Sluiterspoed

  • 1

Die swart-witfoto
(geneem in die tyd van die krr’ende telefoon)
mymer steeds in my vintage blik –
ʼn ruimhartige huis met poleerblink vloere,
Pa en oom At geselsend op kussingstoele.
Soms, op ʼn dag soos vandag
met die hemellug blou soos kruipsalie,
haal ek dié monokleurige onthou
kindwees se mik-en-druk verbeel.
Smiddags sou ons die sonwarmte uitwag
soos kraaie kringsit, droom oor blinkgoedskatte
later in die stofstrate giffiegooi speel.
Maar, dit was om die familietafel
gepak met erdebakke vol gekookte groente en vleis
waar ons saamgevoel het, asof ons hoort.
Tant Babie het dinge geweet
soos hoe om liefde in kosbondels te vou.
Hoe graag sou ek die sluiterspoed wou verstel
die lewe op ʼn driepoot stil, lig op nog ʼn film laat val.

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top