Snellervinger
Die dimples op jou wange lê diep in skaduwee
Jou kop hang soos 'n kwinkslag gedemp in donderweer
Jou oë dra tyd se sand, jou arms dra iemand
wie te soet was om die bitter aand te keer
Ons moet ons gewere met vars leeubekkies laai
en al ons danse klaar dans voor die duiwel tiekiedraai
Verf jou goue hart, verf dit filterkoffie swart
en probeer om elke wagwoord reg te raai
REFREIN:
Waarsku al die dapper kinders
die nag bekruip met snellervinger
Slaap nou soet, bly eerder binne vanaand
niemand kan jou daarso hinder
Versper jou vensters vir die winter
stel jou wekker vir Desembermaand
Die wêreld van vandag word weer Gondwanaland
Ons ken die donkerte soos net kelderkinders kan
Lui die laaste klok met jou blinde sambok
en steek ons testamente aan die brand
Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.