Skrywersonderhoud: André Krüger oor Redelike hoeveelheid moeilikheid

  • 0

André, dit voel vir my asof jy met elke boek as skrywer verbeter. Soos Louis Esterhuizen tereg in sy onlangse resensie op Netwerk24 vermeld: jy het jou as een van die land se voorste spanningsverhaalskrywers onderskei en dit met 'n aanslag wat jou boeke in 'n uiters kompeterende landskap soos 'n paal bo water laat uitstaan. Na drie romans: wat beteken skryf vir jou? Is dit 'n roeping, 'n ambag, 'n uitputtende stokperdjie, of iets heel anders?

Skryf is vir my al die dinge wat jy daar noem. Soms dink ek dit is 'n soort waansin. Wat ek wel weet, is dat ek nie kan ophou nie. Dit is te veel deel van wat ek is.

Die twee lewens van Dieter Ondracek en Komplot het onderskeidelik inspirasie geput uit die Tweede Wêreldoorlog en die Spaanse burgeroorlog, dog is albei tekste veel groter as net die fokus op een tydgleuf, en veel meer ambisieus: dit wil blyk asof jy mikroskopies, amper obsessief, die lewe van die individu en die morele mens ondersoek. Te midde van oorlog, konflik, onsekerheid en die alomteenwoordige stryd om mag en heerskappy. Niemand sou kon sê dat André Kruger 'n gebrek aan kompleksiteit en verwikkeldheid in sy romans openbaar nie. My uiteindelike drieledige vraag is dus: hoekom maak die aksies van die individu in die groter maatskaplike bestel saak, hoe word so 'n storie aangedurf en watter uitdagings staar die skrywer in die gesig wanneer hy spesifiek oor die geskiedenis wil skryf?

Drieledig? Puntsgewys dan:

  • Dis te maklik om na groot gebeure te kyk en te vergeet dat individue, mense, dit moes deurleef en ondervind en verdra. Onder andere is dit een van die gevare van sistemiese denkwyses, hetsy fascisme, kommunisme, kapitalisme of sosialisme, wat 'n sjabloon van 'n meer of minder gewaande teoretiese of idealistiese patroon op mense wil afdruk. Stalin het mos gesê die dood van een mens is 'n tragedie; die dood van miljoene is 'n statistiek. Dit is een van die inherente dodelike gevare van ideologie.
  • ’n Mens durf die storie oorspronklik aan deur jouself in daardie posisie te plaas. Dit is 'n vraag wat myns insiens omtrent altyd die moeite werd is om te vra: Hoe sou ek in 'n gegewe situasie geleef, gereageer of oorleef het?
  • Die uitdaging, of een van die groteres, wat hierdie vraag betref, is in watter mate jy die geskiedenis kan verander om by jou verhaal in te pas. Soms is daardie veranderings groot, soms klein, en gereeld moet jy die waarheid rek en trek om by jou storie aan te pas. Dan moet jy maar net hoop jou lesers vergewe jou dit. 'n Mens moet jouself ook af en toe herinner dat jy fiksie pleeg en nie geskiedskrywing nie. Gelukkig is die waarheid mos baie vreemder as fiksie, en dit help skrywers soos ek baie.

Boek twee word gewoonlik gereken as die ware toets vir die skrywer, maar hier gesels ons nou oor boek drie. Waar kom die vonk vir Moeilikheid vandaan? Hoe lank loop jy al rond met die storie en hoekom is dit nou 'n goeie tyd om hierdie verhaal los te laat?

Moeilikheid verskil van die vorige twee omdat dit nie 'n spesifieke boek as sneller gehad het vir die oorspronklike idee nie. In Die twee lewens van Dieter Ondracek was dit Hannah Arendt se Eichmann in Jerusalem, en in Komplot, George Orwell se Homage to Catalonia. Moeilikheid het my op 'n interessante pad geneem. Dit het as iets begin, maar as iets heeltemal anders geëindig. En dit het baie te doen met die karakter van Robert Ferreira. Ek kan seker tong in die kies sê dat hy eintlik die vonk vir Moeilikheid is. Ek het wel op 'n boek oor die kaping van die Santa Maria afgekom, iets waarvan ek glad nie bewus was nie, en 'n selfgepubliseerde geskiedenis van die Unie-weermag se ontwikkeling van radar. Laasgenoemde het my baie geprikkel toe ek lees van die radarbeheerkamer wat tydens die Tweede Wêreldoorlog in die Kasteel ingerig was, in wat eens deel van Lady Anne Barnard se kamers was. 

