Soetdoring in die ruigtes deur Christiaan Bakkes: ’n resensie

  • 8

Soetdoring in die ruigtes
Christaan Bakkes

Human & Rousseau
ISBN: 9780798185424

Gooi elke skrywer sy little darlings weg? Soos dié een op bladsy 188: “Nou is hy ’n soet, opgeskote olifantbulletjie met ’n doringagtige geaardheid.” Soet? ’n Olifant? En hoe is enigeen soet met ’n doringagtige geaardheid? Dalk geforseerd, dink ek. Jammer, dit rym nie regtig nie.

En, gooi alle skrywers hulle weggooisinne weg? Soos op bladsy 38: “Dis iets anders, iets binne hom. ’n Verandering het plaasgevind.” In die konteks van die toneel is dit duidelik genoeg dat ’n verandering plaasgevind het. ’n Bietjie snoeiwerk kon hierdie oor die algemeen baie toeganklike roman meer stroombelyn gemaak het.

Hier en daar is daar stellings waaroor ’n leser mag wonder. Soos: “Hy is terdeë daarvan bewus dat die .303 Lee-Enfield ’n ligte kaliber is om ’n olifant mee aan te durf, maar hy vertrou sy geweer. As jy Duitsers daarmee kan skiet is dit goed vir olifante ook.” ’n Olifant kan tussen 2000 kg en 6 000 kg weeg, en ’n gemiddelde man weeg net onder 100 kg. Aldus Google ...

Nogtans is dit van meet af duidelik dat Bakkes die natuur ken, insluitend olifante – daaroor is daar nooit enige twyfel nie. Jy hoef nie eens sy agtergrond te ken of sy ander boeke te gelees het om dit te besef nie. Sy simpatie met die olifante en die drang om bewaring te propageer is ook nie ’n hindernis nie. Daarom pla dit my nie dat hy op bladsy 144 skryf dat olifante “gewond” is, eerder as “gekwes” is nie. Die olifante raak vermenslik in hierdie boek – of beledig ek olifante nou? Die beskrywing van hoe die aasdiere ’n olifantkarkas verorber (62–63), is ook baie interessant; nie te lank nie.

Een interessante punt om te noem is dat hy van “Khoisan” op bladsy 41 praat, maar histories was daar nie ’n groep soos Khoisan nie. In die Khoina se taal beteken San (ook Boesmans genoem), “hulle wat nie vee besit nie”. Die Khoina het gewoonlik beeste en skape besit. Dog die Gonaqua, waarna hy verwys, was ’n aparte groep wat uit mense van verskillende stamme bestaan het, ook Xhosas – baie soos die groep wat op Thaba Bosigo saamgekom het om die Basotho-volk te vorm.

Ek was spyt dat ek nie méér kon weet oor die oorlogsveteraan en die sekretaresse se verhouding nie, of meer kon lees oor die familie wat soos ’n klein eiland, as’t ware ’n brose bastion, teen die uitdelgingslus van die sitrusboere bly staan het nie. Veral die genoemde veteraan wat, ten spyte van baie hindernisse, vasberade op sy missie – natuurbewaring – voortgegaan het ... en ja, is dit ’n fout of ’n egoïstiese handeling wanneer ’n skrywer homself in enige mate in sy storie inskryf? Ek verwys na Christiaan Bakkes, die natuurbewaarder, wat self ’n arm verloor het.

Van alle genres is die roman sekerlik die een literêre platform waarop “grensverskuiwings” die meeste verdra word (en as jy na commendatio’s kyk, amper eintlik verwag word?). In ’n era waarin KI op die drumpel van bruuske oornames staan, soos om akteurs met avatars te vervang, lirieke en gedigte te “skryf” – en sommer boeke ook – is dit dan nie júis die tyd vir die skrywer om sy menslikheid soos ’n vlag te hys of voor ’n woedende (olifant)bul te swaai nie?

