Amanda Gouws, dosent aan die Universiteit Stellenbosch, deel haar siening oor universiteite as veilige ruimtes en die hantering van snellerwaarskuwings wat voor lesings aan studente gegee word.
’n Geïrriteerde kollega het onlangs gesê: “Ek gaan in my klaskamer instap en vir die studente sê: ‘In my klaskamer hanteer ons allerhande gruwels – beskou julleself getrigger vir die volgende drie jaar.’” Ek kon haar frustrasie verstaan. Dit voel soms asof ons as dosente die rol van sielkundiges moet inneem.
Die idee van ’n veilige plek (safe space) het na aanleiding van die tweede golf feminisme sy inslag in die hoofstroomwoordeskat gevind. Die idee het gespruit uit die praktyk van bewusmaking waar vroue klein groepies gevorm het om oor die onderdrukking van vroue te praat en hul eie stories te vertel. Mans was nie deel van hierdie groepe nie, want jy kan nie jou storie in die teenwoordigheid van die onderdrukker vertel nie. Een van die primêre beginsels van die tweede golf radikale feminisme was bewussynsverruiming.
Een van die bekendste feministiese regsdosente in die VSA, Catharine MacKinnon, stel dit só in haar boek Toward a feminist theory of the state (1989):
[Feminism is] a way of knowing. Consciousness raising is that way. [An] oppressed group must at once shatter the self-reflecting world which encircles it and, at the same time, project its own image onto history [...] (84; haar beklemtoning).
In veilige ruimtes het vroue gevoel hulle het die vryheid om die probleem sonder ’n naam aan te roer – hul eie onderdrukking. Dit was die begin van die radikale feministiese beweging met die slagspreuk “Die persoonlike is polities”, wat beteken dat dít wat in die privaatheid van mense se huise plaasvind, soos gesinsgeweld, ’n politieke oplossing behoort te hê.
In die sewentigerjare in Suid-Afrika het swartbewussynsorganisasies dieselfde metode toegepas. Wit mense kon nie deel vorm van die veilige ruimtes waar swart mense hulle onderdrukking onder apartheid bespreek het nie. Wit mense is gevra om bewustheid onder wit mense te kweek oor hul aandeel in die onderdrukking.
Nou is die vraag of ons hierdie idee van ’n veilige ruimte op die klaskamer van toepassing kan maak. Waarteen moet studente (met uiteenlopende geslags-, ras-, klas- en seksuele identiteite en gestremdhede) beskerm word sodat hulle veilig kan voel? In ’n poging om veilige ruimtes te skep, is dit nou algemene praktyk onder dosente om vir studente snellerwaarskuwings (trigger warnings) te gee oor inhoud wat hulle moontlik kan ontstel.
In die konteks van sielkunde is ’n sneller iets wat vorige trauma na vore bring. Dit is van toepassing op mense wat aan posttraumatiese stressindroom ly. Gewoonlik word mense geprikkel deur sensoriese insette soos reuke, beelde en geluide wat vorige trauma (soos blootstelling aan die dood, ’n ernstige besering of seksuele geweld) oproep. ’n Sneller kan tot hartseer, ontsteltenis, angs en angsaanvalle lei.
As ’n dosent dus ’n snellerwaarskuwing gee, aanvaar ons dat daar studente is wat aan posttraumatiese stressindroom ly, maar ons skep nie ’n veilige ruimte vir die student(e) om daaroor te praat nie. Die verwagting is dat die student die klaskamer sal verlaat of teen die inhoud opgewasse sal wees. Dit is dus nie ’n veilige ruimte in die ware sin van die woord nie. Daar kan ook nie verwag word dat studente hulle trauma met allerhande vreemdelinge in die klas moet deel nie.
Wat dosente in die buiteland soos die VSA nou doen, is om die agentskap aan studente oor te laat. Een dosent sê byvoorbeeld vir die studente sy gaan sensitiewe materiaal behandel en dat hulle kan “step up, step back or step out”. Sy gee ook die inligting wat nodig is om diegene wat die klaskamer verlaat te help, soos waar die kampussielkundige is, of die nommer van ’n noodlyn. Die aanname hier is dat die dosent nie die rol van berader kan vervul nie en dat, as ontstel word, daar onverwerkte trauma is wat slegs deur kundiges hanteer kan word.
As ’n dosent wat Geslag en Internasionale Betrekkinge as module aanbied, is ek deeglik bewus daarvan dat min of meer elke lesing snellermateriaal bevat. My module dek verkragting as ’n oorlogswapen, mensehandel, immigrasie, oorlog, volksmoord, ens. Die studente moet ook leeswerk oor hierdie onderwerpe doen en films kyk. Al hierdie films is ontstellend. Kan diegene wat daardeur ontstel word enigsins die leeswerk doen of die films kyk? Wanneer druis die sneller in teen vryheid van spraak in die klaskamer? Hoe debatteer ons hierdie kwessies sonder om na die feite te kyk? Waarop moet studente wat nie die leeswerk doen of films kyk nie, geassesseer word? Hoe leer ons vir studente om veerkragtig te wees?