Wat die tyd betref, ek let op dat die historiese gebeure waaroor ek skryf en geskryf het, steeds 'n nadraai in die daaglikse nuussiklus het. Jy sal miskien gesien het hoe die spanning onlangs weer opgelaai het in Ciprus omdat die Turke olie soek in die noordelike waters rondom die eiland. Die konflik daar in die sestigs, wat as agtergrond dien vir 'n deel van die boek, is steeds nie opgelos nie en dreig inteendeel weer om in 'n gewapende konflik te verander.

Hoe gemaklik hang die etiket van spanningskrywer om jou nek? Hoe sou jy jou romans klassifiseer en op die boekrak plaas? Jy is immers ook boekhandelaar

Alles moet 'n etiket dra, nie waar nie? Skynbaar verstaan ons die wêreld makliker so. Hoewel ek myself nie so sien nie, is ek nie ongemaklik om die etiket te dra nie. Daar is immers skrywers soos Sebastian Faulks, Louis de Bernières, Philip Kerr, Robert Harris en John le Carré wat dieselfde probleem ondervind. (Hoe matig ek myself nou aan, nè? Tussen die uitgelesenes!) Genres se grense is vloeibaar, nie in klip uitgekap nie en oorskry gereeld hulle perke. En dankie tog daarvoor, want sulke boeke is gereeld van die mees interessante en prikkelende boeke.

Boekhandelaars het natuurlik ander probleme ook: rakke en spasie is beperk. Graag soos wat jy dalk sou wou, kan jy nie besluit jy gaan 'n rak vir elke geur en smaak maak nie. Jy kan nie eendag besluit jy wil 'n rak maak waarop net alternatiewe historiese wetenskapsfiksie met rooi omslae gaan staan nie.

'n Redelike hoeveelheid moeilikheid is 'n ietwat ongewone, aweregse en tong-in-die-kies titel. Soos ek jou ken is jy 'n man wat sy binnepret nogal geniet hoekom spesifiek hierdie titel? Hou jy van aanhalings as titels vir romans en ander kunswerke? Is die titel 'n kopknik in die rigting van jou debuut, ook met 'n langer titel?

Ek hou van lang en speelse titels, iets wat bemarkingsmense die floutes gee. Byvoorbeeld, twee van my gunstelinge: After You with the Pistol, van Kyril Bonfiglioli, en A Big Boy Did It and Ran Away, van Christopher Brookmyre.

"I don't mind a reasonable amount of trouble," is 'n stukkie dialoog wat Humphrey Bogart kwytraak in die 1941-film The Maltese Falcon. Gegewe dat my protagonis oor die algemeen 'n fliekvlooi en spesifiek 'n bewonderaar van Bogart is, maak die titel vir my sin. Soms is dit al wat vir my saak maak – dat dit vir mý sin maak en ja, gereeld is dit 'n stukkie binnepret wat ek net vir myself hou. Dit geld nie net vir die titels nie. Dit is een van my plesiere om sulke dinge in die teks ook in te bou. In Moeilikheid, sou die leser so ingestel wees, mag dit interessant wees om te let op die vanne van die karakters. Daar is 'n motief.  

Hoe sou jy die verhaal in drie paragrawe of minder opsom? Het jy 'n ideale leser in gedagte?

Robert Ferreira is 'n Afrikaans-Portugese, Roomse majoor in die Suid-Afrikaanse Polisie met 'n voorliefde vir Humphrey Bogart-films. Voorheen was hy 'n soldaat – 'n vrywilliger – wat in die vreemde gaan veg het vir wat hy gevoel het reg en eerbaar is. Hy het standpunt ingeneem teen kommuniste, anargiste, fasciste en alles wat die Roomse Kerk bedreig het en daarna sy loopbaan in die polisie voortgesit. Na baie konflik en jare is hy ontnugter. Hy verstaan die wêreld is nie soos dit aan hom voorgehou is nie. Daar is baie grade van waarheid en leuens, van reg en verkeerd. Daar is geen volslae sekerhede nie en baie morele skakerings van grys. Mense is nie wat hulle voorgee om te wees nie; organisasies allermins.

