Slapchips se uiteinde

  • 3

Die mees wonderlike ding van ons lewe is hoe ons daar uitgaan. 

Wat tussen die naakte geboorte en die kaalgat-einde gebeur word gewoonlik gesprekke om vure in die laatnag. Soos met Slapchips. Ek ken sy geboortenaam maar dis 'n lang Afrikaanse naam met nog 'n langer Afrikaanse tradisionele van. Ek het hom maar leer ken as Oompie. Want hy was 'n oompie. Dalk van jongs af? 

Die anner mense het hom Slapchips genoem. Dalk oor sy lengte. Of lankgeid. Want hy was 'n lang man. Maer soos 'n riet. Keps altyd oppie kop. Daai outydse kepse wat jy deesdae net op outydse veilings ten duurste kan koop. Of by Skotse omies sien. Ek wonder altyd oor die manne wat kepse dra. Hulle haal hom altyd af as hulle jou groet (mens sien dit nie meer deesdae nie), maar hulle het hom altyd reggeskuif asof die ding nie gepas het nie. 

"More boetie." En die keps word reggeskuif. 

"Gaan dit goed?" En die keps word verstel. 

So het die tyd verbygegaan met Slapchips wat gekom en gegaan het. Een tyd gehoor hy bou huise by die dam by die Poort. Toe fire hulle hom, want die huise is te goed gebou. Die goed gaan te lank hou het die donner van die munisipaliteit gesê. Ek het sy trek aangery en hy het my die huise gewys: riethuise wat 10 generasies sal hou. Maar 10 generasies is nege generasies verder as vat ons huidige regeerders wil dink, is dit nie? Ek hoor Oudtshoorn verkoop nou sy riethuise vir baie meer geld as wat ek ooit sal hê. 

Hy het die sinkhuisie wat 'n vervalle krot was kom behuis met sy kankerdeurtrekte vrou. Van vervalle plek opgebou tot 'n sinkhuis wat dit was: 'n behoorlike sinkhuis. Tot sy die ewige ingegaan het, want Afrox se suurstof kan net soveel doen vir sat longe. 

Wat na die ou vrou se dood daar gebeur het is al baie oor gepraat, geskinder en gewonder. Die betrokkenes praat nie uit sonder 'n dop innie gat nie. En soms, as die son te vroeg opgekom het, dan praat hulle tog soms. Te veel. Want Slapchips was nie net 'n lang man nie hy was 'n viriele man. Geseënd in elke opsig wat die Liewe Vader bedoel het. Soveel so dat 'n paar manne gekla het dat Slapchips sy kombuistafel te veel gebruik het vir anner dinge as goete wat om die tafel moet gebeur. 

Nietemin. Slapchips het my destyds gevra, na antie Sarie die tydige met die ewige verwissel het, om maar sy graf ook op te maak. "Mooi soos jy met haar gemaak het." 

Geld was daar egter nie en never mind sy seun se miljoene danksy die lotto (vreemd hoe die dermiljoene so vinnig net eenvoudige eenrande raak) is daar nooit by sy graf uitgekom nie. Want ons gaan mos nie regtig nou al doodgaan nie, gaan ons? Hy het toe net die graf se boonste fondasie laat gooi. Ingeval. 

AVBOB bel my en beduie dat daar graf gemaak moet word. Watter nommer? Nommer werk nie. Wie’s dood? 

Die dood skok jou mos altoos 'n minuut na die tyding. Tot jy herken. En soms tot verhaal kom. Slapchips. 

Ons het sy graf oopgemaak en AVBOB het geredeneer dat die kis sal inpas en ek’t hulle beduie dat Slapchips 'n lang man was en hulle beduie my: "Ja maar hy het alle soorte kankers gehad en hy weeg net 32 kilogram." 

"Ja maar hy was steeds 'n lang man, julle gaan hom nie daarin maak pas nie." 

Waar saag jy af as die man nie inpas nie? Want hy moet tog in daardie gat in die een of ander tyd? Jy saag aan die voete se kant. Die kant waar die son opkom. 

Slapchips is ten minste in sy moeder aarde in net met sy voetenent afgesaag, en skeef en krom in. Maar hy is in. 

Ek vra die familie, die ryk kinners wat die Lotto groot geslaan het met baie miljoene of ons moet slabs opsit op die kis want kluite op 'n kis is 'n nare geluid. Die man kyk my aan en bedank my vir my moeite. 

"Gooi toe." 

"Blomme vir as ons klaar is want jy weet die gat gaan inval?" 

"Kom vir toebroodjies en koffie, ons sal vir jou oorhou. Bring jou manne ook, ons sal hulle vergoed. Hy was 'n goeie man." 

Ons het maar self veldblomme loop pluk vir hom, want ons het probeer om te onthou dat hy darem hier was. Mens doen dit mos maar as dit 'n goeie man was. 

oester

 

  • 3

Kommentaar

  • Genugtig, wat 'n aangename verrassing. Was half bekommerd dat daar ’n lappie grond ook al vir jou oopgegrawe is. Met dood in die land is niemand meer sy lewe seker nie. Ek koop ook nie meer groen piesangs nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top