Slagoffer van omstandighede

  • 0

Foto: Canva

Slagoffer van omstandighede
(vir elke mishandelde vrou)

eens op ’n tyd
baie winters gelede
toe jy nog jonk en aantreklik was
en die onskuld soos sterretjies
geblink het in jou oë
wou jy net ’n verskil
in mense se lewe maak
met jou woorde wou jy die harte
van gebroke siele aanraak

geld en rykdom
was nooit deel van jou plan
jy wou net jou naaste help
soveel as wat jy kan
jy moet versigtig wees
het jou ma altyd gesê
kort voor lank het jy in die arms
van ’n dwelmbaas gelê

die klomp kontant in sy huis
was weggesteek in ’n kluis
jou oë het niks gemis
maar jy moes maak of jy blind is

jy het jou doof gehou
as jy skote hoor klap
en jou man met bebloede klere
by die voordeur instap
jy sou eers dae later hoor
een van sy vyande is vermoor

hy het gereeld op jou gegil
hy’t jou gereeld aangerand
by meer as een geleentheid
het jy in die hospitaal beland
jy het geglo hy sal verander
aan daardie hoop het jy bly klou
al het jy bewus geraak
van sy liefde vir ’n ander vrou

eens op ’n tyd
nie so lank terug
het jy in die nag
van hom probeer vlug
dit het gelyk of hy slaap
maar hy’t saggies opgestaan
en in ’n oomblik van woede
het hy jou doodgeslaan

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top