Skrywers inspireer onnies en leerders met Jeugdag-boodskappe

  • 0

In die week waarin Suid-Afrika Jeugdag (16 Junie) te midde van die COVID-19-pandemie vier, het Afrikaanse skrywers ’n positiewe boodskap vir taalonderwysers en leerders. Hulle onthou ook die onderwysers wat hulle destyds op skool geïnspireer het. Lees wat Fanie Viljoen, Nadia de Kock, Wilken Calitz, Martin Steyn en Wilna Adriaanse sê.

........................

Fanie Viljoen

Fanie Viljoen se Donker web, die opvolg van Onderwêreld, het pas verskyn. (Foto’s verskaf)

Boodskap aan taalonderwysers

Onderwysers het ’n ongelooflik moeilike werk. In hierdie pandemie-tyd word julle ligbakens in ons gemeenskap. Soveel word van julle verwag: om steeds julle leerders te motiveer, steeds te presteer, steeds meer en meer ure aan administrasie, video’s, selfoonboodskappe en duisende ander goed af te staan terwyl julle jul eie gesinne moet versorg.

Om dan nog te verwag dat julle ’n liefde vir lees in dié tyd moet kweek, is amper te veel gevra. Jy kan geen kind regtigwaar forseer om te lees nie. Jy kan egter probeer om die regte boek by die regte kind uit te bring. Dalk net daardie een boek wat hom gaan aangryp, miskien ’n rigtingwyser vir sy lewe word, waarin hy homself kan sien, wat hom minder alleen sal laat voel, wat met sy hart gaan praat.

Boodskap aan leerders

Voel jy teen hierdie tyd of jy kan gek word van vier mure? Van die mense om jou se geselskap? Van jou eie gedagtes? Van huiswerk? Daar is ’n manier om te ontsnap. Boeke. Hulle word soos daardie geheime deure na ’n ander wêreld, ander mense, ander idees.

Selfs al hou jy nie van lees nie, is daar iewers ’n boek vir jou. Dit staan daar op ’n rak in ’n boekwinkel, biblioteek of in julle huis, en dit wag vir die dag wanneer julle mekaar vind. Dit kan ’n grafiese roman wees, ’n kort spookstorie, ’n liefdesverhaal, ’n biografie oor ’n rugbyspeler, akteur of avonturier. Dalk is dit net ’n lekkerlees-storie of ’n boek oor motors, vuurpyle, toorkunsies, grappe, wat ook al. Maar jou boek wag vir jou.

Fanie Viljoen se gunsteling-onderwyser toe hy op skool was

Dr Anita Fourie was twee jaar lank my Afrikaansonderwyser op Goudveld Hoërskool. Sy was geweldig inspirerend en het my altyd aangemoedig om te skryf. Een stukkie raad wat ek altyd sal onthou: “Jy moet jouself uit ’n papiersak kan organiseer!”

Die skool het elke jaar ’n Uit die skrywerskan uitgegee – ’n bundel goeie skoolopstelle, netjies getik, afgerol en gebind met een van die leerders se kunswerke op die voorblad. Net verlede week het ek weer ’n selfoonboodskap van dr Fourie ontvang toe sy die Skrywerskan-uitgawes in ’n “nostalgiese terugreis” opsoek. “Jou naam verskyn by soveel bydraes en dit was reeds in daardie tyd duidelik dat jy die talent het om verdere hoogtes te bereik. En hoe woeker jy nie met daardie talent nie!” Sulke mooi woorde, na al die jare, en steeds ’n inspirasie, steeds jou Afrikaansonnie.

Nadia de Kock

Nadia de Kock se Die wolkversamelaars het einde 2019 verskyn en uitstekende resensies ontvang. (Foto’s verskaf)

Boodskap aan taalonderwysers

Ek wonder of taalonderwysers besef hoe belangrik hul werk is. Dit is vir my opvallend dat mense gewoonlik hul taalonderwysers uitsonder wanneer hul oor positiewe invloede op hul lewens praat. Hierdie onderysers wys vir leerders ander realiteite en verhelder terselftertyd ook hul binnewêrelde. Veral nou, in ons ingeperkte staat, bied lees uitkoms.

Boodskap aan leerders

Boeke is ’n poort na soms boeiende, soms betowerende en meestal nuwe wêrelde. Dit is ’n geredelik beskikbare manier om uit ons omstandighede te ontvlug, en is ook ’n besonder goedkoop alternatief vir reis, daardie ander groot kopoopmaker.

Nadia de Kock se gunstelingonderwyser toe sy op skool was

Tinus Kühn, my Engels-onderwyser, was passievol oor sy vakgebied. En belangrik: Hy het letterkunde en poësie ingespan om ’n rebelse tiener in haar spore te stuit, haar ’n sleutel na haar verbeelding te gee, en haar te help vlug van die Moot in die seventies.

