Slaap I
Snags slaap ek en my man
soos Racheltjie de Beer
en haar boetie
ek diep in ons miershoop
ingekruip en hy die deur
om al die onheil af te weer.
Slaap II
Snags slaap ek in die skaduwee van my man
die voue van sy lyf is klowe,
sy skouers knopperige pieke
sy sy is die kruin
snags slaap ek soos ’n kronkelende rivier
in die skadu van my man.
Slaap III
Daar is ’n kat in my man se keel
bedags lê hy opgekrul in sy bors
snags kruip hy uit en maak sagte miaaugeluide
daar is ’n langnaelkat in my man se keel.