So nee, die ou aanname dat die skrywer “weg van homself” moet skryf, kan gerus mee weggedoen word. Omarm eerder ’n ander ou skryfbeginsel: “Skryf oor wat jy ken/weet.” Hierdie skrywer weet immers waarvan hy skryf – hy was dekades lank betrokke by natuurbewaring en het ook sy navorsing oor olifante gedoen. Nogtans probeer hy nie die leser met ’n ellelange bibliografie beïndruk nie. Hy stel sy punt hieroor kort en kragtig. So ook is die roman 234 bladsye lank en geensins te lank om sy storie te vertel nie.

Soos genoem, wil die leser waarskynlik meer oor die karakters lees – hulle is immers interessant en eg menslik – en die skrywer slaag daarin om my simpatie vir die “goeies” te wen, en ’n skerp argwaan jeens die slegtes, veral natuurlik Troskie, Die Jagter (die doodsengel vir die olifante?) te verwek. Dalk gaan die skrywer wel ’n raps te ver wanneer hy die verrotting wat Die Jagter later omhul, beskryf, maar hy beklemtoon sy punt deeglik.

Aangaande die menslike karakters in die verhaal kon die skrywer wel veel meer borduur het, maar dan sou dit meer oor hulle gegaan het, terwyl die leser algaande besef – en saamstem – dat die olifante die hoofkarakters behoort te wees. Nogtans kon die skrywer nie van Soetdoring in die ruigtes ’n tipiese diereverhaal maak, soos Sangiro se Uit oerwoud en vlakte, deur die mens vir alle praktiese doeleindes uit die prentjie te haal nie – die mens, met sy drang om van die natuur ’n eie speeltuin te maak, is immers die donker kant van die storie.

Of altans, die mense verteenwoordig ’n soort Janus-element, want daar is die “goeies” en die “slegtes”. Die olifante word basies as diere beskryf, met minder agendas en intriges as die mense, maar ook hulle het hulle individuele karaktereienskappe, en Bakkes beeld hulle hegte familiebande pragtig uit. Lesers sal sekerlik voortaan met nuwe oë na hierdie enigmatiese wesens kyk.

Die boek kom aanvanklik effe gekompartementaliseerd voor, maar lateraan maak dit sin. Daar is die trauma van die oorlog wat beide Kelly-broers ervaar het, maar veral Caleb, wat in die Eerste Wêreldoorlog vermink is. En dan is daar die trauma van die olifante, wat meesterlik beskryf word. Ook die “bose” Jagter, Troskie, het sy swaarkry gehad, en dit het hom waarskynlik gemaak wie hy was. En dan was daar die boere en die politici. Elkeen se saak word duidelik gestel. Ironies dat die skrywer van moontlik Suid-Afrika se bekendste verhaal met ’n dier as hoofkarakter, Jock of the Bushveld, een van die slegte ouens in hierdie verhaal is, naamlik sir Percy Fitzpatrick, wat, soos Cecil John Rhodes, ’n aartsimperialis was.

Oplaas bring Bakkes die kompartemente in een trok byeen en stoom die trein triomfantelik die stasie in: Die Nasionale Addo-olifantpark is ná baie gekibbel, vertragings en tragiek tot stand gebring. Die fiktiewe kaart aan die binnekant van die netjiese omslag word teen die einde as’t ware deur die werklike een vervang.

Soetdoring tussen die ruigtes word heelhartig aanbeveel vir lesers wat niks nie óf baie van olifante weet – jy kan altyd iets by ’n kenner soos Christiaan Bakkes leer en boonop die storie geniet.

  • 8

Kommentaar

  • Izak de Vries

    Jy sê: "Hier en daar is daar stellings waaroor ’n leser mag wonder. Soos: 'Hy is terdeë daarvan bewus dat die .303 Lee-Enfield ’n ligte kaliber is om ’n olifant mee aan te durf, maar hy vertrou sy geweer'."
    Dit is egter histories akkuraat. Die veldwagters in die Addo is uitgereik met 'n .303 Lee-Enfield in die ou dae.