Is dit die geval dat ons nou ’n generasie studente het wat emosioneel minder gereed is vir die lewe buite hulle kokonne, of was hulle nooit in kokonne nie? Is jong mense tussen die ouderdomme van 18 en 22 reeds so blootgestel aan trauma dat hulle ernstig getraumatiseer is en nie die emosionele vermoë besit om dit te verwerk nie? Ons moenie vergeet dat daar ’n eerste generasie studente is wat blootgestel is aan intergenerasie oordrag van trauma nie. Nog ’n vraag is of mense kan reageer volgens ander mense se trauma (vicarious traumatisation). In my eie ervaring het studente wat geraak is deur die inhoud al aan my beken dat iets nie met hulle gebeur het nie, maar dat dit met iemand anders gebeur het. Ek het geen twyfel dat dit waar is nie, aangesien ons in ’n land met een van die hoogste verkragtingsyfers in die wêreld leef. Almal van ons ken iemand – of meer as een persoon – wat verkrag is.
Die invloed van sosiale media op studente moet ondersoek word. Die verskynsel van eggokamers waar mense net met mense praat wat soortgelyke idees/ervarings deel, druis in teen die rol van die universiteit, wat poog om studente aan ’n verskeidenheid van standpunte bloot te stel. In eggokamers word enige persoon met ’n opinie wat die bestaande idees opponeer, uitgewerp – hulle word van die WhatsApp-groep verwyder of “unfriend”. Wat my opval is dat die maatstaf vir eie ervaring dan die emosionele ervaring van almal op die groep word. Met ander woorde mense het nie noodwendig self iets beleef nie, maar dink dat hulle in ’n sekere situasie sus of so moet voel, want dit is hoe dit vir persoon X voel. Dit is onbeleefde trauma, wat ook beteken dat mense hulp soek vir iets wat hulle nog nooit self beleef het nie. Skep ons dus ’n generasie wat nooit gereed sal wees om op so ’n manier oor trauma te lees of na films te kyk dat hulle iets daaruit kan leer nie?
As ’n feminis staan ek veilige ruimtes voor, asook die etiek van versorging waarvan die drie belangrikste kenmerke is om met aandag te luister, om te reageer en om met empatie te versorg. Die klaskamer is egter nie ’n plek waar ons dit kan doen nie, maar ons kan hierdie ruimtes vir studente skep. Baie studente kom praat met my in my kantoor en het groot moeite om hul trauma te verwoord. Gegewe die getalle studente wat klaarblyklik getraumatiseer is, behoort universiteite gerat te wees om sielkundige hulp te verleen. Die meeste beradingsdienste is oorlaai en help die mees gewondes eerste. Dit sal universiteitsbesture baat om meer sielkundiges in diens te neem en meer fondse vir navorsing oor die aard van trauma en die invloed van sosiale media te verskaf.
Bron:
MacKinnon, Catharine. 1989. Toward a feminist theory of the state. Cambridge: Harvard University Press.
Klik hier vir meer oor die seminaar en om ander bydraes te lees:
Kommentaar
Die meeste studente is volwasse en normaal, of is veronderstel om sodanig te wees. Wat idees betref, is universiteite veronderstel om onveilige ruimtes te wees. Studente behoort met nuwe idees kennis te maak en daardie idees te vergelyk met die waarvan hulle reeds kennis dra. 'n Opsig waarin universiteite wel veilige ruimtes behoort te verskaf, is van 'n liggaamlike aard; dus dat studente enige tyd van die dag of nag veilig moet kan studeer en navorsing doen.
Hierdie “gedurige en onvoorspelbare getraumatiseerdheid” en aandring op “veilige ruimtes” het ook maar n lekker wegkruipplek geword met behulp waarvan eindelose verskonings vir swak akademiese prestasie uitgedink kan word. Wat het geword van “hardiness” en moed en veerkrag? Om bietjie moed aan die dag te lê? Hoe kan die dosent onderskei tussen waarheid en leuen? Kanse vat? Studente wat nie met harde realiteite kan omgaan nie, moet miskien liefs tuis bly en eerder heeldag series op TV kyk as om hul vir die beroepswêreld te kom voorberei teen groot finansiële koste.
Die wêreld is vol konfrontasie. Die enigste veilige intellektuele veilige ruimte moet die ruimte wees wat dit waarborg dat jy ’n siening kan lig in debat sonder om daarvoor gekasty te word nie. Hetsy die preek van ’n SJW evangelie of in teenstand. “Safe spaces” soos te vinde in Amerikaanse hoër opvoedingsinstellings is die dood van akademiese vryheid oor dat dit een siening as dogma proklammeer en enige een wat dit durf teenstaan as fasistiese untermenschen verklaar.