Na 'n laaste gevaarlike sending vir Departement 3, 'n Suid-Afrikaanse koverte organisasie, om die gekaapte Portugese passassierskip die Santa Maria in Cabinda te ontset, om daar 'n Suid-Afrikaanse agent met gevaarlike inligting te onderskep of te red, roep hy ideologiese konflikte vaarwel en neem hom voor om voortaan 'n doodgewone geregsdienaar te wees.

Soveel as wat hy die skaduwees wil agterlaat, is dit hom nie veroorloof nie. Teen sin en wil raak hy by 'n internasionale intrige betrokke. Hy bevind hom in die geselskap van 'n baie aantreklike vroulike agent, 'n huursoldaat en 'n groep Franse geheime agente, op die spoor van Ursula Schreiner en Ruslan Gündüz, twee gevaarlike agente wat die Midde-Ooste wil destabiliseer en die atoombom aan Nasser se Egipte wil besorg.

In Ciprus veg hy vir sy lewe, in Libanon neem hy andere s'n.

Na hierdie gebeure sal sy lewe nooit weer dieselfde wees nie. 

Miskien is my ideale leser myself. Dit is meer problematies as wat dit voorkom. Ek is nie dieselfde leser as wat ek dertig jaar gelede was nie, soms nie eens dieselfde een wat ek laasweek was nie.

Is vooraf kennis van wêreldgebeure na WO2 'n voorvereiste om jou werk te kan geniet?

Nee, maar ek dink dit verryk die ondervinding van die lees van die teks om oor 'n mate van bewussyn van die geopolitieke konteks te beskik. Dit gesê, dit verheug my wanneer 'n leser vir my vertel dat hy of sy nie geweet het van iets wat hulle in een van my boeke gelees het nie, en toe daarna opgelees en nagespeur het.

Moeilikheid speel deels af in Suid-Afrika, maar die vertelling is ewe tuis in verskeie ander lokale. Kom ek begin met die moeiliker vraag: voel dit vir jou beklemmend of beperkend om slegs oor Suid-Afrika en met Suid-Afrika as ruimte en milieu te werk? Vertel asseblief meer van die "bestemmings" waarna die leser van hierdie roman kan uitsien?

Dit voel nie vir my beklemmend nie. Ek is elke dag meer bewus van hoe alles aan alles anders gekoppel is, hoe verweef alle menslike bestaan en ondervinding is. Ek kan hierdie gewaarwording deels terugspeur na my lees van 'n boek (groot verrassing!) oor die Foster-bende, misdadigers tydens die vroeë bestaansjare van Johannesburg. Daar lees ek toe 'n sin wat my tot stilstand bring. Tydens die vroeë 1900's was die grootste prostitusienetwerk in Johannesburg bedryf deur 'n bende misdadigers uit Brooklyn, New York. New York! Ons lewe almal in dieselfde wêreld. Mense is rusteloos en ons bestaan is grootliks gebou op, en afhanklik van, interreaksies met ander mense, alle ander mense, hetsy bekend of vreemd.

Moeilikheid se voorspel is in Nazi-Duitsland. Die verhaal self begin in Suid-Afrika voordat dit na Cabinda, Lissabon, Ciprus en Libanon verskuif en die nadraai speel in Parys af, net na die studente-opstande van 1968.

Watter van die plekke het jy al besoek, of het jy meestal op navorsing staatgemaak?

Ek was al in Parys, maar vir die res – navorsing, soos jy sê. Eendag wanneer ek mooi groot is, gaan ek al die ander plekke besoek.

Hoe sterk steun jy op jou agtergrond as akademikus wanneer jy navorsing doen, en ook met die skryf?

