So amper Alice in Wonderland

  • 0

Die paaie loop vanaand snaakse draaie. Orde is daar nie. Hoe kan daar dan ook wees as die orde al so lank versteur is, so lank gelede al verdwyn het saam met die eerste opname? Dag-vir-dag veg die medikasie en jou eie miserabele self om selfbehoud ... maar helaas, jy weet jy leef ’n leun.

Kom ek vertel jou van Alice ...

Ja man, jy ken die storie van die dogtertjie wat in die haas se gat (“rabbithole”) afgeval het en toe die fantastiese wêreld vol wonderlike karakters ontmoet het. Surrealisties nè!? Daar was tot ’n “Mad Hatter”. Weet jy dat die oorsprong van die naam kom van die tipe gom wat daardie jare deur hoedmakers gebruik was en gifstowwe bevat het, en dat hoedmakers wat heeldag daarmee gewerk het, geneig het tot sielkundige afwykings weens die blootstelling daaraan?

Nietemin, my storie gaan nie oor ’n dogtertjie en ’n haas nie, maar oor ’n man en ’n wolf, en nee, dis nie die moderne LGBT-weergawe van Rooikappie en die Wolf nie, nee, ek wil net vir ’n oomblik die deksel lig en jou ’n blik gee van die stryd wat min mense sien, maar wat baie daagliks beleef. Die stryd teen die wolf van depressie.

My geval was erg. Twee keer my lewe probeer eindig. Moes uiteindelik skokterapie kry (ECT) as ’n laaste uitweg, wat ’n groot deel van my geheue verwoes het. Maar magtig man, vergeet nou daarvan, ek wil jou vertel van die verdomde wolf! Ek wil jou vertel van die wolf wat my volg elke liewe dag van my lewe. Net ek sien hom! Ek weet hy is daar. Vir seker.

Soos gesê, vanaand loop die paaie snaakse draaie. Die vlamme in die vuur voor my brand hoog. Ek gooi nog hout op die vuur want sien, dit is belangrik want hier waar ek met my rug teen die rots sit, sien ek sy oë deur die vlamme. Dit is net die vuur wat my beskerm van hom. Hy weet, en ek weet dat as ek nie aanhoudend die vuur stook nie, sal hy oorspring en met een byt van sy kragtige kake my nek oopskeur en my lewe sal saam met my bloed op die grond uitvloei. Hy wen.

Die son is op. Ek het dit gemaak deur die nag. Dis tyd om verder te stap en uit die woud te probeer kom. Wat ’n pragtige dag is dit nie! Vir ’n oomblik geniet ek die voëls se vrolike gesang. Ek waardeer die mooi van die veld. Dan sien ek hom uit die hoek van my oog. Hy is altyd naby, net daar waar die veld ophou en die woud begin.

Dit word donker en ek moet weer ’n skuilplek soek waar my rug teen ’n rots is en ek vuur kan maak voor my. Skaars brand my vuur of hy is daar, net aan die naderkant van die vlamme. My getroue vennoot op my pad. Snaaks, daar is dae wat ek hom nie sien nie, aande wat hy my nie geselskap hou by die vuur nie, maar dan hoor ek sy gehuil êrens naby, asof hy my net wil laat weet dat hy altyd daar sal wees, dat ek nooit heeltemal moet ontspan nie.

Vanaand voel ek sterk en ek maak ’n vuur wat groot genoeg is om hom weg te hou vir nog ’n nag. Weet net dat as hy my die dag verskeur, was dit nie omdat ek opgegee het nie, ek het net te moeg geraak om nog hout op te gooi, te moeg geraak vir die speletjie, want sien ... ’n speletjie is nie ’n lewe nie.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top