  • Francois Verster

    Ek het kommentaar gelewer op die stelling wat daarop neerkom dat dit wat "goed genoeg is vir 'n Duitser, goed genoeg is vir 'n olifant" en die verskil tussen 'n mens en 'n olifant. Maar interessant wat jy noem. Ek wonder net: as die veldwagters olifante daarmee aagedurf het, is daar 'n rekord dat hulle een gedood het met daardie kaliber? Die jagter in die verhaal is beslis meer van 'n realis wanneer dit by drie regte wapen kom om olifante mee te dood.

    • Izak de Vries

      Ek weet werklik nie hoeveel olifante met 'n .303 gedood is nie. Die moderne veldwagters verkies beslis 'n swaarder kaliber wanneer olifante ter sprake is. Die punt is dat Bakkes korrek is oor die .303, dis bloot hoekom ek dit genoem het. Die roman speel immers af in die tyd toe daardie gewere uit die oorlog gekom het en toe elders gebruik is.
      Die tweede punt waarna lesers sou kon kyk, is om die relatief klein kaliber van die bekende Lee-Enfield op te weeg teen die slaankrag van die einste geweer. Kenners, en glo my ek is nie een nie, sal sê dat die Lee-Enfield se slaankrag vergelykbaar is met veel groter kalibers. (Soos jy sien fassineer die goed my, François, maar ek is helaas nie die regte ou om die vraag met kundigheid te beantwoord nie.)

  • Francois Verster

    Ja wel, dis oplaas 'n minder belangrike tegniese punt, en ek dink ek het die roman sterk genoeg aanbeveel. Groete uit 'n triestige Brackenfell.

  • CHRISTIAAN BAKKES

    Baie, baie dankie Francois. Dit is hoë lof van iemand soos jy. Dit word hoog op prys gestel van hierdie kant af.
    Groete

  • CHRISTIAAN BAKKES

    In Harry Manners se biografie, Kambaku, skryf hy dat hy om en by veertig olifante met sy 30-06 geskiet het in Mosambiek. Ek dink met skerppuntammunisie, 'n goeie kennis van olifantanatomie en die verrassingselement aan jou kant, is dit tog haalbaar met 'n .303.

  • Francois Verster

    Ja, ek glo dis moontlik, my vraag was meer: was dit 'n slim opsie - en dis eintlik 'n vraag aan die karakter Caleb. Jy kan 'n mens ook met 'n .22 skiet - mafia "hitmen" verkies dit glo, weens die sagter klank van die skoot, maar ek sou my eie .45 verkies! Seker maak, dus. En die jagter in die verhaal sou dit nooit doen nie, ne? Hy was professioneel en weet dat selfs met 'n regte olifantgeweer moet jy goed mik en dan kan die massa en momentum van die aanstormende dier jou steeds dood. Let wel, ek het geskryf dit "laat 'n mens wonder", want dit het my laat wonder, so dit kan ander lesers ook laat wonder. En wanneer 'n leser wonder - al is dit heel moontlik - kan hy so iets as 'n negatiewe punt in die leesproses ervaar. Maar soos ek aan Izak genoem het, dis geen groot struikelblok/punt van kritiek nie. Ek beveel die boek aan aan almal wat my daaroor vra. Goeie werk, en ek hoop dit maak die nodige impak, Mnr Bakkes!

  • 'n Ou wat 'n olifant met 'n .303 skiet is in my oë 'n "poacher". Nêrens deesdae sal jy toegelaat word om dit te doen nie. Baie van Manners se tydgenote was van mening dat gedeeltes van sy memoirs versinsels is - Kambaku klink meer na 'n outo-biografie. Wie was sy biograaf?
    Duisende olifante is deur 'grootwildjagters' net vir geld - die tande- afgemaai. Ek stem saam dat olifant getalle beheer moet word. 'n Saak kan daarvoor uitgemaak word omdat hulle verwoesters van formaat is. Maar dit geskied onder toesig.
    Vir die vyf grotes het jy ten minste 'n .375 Holland&Holland Magnum nodig. Hoër op in die kalibers is die .416 (.423) .458 Lott ens.
    Maar 'n .303? - hel man, dis dieremishandeling!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top