Om my as akademikus in te kleur, is gevaarlik naby aan 'n belediging vir akademici. Wat ek wel kan sê, is dat my selfdissipline te danke is aan die akademie, so ook my (byna verbete) pogings om akkuraat te wees wanneer ek met historiese gebeure omgaan.

Eers Dieter Ondracek, toe Thomas Jacobs en nou Robert Ferreira. Al drie manlike hoofkarakters wat buitengewoon beproef word in hul stryd om eerbare burgers te wees. Al drie is fassinerende antihelde en elk is terdeë bewus van hul eie skadukant. Dis vir my amper onmoontlik om jou werk te lees sonder om terug te gaan na Nietzsche, Foucault, Deleuze en Guattari, en ook natuurlik Carl Jung. Het jy 'n voorliefde vir filosofie en 'n voortdurende belangstelling in mag, argetipes en die donker dieptes van die mens, soos jou romans die indruk skep?

Die kort antwoord is ja. Die lang(er) antwoord is dat ek filosofie op universiteit ontdek en dat dit my ingrypend verander het. Dit het my geleer ek is nie alleen nie en daar is ander mense wat oor die menslike bestaan wonder. (Verskoon my terwyl ek vir 'n oomblik op loop gaan.) In 'n sekere sin kan mens sê dat alles wat ek skryf 'n ontginning is van die self/ander-digotomie. Soos Descartes en Sartre (onder andere) getoon het, kan ons net op onsself staatmaak om sin te maak van ons bestaan, maar ons bevind ons onafwendbaar tussen die ander, elke dag en in byna elke situasie. Feitlik elke oomblik van ons bestaan is 'n afweging van ons belange tussen die belange van andere. In die sin is iemand soos 'n Thomas Hobbes of John Rawls vir my meer insiggewend as 'n Derrida, byvoorbeeld. Foucault het egter myns insiens met baie interessante insigte vorendag gekom deur onder meer ondersoek in te stel na hoe mag funksioneer en hoe ons as individue daaraan uitgelewer is op maniere wat ons soms nie eens kan raaksien nie. Mag is in die samelewing ingeweef, is gedesentraliseer en oral. Hy kom êrens met die treffende beeld vorendag van die self voortdurend uitgelewer aan die blik van die ander. Hedendaags word daardie beeld al hoe treffender en die konsep al hoe gevaarliker vir die self te midde van die ander.

Die vrae jeens menslike bestaan wat ons die afgelope 5 000 jaar vra, het nie ingrypend verander nie, en dit beteken dat daar 'n direkte verbintenis is tussen ons nou en al ons voorvaders en -moeders toe. 

Hoekom die fassinasie met die antiheld? Beskou jy majoor Robert Ferreira as antiheld, en hoekom?

Ek sou hom nie noodwendig as 'n antiheld beskryf nie. Miskien is selfs die woord held onvanpas. Hy tree op omdat hy nie anders kan nie. Sy oortuigings dryf hom, sy sin vir wat reg en verkeerd is. Dit strook noodwendig en toenemend nie met dit wat deur maghebbers en outoriteit voorgehou word as reg en verkeerd nie, want soos George Orwell in 1984 skryf: "The object of power is power”.

Robert Ferreira is 'n eindeloos intrigerende karakter – 'n man van teenstrydige impulse en iemand wat geneig is om introspektief met sy ervaringe om te gaan. 'n Man wat voortdurend sy plek in die wêreld en sy rol daarin bevraagteken. Hoekom hierdie karakter skryf? Wie is Robert in geselskap en wie is hy as hy alleen is? Voel jy (ook) dat die "effens bevlekte held" tot sy reg kom in die sosiale klimaat waarin ons onsself tans bevind een waar ware leierskap, etiek en samehorigheid voortdurend onder die vergrootglas geplaas word?

Merendeels tong in die kies kan 'n mens sê daar is mense wat die moeilikheid begin, en dan is daar mense, soos Robert, wat die moeilikheid klaarmaak. Andersins is hy sekerlik 'n vergestalting van my verstaan van mense – dat hulle beide die goeie en die bose omvat en dat hulle voortdurend, as hulle "goeie" mense is, 'n baie bewustelike balans tussen die twee moet tref.