Wilken Calitz

Wilken Calitz se debuutroman Swart swaan is pas deur Umuzi gepubliseer. (Foto’s verskaf)

Boodskap aan taalonderwysers

Moedig jou leerders aan om enigiets onder die son te lees. Ek het baie swak presteer in taal, want dit het altyd gevoel die voorgeskrewe boeke is die enigste literatuur wat ons mag lees en dan moes jy nog op ’n sekere manier daaroor dink ook. Hierdie tyd is die tyd om die leerder in bevel te sit van sy eie kurrikulum. Dit sal ’n dryfveer wees vir ’n kreatiewe omskakeling van informasie na persoonlike uitdrukking.

Onsekere en uitdagende tye is en was nog altyd ’n teelaard vir baanbrekerswerk in die literatuur. Leerders kort dalk net iemand wat sê dis oukei om hul swaarkry in hierdie tyd in woorde te beskryf en dit met die wêreld te deel. En ja, Instagram is tans die grootste uitgewer van tienerpoësie.

Boodskap aan leerders

Wil jy die interessantse persoon by die eerste postlockdown partytjie wees? Lees is soos ’n gratis trip na enige plek op aarde of in die heelal. Jy kan ryloop deur sterrestelsels (John Adams, The Hitchiker's Guide to the Galaxy), in ’n fantasiewêreld van die coolste mense ooit ontmoet (enige boeke van Terry Pratchett), selfs vir ’n paar maande in ’n bootjie op die oseaan ronddobber … met ’n Bengaalse tier aan boord (Yann Martel, Life of Pi). Ek was laasweek reg langs Elon Musk toe sy eerste suksesvolle vuurpyl (na die sesde probeerslag) die hoogtes ingeskiet het (Ashlee Vance, Elon Musk) – true story.

Wilken Calitz se gunstelingonderwyser toe hy op skool was

Louis Esterhuizen was my gunsteling-Afrikaans-onderwyser by Pretoria Boys’ High School. Hy is eintlik ’n rockstar met ’n das en ’n netjiese broek. Sy fokus was nie op spelling, gramatika en ander taalgereedskap nie. Hy het vir ons heavy metal in die klas gespeel, die lirieke van bands ontleed en ons aangemoedig om dit wat ons interessant vind, te gaan soek en dit met die ander ouens in die klas te bespreek. Dit is sulke "rebelle"-onderwysers wat ’n liefde vir Afrikaans bevorder en nie die aanmoediging van leerders om ’n A-gemiddeld te kry nie.

Martin Steyn

Donker spoor is een van die treffers uit Martin Steyn se pen. (Foto's verskaf)

Boodskap aan taalonderwysers

Op hoërskool het ek nooit Afrikaans gelees nie, want elke nuwe voorgeskrewe boek het my verder oortuig om by Engels te bly, waar ons boeke soos Lord of the flies behandel het. Die enigste uitsondering was ’n kortverhaal in matriek, en was dit nie vir My Kubaan nie, twyfel ek baie sterk of ek vandag in Afrikaans sou geskryf het. Geen nuwe insig hier nie, net nog ’n voorbeeld van waar die regte storie vir die regte persoon die deurslaggewende verskil gemaak het. Want dit het my later François Bloemhof se boeke ’n kans laat gee. En uiteindelik uit nuuskierigheid ’n storie in Afrikaans laat begin skryf.

Die onderwysers wat kinders inspireer om stories te lees, is helde, want sonder lesers bly ’n storie maar net woorde op ’n hardeskyf of papier.

Boodskap aan leerders

Ek hou van stories, of dit nou op papier of ’n skerm is, en ek lees stories, kyk stories en speel stories. Maar hier is die een verskuilde voordeel van lees. Ek is ’n groot aanhanger van The Witcher. Ek het begin met die videospeletjies, toe die boeke en onlangs die reeks op Netflix. En ek het van al drie gehou. Die speletjies is van die beste wat ek nog gespeel het. Ten spyte van groot angstigheid was die reeks besonder goed en ek sien baie uit na die volgende seisoen. Maar die reeks gee vir jou alles – jy sit net en absorbeer dit. Die speletjie laat jou deelneem, jy beheer Geralt, jy neem kritieke besluite, maar alles word nog steeds vir jou gegee – jy is net ’n aktiewe deelnemer in die wêreld. In die boeke moet jy daardie wêreld in jou verbeelding skep met wat Andrzej Sapkowski vir jou op papier gee; jy moet Geralt en Roach en Yennefer en al die monsters en plekke in jou kop skep. Verbeelding is soos ’n spier: Jy moet dit oefen, en hoe meer jy dit oefen, hoe sterker en ryker en helderder word dit. Plus, in die Witcher-boeke veral is daar soveel skerp stukkies wat nie in die ander twee mediums uitkom nie. Boeke gaan gewoonlik dieper, dis hoekom die boek amper altyd beter is as die fliek.

