Slagter

  • 0

wat maak ‘n slagter in sy werksklere
in die skemer voor die hek
sy hande pienk soos pasgeslagte vark
sy oorstewels en -jas bloedbesmeer
en sy slagmes in sy gordel

is die slagter hier vir ‘n wyksbyeenkoms
‘n potjie poker of ‘n verrassingsparty
en wie laat hom wag by die interkom

die slagter is gysbert visser
hy kom uit ‘n vrugbare voorgeslag
van vissers vlytig met die vlymskerp lem
almal connoisseurs van die kruissnit

jou waarlik daar glip hy in by die motorhek
wat draal hy so voor die woonstelle
asof op soek na die teerste tenderloin
met die reuk van dierevet en -bloed
wat soos vlieë om hom swerm

en sy wat hom dophou deur haar venster
in haar uitgebleikte kamerjas en sigaret
wonder hoe hy weer gaan uitkom
wonder wie die gonser gaan druk
wonder of dit sy voetstappe is voor haar deur

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top