(Ek gaan weer op loop.) Dit veroorsaak dat mense inherent, en diep, ambivalent is. Die spanning tussen die pole, (gaan ek nou sommer op 'n drafstap), is die energie wat ons aandryf.

(Op 'n galop.) Was dit nie daarvoor nie, was alles staties en onveranderlik. Ons bevind onsself ingewerp tussen die stuwing en entropie, tussen orde en chaos, tussen wysheid en onkunde, tussen vrede en geweld.

(En dis genoeg oefening vir my vandag.)  

Intertekste, wanneer oortuigend aangewend, verleen 'n dieper dimensie aan 'n vertelling. Met Moeilikheid kan Van Wyk Louw se meesterstuk Raka uitgesonder word. Hoekom juis Raka? Is die bose iets wat daarbuite vir ons wag, of het ons almal iets van die bose diep binne ons?

Ek dink ek kan hier net verwys na my antwoord hierbo en daarmee volstaan, want ek is skoon uitasem van al die op hol gaan. Maar wat Raka betref, vind ek dit 'n byna eindeloos verrykende teks. Elke keer wanneer ek dit lees, tye soms dekades van mekaar verwyder, beïndruk dit my opnuut, val iets anders en diepsinnigs daarin my op. Die stryd tussen goed en kwaad is deel van ons, onlosmaaklik.

Moeilikheid berus op 'n effe stadiger vertelling in veral die eerste helfte en kry dan geweldig spoed in die tweede helfte. Was dit doelbewus? Het jy 'n voorkeur tussen die skryf van aksie en tonele met geweld en meer introspektiewe, filosofiese passasies? En dan natuurlik: hoe word spanning, intrige en diepgang met mekaar versoen?

Die tempoverandering is doelbewus, om vanselfsprekende redes. Fiksie is storie vertel, oor en vir mense. Dit moet die aandag hou. Dit is ook so dat ons op verskillende maniere (byvoorbeeld) besluite maak en handel. Soms oordink ons alles tot in die fynste moontlike besonderhede en soms is ons halsoorkop. Dis tog wat ons interessant maak, nie waar nie? Fiksie is 'n spieëlbeeld van ons ondervinding van die werklikheid, maak nie saak hoe skeef, krom of verwronge die spieël (of ons) is nie.

Jy is al in die verlede wyd lof toegeswaai vir die wyses waarop jy plek en ruimte beliggaam. Hoe sien jy die verhouding tussen mens en omgewing? En watter impak het plek en ruimte op jou karakters, dikwels geteister deur konflik en oorlog, in Moeilikheid?

Om Heidegger (onthou ek reg, was dit hy?) geweld aan te doen - (Heidegger, Heidegger was a boozy beggar who could drink you under the table.) (Nee, ek weet ook nie hoekom Monty Python ons nou in die rede geval het nie.) - ons vind onsself gewerp in 'n situasie, in die lewe, om dan daarvan sin te maak. Ek sê eerder niks meer nie, want netnou-netnou is die Spaanse Inkwisisie ook hier. 

Hoe beskou jy die verhouding tussen feit en fiksie wanneer jy fiksie skryf? Is daar enige onderwerpe waaroor jy nooit sou skryf of sou kon skryf nie?

Dis 'n moeilike een. Ek dink ek sal eers weet daar is iets waaroor ek nie kan of wil skryf nie as ek dit probeer doen en nie kan nie. Wat die verhouding tussen feit en fiksie aanbetref: dit is intiem, selfs bloedskandelik.

Wat lees jy op die oomblik, en watter publikasies het jou tot sover in 2019 beïndruk?

