Slim kommentaar: The artist vanishes deur Terry Westby-Nunn

  • 0

...
Die kunstenares, Sophie Tugiers, is ’n interessante karakter. Sy is nie noodwendig oulik of charismaties of iemand van wie jy dadelik gaan hou nie. Sy is kompleks. Feilbaar. Desperaat vir vriendskap en liefde.
...

Titel: The artist vanishes
Skrywer: Terry Westby-Nunn
ISBN: 9781415210314
Uitgewer: Penguin

The artist vanishes is ’n uitstekende boek. Daar. Mens kan eintlik die resensie net hier beëindig en dalk net ’n klein versekering byvoeg: As jy hou van intrige en kuns, en as die donker kant van die menslike psige jou fassineer, gaan jy die boek baie geniet.

Maar die resensent kan nie net so verdwyn nie.

Die storielyn is vir my nuut en vars. ’n Kunstenaar verdwyn spoorloos nadat ’n uiters kontroversiële projek van haar skeefloop en iemand in die proses sterf.

Aanvanklik weet jy nie wat die projek was wat tot die tragedie gelei het nie, maar die boek spring weg met ’n vorige projek: om die grootte van ’n man se testikels aan sy testosteroon- en gewelddadigheidsvlakke te meet. Letterlik. Dit is alreeds ’n taamlike mondvol.

Die tweede projek wat sy aanpak, is wel erger en meer persoonlik.

So persoonlik dat dit iemand se dood veroorsaak.

Die kunstenares, Sophie Tugiers, is ’n interessante karakter. Sy is nie noodwendig oulik of charismaties of iemand van wie jy dadelik gaan hou nie. Sy is kompleks. Feilbaar. Desperaat vir vriendskap en liefde. So desperaat dat sy vriende is met vroue wat haar net gebruik en haar hart gee vir mans wat dit as ’n speelding beskou.

Tog kan mens die desperaatheid verstaan. Haar ma het Sophie en haar suster verlaat toe hulle nog baie jonk was, en die pa is nie ’n bondeltjie liefde nie.

Maar dan ook: Sy verruil haar waardes en gewete (sy is ’n diereaktivis) vir ’n stewige beurs van ’n farmaseutiese maatskappy wat bekend is vir sy wrede proefnemings met diere. Als weer eens om erkenning te kry, en natuurlik geld.

Voeg hierby James, ’n rolprentmaker wat besluit om ’n dokumentêr te maak as sy dogter hom vertel hy bly in Sophie se ou woonstel. Hy is weer ’n karakter wat nogal onder mens se vel inkruip, want nadat hy besef dat sy huwelik vir jare ’n leuen was, streef hy die waarheid na en is hy ook nie skaam om die waarheid oor homself te erken nie.

Terwyl jy die karakters leer ken, begin die een vraag na die ander op te duik: Wat was die projek wat die een deelnemer, Martin, sy lewe gekos het? Presies hoe is hy dood? Wie agtervolg vir Sophie? Hoekom kan Claire, haar vriendin, meteens niks van haar verlede onthou nie?

Die skrywer neem jou op ’n effens angstige galop deur die bekende dele van Kaapstad, maar dan besluit James dat die dokumentêr nie moet gaan oor die enigma van wat met Sophie gebeur het nie, maar eerder oor die enigma van Sophie self. Wat die leser laat met dié vraag: Gaan jy wel uitvind wat met Sophie gebeur het?

Terry Westby-Nunn lewer slim kommentaar op die donker, tweegesigkant van farmaseutiese maatskappye, die kunswêreld en selfs dié van aktiviste. Dit kyk na teenpole en vra teenvrae: Sou jy ’n dier laat ly om ’n mens se lewe te verbeter of selfs te red? Sou jy geweld gebruik en sabotasie vir ’n sogenaamde goeie doel? Sou jy jou siel verkoop vir aanvaarding en geld eerder as om sukkelend maar moreel korrek te wees?

...
Sou jy ’n dier laat ly om ’n mens se lewe te verbeter of selfs te red? Sou jy geweld gebruik en sabotasie vir ’n sogenaamde goeie doel? Sou jy jou siel verkoop vir aanvaarding en geld eerder as om sukkelend maar moreel korrek te wees?
...

Dis interessant dat die boek juis in die tyd van die pandemie verskyn, waar die sensasiesoekende, skadukant ietwat van ’n terugslag beleef het. Die galerye het ervaar dat die oomblik toe die ryk beleggers nie meer die glinsterende openingsaande kon bywoon en fisies die opwinding van veilings kon beleef nie, die aankope gedaal het. Daarteenoor het die middelklaskunskoper wat geneig is om aanlyn te koop, meer aktief geraak.

Die ding is, kuns is al lankal nie net meer kuns nie. Dis ’n bron van inkomste, dis ’n belegging, dis status, dis  kommentaar. En die farmaseutiese maatskappye word al lankal nie meer gedryf deur net ’n goeie hart nie.

Die boek lees lekker, alles skakel uiteindelik inmekaar, die einde is nie te stroperig perfek nie en Westby-Nunn het ’n wonderlike oorspronklike manier met woorde: “The wind blew last night, taking with it dead things, forgotten things, lost things.” “His eyes are wide, his pupils inflamed. And like a slap, a deep breath, the red mercurochrome seeping into the cotton wool of now.”

Die boodskap van die boek is duidelik en toepasbaar op ons almal: In die gejaag na status, seks, geld en roem is ons almal besig om te “vanish”, soos  afgelei van die Latynse evanescere  – “om weg te kwyn en te sterf”.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top