Martin Steyn se gunstelingonderwyser toe hy op skool was

So moeilik om een te kies. Ek gaan meneer Scheepers vat, want hy het eerste by my opgekom. Meneer Scheepers het in standerd 5 vir ons wiskunde gegee. Hy het ’n rooierige gesig gehad en blonde hare wat soos ’n tent oor sy voorkop gehang het en ’n stem soos ’n boom wat in ’n woud kraak. Hy het ook ’n gladgeskuurde houtstokkie gehad waarop daar STOMPIE gestaan het. Ek en Stompie het mekaar intiem leer ken. Meneer Scheepers was streng oor huiswerk en fokus in die klas. Hy het nooit gelyk of hy plesier daaruit kry om ’n kind te slaan nie, maar hy het dit ook nou nie toegelaat om hom te keer nie. Maar niemand was ooit kwaad daarna nie, want die reëls was van die begin af duidelik uiteengesit en meneer Scheepers het altyd so ’n kopskudglimlaggie gehad wanneer een van ons laks daarmee omgegaan het. Hy het regtig belang gestel in elkeen van ons se prestasie en ek kan nie onthou dat hy ooit gefrustreerd met ’n kind geraak het nie. Inteendeel. En die klas se gemiddeld het met minstens 10% gestyg. Kinders wat na syfers gekyk het asof dit iemand se afgekrapte rofie was, het skielik regop in die klas gesit. Meneer Scheepers en Stompie was ’n formidabele kombinasie.

Wilna Adriaanse

Wilna Adriaanse is die skrywer van onder meer Eindspel. (Foto’s verskaf)

Boodskap aan taalonderwysers

Eerstens wil ek dankie sê aan elke onderwyser wat gedurende hierdie uitdagende tyd opdaag, en sodoende help om ’n verskil te maak. Wanneer ’n mens later in jou lewe terugkyk, is dit nie noodwendig die akademiese lesse wat jy onthou nie – jy onthou veral ook die ingesteldheid en toewyding wat onderwysers dag na dag openbaar het.

Ek dink in hierdie tyd gaan dit nog belangriker as ooit wees om die hek so ’n bietjie oop te maak. Om leerders bloot te stel aan die hele spektrum wat byvoorbeeld Afrikaans nou bied. Van die klassieke literêre tekste, populêre fiksie, gedigte van die jong stemme, en Afrikaanse hip-hop soos HemelBesem, Jitsvinger en ander se lirieke wat ons uitdaag, tot by die films wat deur ’n jonger generasie filmmakers gemaak word. Gooi die hekke oop, dop hulle op hulle koppe en laat die kinders die wêreld uit ’n ander hoek sien. Dis ’n ander wêreld, met ander horisonne.

Boodskap aan leerders

Emoji's kan ’n mens net só ver bring – daarna het jy taal nodig.

Die wêreld soek op die oomblik naarstig na ’n entstof vir die gevreesde virus. Wetenskaplikes skarrel om voor te kom. Ons leer skielik mediese terme wat ons nog nooit vantevore geken het nie. Deur al hierdie vreemde begrippe loop een draad, en dit is die draad van kommunikasie.

Aan die een kant kommunikasie met geliefdes. Ons smag na bymekaarwees en ons gesels oor al wat ’n platform is. Aan die ander kant is dit kommunikasie om die nuanses van die gebeure te verstaan, want ons oorlewing is op die spel.

Dis ’n algemene opvatting dat lees ’n mens se horisonne verbreed, maar dis nie al wat lees doen nie. Lees leer ons ook om te praat. Dit gee ons gereedskap of instrumente om onsself hoorbaar te maak, en stel ons ook in staat om ander te hoor en te verstaan. En baie dikwels help dit ons om die wêreld beter te verstaan. En as daar al ooit ’n tyd was waarin dit belangrik was om mekaar en ons wêreld te probeer verstaan, is dit nou.

En dan is daar natuurlik altyd die wegkom wat lees bied. Vir ’n uur of wat per dag kan jy die wêreld agterlaat en jouself dapperder verbeel as wat jy dalk op daardie dag voel. Jy kan skurke jaag, die wêreld help red, of saam met ’n mooi meisie verlief raak op ’n aantreklike vampier. Die moontlikhede is eindeloos.

Wilna Adriaanse se gunstelingonderwyser toe sy op skool was

Meneer De Wit het vir my op ’n stadium Afrikaans gegee. Ek was altyd lief vir taal, en dit het net vir my gevoel asof hy nie die taal in ’n boksie wil inperk nie. Dit het in sy klas gevoel of die moontlikhede met die taal groter is as wat ek nog altyd gedink het.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top