Op die oomblik lees ek Lara Prescott se debuutroman wat komende September verskyn, The Secrets We Kept. Dit handel oor Boris Pasternak se boek Doctor Zhivago. Dit is fiksie, maar gebaseer op die waarheid. Die Sowjet-Unie wou nie toelaat dat die boek gepubliseer word nie omdat dit, volgens hulle, negatiewe sentiment teenoor die regime openbaar het en die manuskrip is toe uitgesmokkel en eers in Italiaans gepubliseer voordat dit 'n wêreldwye treffer geword het. Die Amerikaanse CIA het dit as waardevolle propaganda gesien, afskrifte laat druk en versprei aan uitgesoekte Sowjet-burgers. (Soos ’n mens soms van die werklikheid sê: "You can't make this shit up.") Die boek was so skitterend dat die Nobelprys vir Letterkunde in 1958 daaraan toegeken is. Pasternak het die prys eers aanvaar, maar die Sowjet-regering het hom ingelig dat sou hy Oslo toe reis om dit teontvang, hy nie sou kon terugkeer na Rusland en sy familie nie. Hy is twee jaar later oorlede, sonder om sy Nob elprys in ontvangs te neem. Prescott se roman is baie interessant omdat dit meer gewig gee aan die rol wat vroue gespeel het in die hele besigheid, ook as agente en spioene, iets wat vantevore misken is.

Doctor Zhivago, beide die boek en die film is, vanselfsprekend, gunstelinge van my.

Die boek wat my tot sover vanjaar die meeste beïndruk het is Harry Kalmer se In 'n land sonder voëls. Dit is 'n wonderlike boek, vol medemenslikheid en diepe verstaan van ons, beide as mense en Suid-Afrikaners, en dit breek my hart dat sy stem nou stil is.

In watter mate bly dit 'n uitdaging om karakters uit te beeld as meer as blote slagoffers van hul omstandighede? Of is dit dalk juis die idee om te wys hoe onafwendbaar tragiese gebeure is in samelewings waar geweld en onreg mekaar so gereeld omarm?

Dit is en bly 'n groot uitdaging, deels omdat dit 'n mate van optimisme vereis oor mense en die lewe waaroor ek gereeld nie beskik nie.

Robert Ferreira besef dat alles in sy lewe, en ook in sy huwelik, nie mooi pluis is nie. Hoe het hy vorm aangeneem as karakter? Hoe is sy verhouding met sy vrou, Sylvia, en sy skoonfamilie? Beskou jy Robert as buitestaander, en hoekom?

Hy is nie noodwendig 'n buitestaander nie, maar eerder iemand wat nie al sy kaarte wys nie. Dit lei daartoe dat ander mense hom nie altyd sien as sentraal tot hulle eie verhaal nie.

As karakter het hy my gereeld onkant betrap. Hy het sy onstaan gekry in Komplot. Sonder om my tinfoeliehoedjie op te sit, wil ek sê dit was redelik vreemd hoe hy opgedaag het, so asof ek op 'n straathoek hardop gestaan en dink het oor die karakter wat ek nodig het toe hy verbystap, vassteek en sê: "Verskoon my, ou bees. Ek het nie bedoel om jou af te luister nie, maar ek hoor jy soek my." Hy het as't ware in my lewe ingestap, net soos hy is.

Moeilikheid het verskeie femme fatales. Wat is vir jou die lekkerte aan skryf oor vroue wat tegelyk ongelooflik mooi en sexy is, dog ook bitter intelligent en berekend?

Die mooi en sexy is eintlik bysaak, want dit gaan oor die intelligensie. Die mees bekoorlike vrouens wat ek al bevoorreg genoeg was om te ontmoet, was deur die bank hoogs intelligent. Wanneer ek eendag werklik windgat voel, gaan een van hulle my hoofkarakter wees.

Grys areas is altyd volop in 'n André Kruger-roman. Onskuld en reinheid is natuurlik iets wat bitterlik skaars, indien enigsins moontlik, in die wêreld van die noir is. Jy het 'n voorliefde vir noir-karakters soos Phillip Kerr se Bernie Gunther, en vir die noir-films van veral die dertigs en veertigs. Vertel asseblief meer van die inspirasie vir hierdie roman. Tot watter mate het die siniese wêreldbeskouing van noir neerslag vind in Moeilikheid?

Soos vroëer opgemerk, mense is in staat tot die goeie en die bose, en het die potensiaal vir beide in hulle opgesluit. Die beoordeling is dan in die besluite wat gemaak word, die balans wat getref word, tussen die twee, en tussen ons eie belange en die van andere. 'n Vorm van morele ambivalensie is daarom myns insiens 'n gegewe.

