk
vir die suigling wat rits
op sy ma se rug 
- brommers tros om die oë -
en die twaalfjaarkind
met haar baba, Chinsinsi,  
wie se skuins mond saggies skel
toe ons vra dat sy vertel
waarom die naam dan “my geheim” is

ons het handeviervoet
oor Nkhomaberg geklim
en afgekyk na mielielandjies
se verwaaide klossiesbaard 
en swenkende paadjies
en na die wolke en die wind

Katri, is God in dié wolk?
het jy skielik gevra
toe dit lyk of iemand hemel toe is

die laaste oggend langs die meer
het ons gehoor in die ooste
is 'n Man vermoor
en op die horison het die bloedspoor
verraai dat Hy eeue om die aarde loop
in die hoop dat die vissers van die skuite
of die visarende of skare
hulself soos jy
in die son sal doop 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top