Soms gaan kuier ek nog by hom

  • 4

Foto: Canva.com

moffie s.nw., moffies; moffietjie.

Al begin die hemele souskluitjies reën, beloof ek myself elke keer ek sal nie weer vir die kind gaan kuier nie. Dit is onnodig en bring niemand niks in die sak nie.

Ag, dan is daar skaars praatjies van motreën, wat nog te sê van souskluitjies, en ek is op pad om die kind te gaan soek. Sondag gaan kuier ek vir die kind, Maandag begin ek groente eet. Dit is maar net hoe dit is. Ander doen dit ook, troos ek myself.

Die een dag gaan staan ek net by die ogiesdraad langs die speelgrond van sy alma mater. Ek wil hom nie steur nie, ek wil net vir ’n rukkie kyk. Ek is bly om te sien hy het ’n maatjie. ’n Vriend is soms nader as ’n broer, sê Spreuke.

“Jy’s ’n moffie, nè,” hoor ek haar vra-sê.

Haar stemtoon verklap dat sy niks wreedaardigs daarmee bedoel nie – dit is bloot ’n waarneming. Haar pa het die woord al gebruik en nou sien sy vir die eerste keer een. Soos die kameelperd uit haar storieboek wat lewensgroot op haar oom se wildsplaas in die pad staan. Haar observasievernuf versprei vinniger deur die Sub A-Eendjieklas as onderhandelings vir sywurms. Ek hoop maar net dat die arme bloedjie dalk nie die woord verstaan nie. Maar woorde is soos die episodes van ’n sepie: jy kan ’n paar mis, maar nog steeds die draad later optel. Iemand het die woord op ’n halsband graveer en om sy nek kom hang. Dit skaaf ’n bietjie.

Van waar sy op ’n ry trappies staan, hoor ek hoe ’n onderwyseres hom heftig berispe omdat hy waaragtig alweer laat is vir die ry ná pouse.

“Jy gaan badkamer toe gedúrende pouse,” skel die opvoedkundige geraamte.  

“Jy wag nie tot die klok lui nie.”

Ek kan sien dit skaaf aan hom, maar dit is seker nie heeltemal haar skuld nie. Hoe moet sy ook nou weet wat gebeur met moffies as daar ander kinders in die badkamer is?

Hy gee vir my genoeg opdraande vir ’n leeftyd. Die kind. Dan kry ek hom versteek agter ’n asblik langs die skoolsaal. Dit steek ook maar net-net die pokkellyfie weg. Ek los hom maar daar – hy sal later self uitvind dat biblioteke, trappe en pawiljoene beter skuiling bied. ’n Mens kort donkerte vir wegkruip.

Dan lieg die kind weer vir die LO-onderwyser en sê hy het sy sportklere by die huis vergeet.

“Hy jok, meneer! Hy is ’n moffie. Hy wil eerder die meisies se kleedkamer gebruik!” skree iemand se nasaat. As die onnie die opmerking gehoor het, wys hy dit nie. Dit skaaf.

“Hoekom praat jy so snaaks?” vra ’n bemoeisieke snip hom eendag.

“Hoe bedoel jy?” vra hy.

“Soos ’n moffie – hoekom praat jy soos ’n moffie?”

Dit skaaf.

“Kyk, hy loop soos Lily van Egoli!”

Almal lag.

Dit skaaf.

Ek sien hom vanaf die busstop huis toe hardloop, Dalene Matthee se woorde loodswaar in sy tas. Sy hare te lank, sy gesig ’n sproeier. Die stempel van ’n matriekseun se vuis brand rooi op sy rug.

Telkemale sê ek vir myself ek sit nie weer my voet naby daai kind nie. Kyk, dit is vir seker nie alles sleg nie. Hy het ’n ongelooflike verbeelding en kan in die loop van ’n enkele middag wissel tussen suksesvolle sakeman en wêreldberoemde skrywer. Die kind is ’n goeie ouboet en, ten spyte van sy tekortkominge, beskik hy oor ’n skatkis van sorgsaamheid. Die goed kom egter nie sonder die kwaad nie, so dit is beter om maar net die hele ou spul te vermy.