Ek dink nie die boek sou gewerk het sonder die noir-element nie. Miskien is dit ook 'n newe-effek van ouer word, dat ’n mens meer sinies word, meer die vraag qui bono? wil vra as jy na die wêreld om jou kyk, wanneer jy makliker, as gevolg van ondervinding in die verband, kan sien hoe mense gemanipuleer word. Die wêreld se optimisme aangaande tegnologiese vooruitgang is hard in die bek geruk deur die oorlog van 1914 tot 1918, toe dit ingespan is om miljoene dood te maak. 'n Noodwendige sinisme het daarna ingekruip, versterk deur die oorlog van 1939 tot 1945 en die koms van wapens wat alle lewe op aarde kan vernietig. Noir, in sekere opsigte, reflekteer hierdie sinisme wat deel van bestaan en ervaring geword het.

Wat my betref is jy op 'n drafstappie een van die vernaamste prosa-stiliste in ons midde. Vertel ’n bietjie meer van jou proses, jou benadering tot woorde op die bladsy?

Vleitaal; ek bedank u. My proses is benaderd chaoties. My proses is die anti-proses. Ek doen wat ek kan, wanneer ek kan en waar ook al ek kan. My notaboek gaan waar ek gaan, want ek het al geleer dat ek myself 'n rat voor die oë draai as ek dink ek sal later die guitige sin, gedagte of idee onthou wat ek nou net uitgedink het. 

Hoe weet jy wanneer iets werk, en wanneer nie?

Ek weet nie altyd dadelik nie. Soms is dit goed om iets wat jy geskryf het vir 'n lang periode te los en dan terug te gaan. 'n Mens raak baie maklik verstrengel in jou eie woorde, tot so ’n mate soms dat andere jou moet red. Dis 'n komplekse heen-en-weer tussen jou en die woorde. Soms lees jy die volgende dag iets wat jy geskryf het en gooi jou hande in die lug van skok en walging. Soms is jy gelukkig genoeg om later met 'n verbaasde glimlag jou kop te skud terwyl jy dink dis regtig nie te sleg nie. In uitsonderlike gevalle beïndruk jy jouself, maar net as die volmaan blou is en twee jakkalse gelyktydig in harmonie begin jodel terwyl slange seilskoene aantrek.

Sien jy elke toneel voor jou afspeel soos in 'n film? Dan: watter van die karakters, tonele of wendings in Moeilikheid het jou die grootste kopsere besorg? Enige belhamels wat eenvoudig nie wou saamwerk nie?

Die een kan ek net antwoord met ja en nee. Ek kan nie sê wanneer beelde woorde oorrompel en andersom nie, net dat albei daar is, in my kop.

Met 'n verweefde intrige soos Moeilikheid is die uitdaging om alles bymekaar te hou en sin daarvan te maak, om sover ek kan seker te maak daar is nie teenstrydighede, inkonsekwenthede of foute nie. Omdat ek te lui is aan die een kant, en nooit genoeg tyd het aan die ander, om alles mooi netjies uit te skryf en op notas, diagramme, grafieke en dies meer te beplan nie, moet ek dit alles in my kop hou. Dit beteken dat die geraas in my skedel soms nogal oorverdowend word. In die sin was die karakters en die teks baie minder belhamelrig as ekself.

Die eerste en finale tonele in Moeilikheid, soos met Dieter en Komplot, is van die hoogste gehalte. Die sirkelmotief, en die geskiedenis as siklusgedrewe, word voortdurend vooropgestel. Wat is na drie romans, en 'n vierde binnekort op die rakke, die bevredigendste aspek van skryf?

Alles daarvan. Gloria Steinem het gesê: "Writing is the only thing that, when I do it, I don't feel I should be doing something else." Ek voel net so.

Wat kan ons van jou vierde roman verwag?

As alles volgens plan verloop, verskyn hy om en by April volgende jaar. Dis 'n aardige boek oor aardige mense, het ek dit al by geleentheid beskryf, en handel oor die grootwordjare van 'n jong man, van skoolkind tot misdadiger, tydens die tagtigs en negentigs ter plaatse. Sensitiewe lesers gaan dalk die vlugsout byderhand moet hou vir die een. 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top