Skrywersonderhoud: Willem S van der Merwe oor Nuwe vrese

  • 1

Willem S van der Merwe se bundel Nuwe vrese is onlangs gepubliseer. Remona Voges het met hom daaroor gesels. 

Willem, hartlik geluk met jou nuwe bundel! As ek my nie misgis nie, het jy in 1985 met Son-dig gedebuteer. Hoekom het dit jou so lank geneem om ’n tweede bundel te publiseer? Het dit miskien iets te doen met jou eie “vrese” wat in die titel genoem word?

Ja, ek het aangehou skryf, maar nie weer probeer publiseer nie. My lewe het verander. Vanaf 1985, ná universiteit, het ek vir 13 jaar by die SABC gewerk as ’n klankingenieur, en baie betrokke geraak by radiodramas, stemwerk en musiek. Na my bedanking by die SABC, het ek voltyds begin fokus op fotografie en videoproduksies. En later het ek ook lank in Taiwan en Hong Kong gewoon, waar ek bemarkingsmateriaal vir sagtewaremaatskappye geskryf het in Engels. Vrese is altyd daar. Besweer die oues, en jy kry nuwes.

Daniel Hugo was ten nouste betrokke by die seleksie van gedigte en die samestelling van die bundel. Kan jy ’n bietjie uitbrei hierop asseblief?

Daniel Hugo het my sowat ’n jaar gelede gevra of ek nog gedigte skryf. Ek sê toe ja, ek skryf nog, maar ek het nooit weer probeer publiseer nie. Ons het toe ooreengekom dat ek hom alles stuur wat ek tot dusver geskryf het. Hy het keuses en voorstelle gemaak, wat uiteindelik in die bundel, Nuwe Vrese by Naledi verskyn het. Marlene Malan het baie gehelp met die proeflees en finale versorging.

Hoe vergelyk die gedigte met dié wat jy dertig jaar gelede geskryf het? Is daar tematiese ooreenkomste of het jy probeer wegbreek  van temas en tendense wat jy destyds gevolg het?

Ek het meer uitgebrei op sekere ou temas soos verlore liefdes en die dood, en metafore het meer afgestroop geword. Ek dink ek het ook minder byvoeglike naamwoorde gebruik. Less is more.

Wat beskou jy as die kernelemente van ’n  goeie gedig en uiteindelik ook ’n goeie bundel?

Wat is ’n goeie gedig? Dis soos om te vra wat is liefde? Wat is lewe? Wat is kuns? ’n Goeie gedig het ’n paar dosyn woorde nodig, moet opgebreek word in reëls en strofes, kort ’n metafoor of twee, benodig ’n bietjie rym soms, en hy moet iets sê.                               

Willem, jy is ook ’n musikant wat heelwat lirieke skryf. Wat is vir jou die uitdaging van gedigte, teenoor lirieke?

Lirieke is ondergeskik aan musiek. Lirieke moet verkieslik rym, en soek gewoonlik ’n herhalende refrein. Baie lirieke ontstaan na die musiek al klaar gekomponeer is. Gedigte moet op hulle eie kan staan. Gedigte wat getoonset word, kom baie keer musikaal stram en geforseerd voor, want die woorde dikteer dan die struktuur van die musiek.

Gaan ons nog 30 jaar wag vir ’n volgende bundel? Of waarmee hou jy jou op die oomblik besig?

 Ek hoop nie julle hoef so lank te wag nie. Mens voel maar altyd bietjie onder druk wanneer mense vra wat is volgende. Ek is op die oomblik besig om sommige van my “vertaalbare” gedigte in Engels te vertaal, sodat my vrou dit na Mandaryns kan vertaal vir ’n moontlike Sjinese mark. Daar is ’n paar nuwe vrese/verse wat ek nog bietjie aan karring en skaaf. Ek doen redelik baie fotografie- en videowerk, wat die pot aan die kook hou. “Life is what happens to you when you are busy doing other things” – John Lennon.

  • 1

Kommentaar

  • Anne-Ghrett Erasmus

    Dankie Willem en ook vir jou besoek in Wellington, by die Tuin van Digters. Was goed om jou weer te sien na al die jare. Sien uit na die volgende bundel! Veels geluk met die een.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top