
So byna blou
Emile Joubert
Protea
SKU: 9781485311492
Tien kortverhale van die voormalige joernalis Emile Joubert het onlangs by Protea Boekhuis onder die titel So byna blou verskyn.
Joubert is in dié bundel ’n knap storieverteller wat in die kortverhale telkens unieke karakters en wêrelde skep. Wat die bundel besonders maak, is die uiteenlopende verhale en die groot verskeidenheid temas, karakters, ruimtes en tydperke wat daarin uitgebeeld word, maar tog is daar ’n deurlopende motief in al die kortverhale: een van eensaamheid en ontnugtering
Wat reeds, voordat die leser begin lees, die aandag trek, is die pragtige voorblad. Binne in die boek word die volgende erkenning gegee: "’n Skoot uit die film Shirley: Visions of reality deur Gustav Deutsch". Dit herinner aan ’n Edward Hopper-skildery. Die voorblad voorspel dat dit hier gaan om karakters in afgesonderde, gestroopte ruimtes wat direk na die leser kyk om kontak te maak, maar geen kontak vind plaas nie. Die voorblad suggereer eensaamheid en ’n afgetrokkenheid. Die titel van die bundel, So byna blou, is ook nie toevallig gekies nie. Blou is die kleur van depressie, hartseer, melankolie, nostalgie, maar ook van insig en intuïsie. Dit word ook met die erotiese geassosieer. Verder is daar ’n koninklike en adellike assosiasie met die kleur blou; asook met bluesmusiek. Al hierdie betekenisse kry ons in die bundel, aangesien byna elke kortverhaal oor ’n eensame karakter gaan wat op ’n bepaalde plek en tyd in sy/haar lewe is waar een of ander probleem of uitdaging ervaar word en daar tot ’n verrassende insig gekom word. En net so kom die leser ook dikwels tot ’n verrassend slotsom en insig, want in al die kortverhale is daar die onverwagse en dikwels skokkende slotgedeelte.
Beide die voorblad en die titel voorspel ook iets van ’n intertekstualiteit wat in die bundel gevind word – soos in die kortverhaal "Rou", wat met die voorblad skakel: "Haar vorm – halfnaak en wit. Sittend op ’n bed. Die bagasie op die vloer. Die boek op haar skoot. Die vreemdheid van die plek waarin sy kaal is. Alles om haar lyk na ’n skildery van Edward Hopper. Hotel Room." Die titel verwys intertekstueel na die jazzkunstenaar Chet Baker se liedjie "Almost blue". Titels van kortverhale is byvoorbeeld "Korreltjie dagbreek" en "Die beitel". In sommige kortverhale is bekende skrywers "karakters": Ons vind byvoorbeeld Herman Charles Bosman en Ernest Hemingway in "Op safari".
Daar is verder ’n fyn spel tussen feit en fiksie wat die leser dikwels verras – reeds voorspel in die motto, ’n aanhaling deur die karakter Jake Gittes in die film Chinatown: "To tell the truth, I lied a little." Ek is gedurig verras deur die spel tussen waarheid en leuen en het dikwels tydens die lees van die kortverhale gewonder: Is dit die waarheid of is dit ’n leuen?
Hierdie feit-fiksie-spel kom op vele wyses voor. Die karakters is herkenbaar: Hulle is skrywers, joernaliste, fotograwe, uitgewers – hulle kom uit die wêrelde waarvan Joubert baie weet. Dit is die uitbeelding van die karakters waarmee lesers sal identifiseer. Ons ken almal ’n "Mervyn Bruwer" wie se lyf van "[j]are se sake-etes, honderde bottels goeie wyn en die ure se gesit in raadsale en op internasionale vlugte swaar, koddig en styf gemaak" is; of ’n "Nerina Gous" wat "[a]s ’n weduwee van ses-en-veertig [...] vir die eerste keer werklik onseker oor haarself begin voel. Sy het begin twyfel oor wat sy vir ander mense te sê het"; of ’n "Tant Lenie" wie se man nie weggeloop het of doodgegaan het nie, maar net "weggeraak het. Verdwyn" het.
Wat die kortverhale nog verder aan mekaar verbind, is die "ontmoetings" wat tussen karakters in eksotiese plekke plaasvind, maar die ontmoetings loop op niks uit nie: Herman Charles Bosman en Ernest Hemingway ontmoet mekaar in die Rovio Hotel in Johannesburg; twee geliefdes ontmoet mekaar in Parys; ’n wynkenner-joermalis ontmoet ’n Suid-Afrikaner in Portugal. Tog vorm die karakters geen verbintenisse met mekaar nie. Daar is ’n onvermoë om by mekaar uit te kom – selfs in die eksotiese en romantiese ruimtes van ’n stad, ’n plaas, Seepunt, Portugal, Frankryk en Kaapstad in die 15de eeu, die hede, die onstuimige 1980’s.
Joubert slaag meesterlik daarin om die tien kortverhale se uiteenlopendheid van karakters, temas, ruimtes en tydperke, asook die verrassende slottonele neer te pen. Dit is duidelik die stem van ’n ervare skrywer.


Kommentaar
Klink goed. In die lyn van sy vorige verhale?