Grootmense kan nie lekker hierdie soort ding hanteer nie. Selfs die mensliewendes en goedhartiges sukkel maar soms. Daar was nie moffies in hulle tyd nie. As daar was, het hulle op ander dorpe gebly – meestal groter dorpe met meer plek vir donkerte. Ek het eenkeer die kind se ouers besoek. Goeie mense en ontfermende ouers. Die ma het met haar kop in haar hande gesit en huil. Hulle het hulself, die gebrek aan balvaardigheid en moderne tydskrifte soos skaakstukke op ’n bord van skuld rondgeskuif. Ek het gehoop die kind hoor dit nie, maar ek het geweet hy het. Ek het geweet dit skaaf.

Vir ’n paar jaar kry ek dit reg om die kind heeltemal te ontwyk. As dit by ’n geskaaf kom, is tyd gelukkig gaaf.

Ek het later ’n keer of wat vir hom by sy werksplek gaan kuier. Deur die glasdeure kon ek hom by die raadsaaltafel sien sit. Hy het groot geword, maar lyk nog baardloos so tussen die korporatiewe kannibale.

Die hoof van die tafel se stem ruis deur die glas en vul die koue wagkamer.

“Regarding our new product lines, we are bringing in cellphone accessories, called Mophie.”

Die grootkop kyk in die rigting van die kind.

“No, don’t worry – it’s Moo-fie, not the other thing.” Hy lag vir sy eie skerpsinnigheid.

Die kind maak ’n nota in sy boek. Ek weet wat hy dink. Hy wonder of die baas ook in die Eendjieklas was, of die baas ook weet hoe om te skaaf?

So ’n rukkie gelede gaan kyk ons André Carl van der Merwe se Moffie – nou ’n bekroonde film. “Moffie, moffie, moffie!” skree hulle op die skerm.

Ek lees kort daarna die woord vlugtig raak in Carin Krahtz se ongelooflike jeugverhaal Blou is nie ’n kleur nie. Dit skaaf vinnig. My wederhelf lees oor die woord in Deon Meyer se 13 Uur. Hy sê ook dit het vinnig geskaaf.

Ek besluit dit is tyd. Ek sal vir die heel laaste keer by die kind ’n draai gaan maak. Ek kry hom in sy kamer waar hy kaalbors na die spieël staar. Hy lyk goed, dink ek. Nog net ’n paar jaar, dan is hy ook nie meer ’n tiener nie. Sy ma-hulle sê hy presteer goed. Hulle is trots.

Ek kan sien dit is nou hysélf wat so by die spieël staan en skaaf. Ek wil nog iets bemoedigends sê, maar sy vuiste tref die glas en dit splinter die kamer vol. Ek help die stukke optel en wegsteek in ’n leë proteïenaanvullinghouer. Hy sal ’n ander dag, op pad universiteit toe, die houer weggooi.

Ons altwee kyk om as die kind uit nêrens op die punt van die bed kom sit. Sy voetjies bloei. Hy het seker ook in die glas getrap. Op sy hemp is ’n plakkertjie van ’n geel eendjie. Terwyl dit opdam in sy oë, vra hy saggies, “Wat bly van my oor?”

  • 4

Kommentaar

  • Dirkie Kruger

    Treffende aanspreek van etiketering, die diep sonde van ons samelewing, wat ongestrafd siele verbrysel, harte inkerker en vrywees begrendel. Briljante benadering wat ’n duidelike boodskap dra.
    Die skrywer se potensiaal as storieverteller word weer eens onderskryf.
    Die verhaal spreek tot my moederhart ...

  • Hanlie Van Zyl

    Mens kry onwillekeurig 'n traan in die oog en begeer om die kind, tiener, student, jong man en volwasse man teen jou te druk en teen die veroordeling te beskut.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top