Skrywersonderhoud: Hennie Smith oor Verskuilde verse

  • 1

Hennie Smith se nuutste bundel, Verskuilde verse, spreek van ’n diepgaande wetenskaplik-filosofiese insig oor die ontstaan van die kosmos en van die mens op hierdie planeet. Al die gedigte in die bundel berus egter nie op boustene uit die fisika nie. Remona Voges het met die skrywer gesels. 

Verskuilde verse
Hennie Smith
Uitgewer: Naledi
ISBN: 9781928518150

Hallo Hennie. Geluk met jou bundel, Verskuilde verse. Wat is die hooftemas in die bundel?

Vir my kom gedigte individueel, soos die muse haar aanmeld. Wanneer daar mettertyd genoeg verse is vir ’n bundel, deel ek die gedigte in afdelings in en soek so ’n patroon vir die bundel. So word dit gegroepeer in wat mens temas sou kon noem.

Die bundel is opgedeel in afdelings, soos jy pas genoem het, en in hierdie afdelings kom verskillende soort woorde aan bod. Kan jy asseblief ’n bietjie hieroor uitbrei?

’n Gedig het ’n patroon. Ek het gepoog om met die indeling van my gedigte in afdelings ook na ’n patroon vir die bundel te soek. Die gedigte het mooi in kategorieë van “woorde” ingeval. Onderliggend is die wonder van die “woord”.

Watter digters inspireer jou?

NP Van Wyk Louw het ’n blywende invloed op my aanvoeling en denkwyse gehad. Ingrid Jonker kon emosie vang in woorde. Ek het ook respek vir Uys Krige, miskien omdat hy treffende Franse gedigte in Afrikaans vertaal het.

Het jy ’n skryfroetine? Of is skryf vir jou ’n organiese proses?

Nee, ek het nie ’n roetine nie. ’n Idee meld sig aan, uit die bloute, of die donkerte, ek vang dit per vry hand op papier, verstel later enkele woorde, en plaas dit op rekenaar.

Kan jy ’n bietjie meer vertel oor ’n dag in die lewe van Hennie Smith? Hoe vind jou werk neerslag in jou gedigte?

Ek was ’n fisikus. Studie in fisika open ’n mens se denke oor die materiële vanaf die kleinste, subatomiese, tot by die grootste, die kosmos: Hoe hang die materiële totaliteit saam? En dan: Wat doen ons, homo sapiens, binne die materiële geheel? Tydens lang eksperimente by die kernfisika-afdeling van die WNNR het telkens ’n idee vir ’n gedig sig aangemeld. (Dit verskyn in my eerste bundel, Multivers.) Weens studie en lewenservaring het ek dus ’n wye denkraamwerk. Daarbinne beleef ek emosionele ervarings. Met ’n gedig probeer mens om so ’n ervaring binne die soepelheid van woorde te kompakteer.

Kan jy ’n bietjie oor die keuse vir die titel van die bundel vertel?

Ek kry al meer die gevoel dat ek nie die gedigte uitdink nie, maar dat ek dit ontdek, asof dit reeds bestaan. NP Van Wyk Louw het in ongeveer 1969 in ’n radio-onderhoud vertel dat ’n gedig ’n perfekte formulering het. Mens kan nie een woord verander nie; daar is ’n ideale formulering. Later het ek in filosofiestudies geleer van Plato se Ideëwêreld. Daarvolgens is daar ’n ideale bestaanswêreld. Ons leef hier in ’n afskaduwing van die ideale. Dit het my gelei tot die aanvoeling dat ek die ideale formulerings van gedigte in Plato se wêreld ontdek – dus “verskuilde verse”.

Daar is ook enkele Engelse verse in die bundel. Hoekom het jy besluit om dit in die bundel te sit, eerder as Afrikaanse vertalings daarvan?

Skerp vraag! Soos ek probeer sê het, ’n emosionele roering laat ’n gedig ontstaan. Die sneller vir die Engelse gedigte het in interaksie met Engelse persone gekom. Ek meen die intiemste weergawe van ’n gedig is in die oorspronklike taal. En feitlik alle Afrikaanssprekendes is ook Engels magtig. In my eerste bundel is daar ’n gedig wat in Frans ontstaan het. Daarvan het ek wel ’n Afrikaanse vertaling geplaas.

Die bundel is opgedra aan jou pa, Herbert E Smith. Het hy ’n deurslaggewende rol in jou liefde vir die poësie gespeel?

Ja, en ook my ma. My eerste bundel is aan haar opgedra. Sy het kortverhale gepubliseer, en my pa het soms saans skielik ’n gedig uit sy hoërskoolagtergrond geresiteer. Dit het my jong gemoed aangegryp! Gekompakteerde woorde wat ’n groot gebeurtenis of emosie vang.

Let asseblief op die Latynse aanhaling onder die verwysing na my pa: Aquilae muscas non capiunt. (Arende vang nie vlieë nie.) Ons almal, en veral digters, moet nie met trivialiteite omgaan nie.

As jy jouself in vyf woorde moes opsom, wat sou dit wees?

Mag ek dit vyf begrippe maak? Antennas ontplooi; soekend na waarheid; romantikus; vraend oor die ewige Woord; natuurdeurdrenk.

Sal jy so gaaf wees en een van die gedigte uit jou bundel met ons lesers deel?

Ek bied die titelgedig aan:

Verskuilde verse

In Plato se Wêreld van Idees
lê verse verskuil
woordkonstruksies
ingebed in die monoliet
van gedagte en begrip
ewige woord. 

Hoe sal ek dit ontdek
die grein vind
waar die lyne lê?

Met ʼn idee as beitel in my kop
kan ek sag op die groewe klop
strofe vir strofe ontbloot

tot die hele patroon
van woord en beeld
helder op papier vertoon.  

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top