Hier is al Week 4 se inskrywings. Skryf nou in vir Week 5 en wen R2 000 met jou politieke limeriek. Al ons weekwenners kom in aanmerking vir die Groot Prys van R10 000!
Kompetisiebesonderhede:
Jacolien Odendaal
Semenya’s ’n bul van ’n vrou
Sy vlieg soos ’n voël uit ’n kou
sy is wie sy is
sy hol hulle kis
ons volkie se pou van ’n vrou
Christelle van Rooyen
Verkiesingsbeloftes
Elke party weet van belowe
Tesame kom ons áls te bowe
Maar niemand sal erken
Dit gaan áls net oor wen
Ná verkiesings sit ons in howe!
Francois Bekker
Lees gou hier, dis ons manifes
en beloof veel meer as die res
Wat om te vat, wat om te los
Hulle lei ons weer om die bos
Politiekery word net weer protes
Annie Saayman
Op die soustrein is gepleeg en gemaai
Daarʼs geplunder, die trieks is getraai
Die vetkatte van Bosasa
Los toe bokkerol vir die massa
Maar die pêre se pere begin braai
Susan Barendse
In parlement heers daar ʼn vete
Oor watter taal besit al die skete.
Van elf is te kies
En gou is ek vies
As ek voel my taal is vergete.
Gustaf Claassens
Aasvoëls
Die politieke aasvoëls is in vlug
met beloftes om probleme te oorbrug
dit gaan glo die hele land verander
maar die een lieg soos die ander
en ons weet, dis sommer alles ʼn klug
Sonja Brown
ʼn Blikbord diktator genaamd Zoema
Wil hê al die wittes moet poema
ʼGee vir my als!’
– ʼn Hartseer wals –
Op die ritme van Nkaaaaandla ghoema ...
Antje Nortjé
Zombieland
Hy lê daar stokstyf in sy kis,
onse eie Afrika Lasarus.
Met ʼn mond wyd oop
soos ʼn hemp sonder knoop
Nes ʼn zombie verrys hy – ʼn wonderwerk gewis!
Elmarie Viljoen-Massyn
Patrysie, vol durf en vol moed,
gaan solo, glo dié keer vir goed.
Die stembrief verbreed,
raak meer geskakeerd:
the ugly, the bad and the Good.
Hannes Visser
Vals hoop
ʼn dominee van mdantsane
sê hy kan dit glad nie verstanie
dat ministers wat lieg
en miljoene bedrieg
glo hulle sal hemel toe ganie
Martie Coetser Pozyn
By SAUK in Gauteng
Was hoofbaas genaamd Motsoeneng
Groot ego sy baas
So mal soos ʼn haas
Regeer wil hy weer o, so eng.
Amanda De Meillon
In die land waar die suikerriet staan
Woon ʼn man met ʼn stortkappie aan
Lok vroue na hom met ʼn mantra
Almal stort saam in Nkandla
En wonder wáár kom die kinders vandaan.
Carine de Beer
In Mei moet ons almal gaan stem
om die malle Malema te tem.
Hyʼt net dertien persent
die gevaarlike vent
ry die media bloots sonder rem!
Mary Jane Clarke
Geroeste doringdraad politiek
Eish! Die lawwe gier van leëbelofte politiek is alweer hier!
Om misbruik te word vir elke comrade se verdraaide plesier
Ek chill-lax liefs op my geroeste doringdraad
Want vandag se politiek bevat te veel verraad
Na bloedige bekgevegte verdamp dit weer soos ʼn uitgedrukte klier!
Paula Hartzenberg
Daar kom vanaf oos spreeus drie,
al drie vreeslik lief vir hoog vlie.
Hul fuif o so graag,
dis hoog en dis laag –
ons sien toe van Zuma die alie.
Jenny Jansen van Nieuwenhuizen
Daar was ʼn kommissie genaamd Zonda
Wat gesoek het vir mense sonder sonde
Baie het gepleit
Sommiges sonder spyt
Die ander die lek nou hul wonde
Herman Berry
Aggenee o wee, nog ’n bot politieke sot!
Wat borrels leë woorde gorrel, so verspot.
Tog ’n kruisie langs die ANC
weer ’n blanko tjek gegee.
So ploert dit voort van verrot tot bankrot.
Gerrit Wissing
As jy ooit sit wonner wie Julius
Oor die rooipet gespuis waar hy leier is
Hy’t sy oog op jou grond
Hy beloof hand en mond
dat ʼn droomland gou kom waar geen wittes is
Belinda Simpson
Politieke leiers hol rond tussen nasies
Hulle is op soek na sensasies
Leiers wat hemp en hoed gratis uitdeel
Aan lede wat van oral aanteel
Somber gesig loer leiers na die konsternasies
Transvaler
Daar was eens ʼn man genaamd F W
Wat ons goeie land net so weg G
Vir die Prys van Nobel
Is als na sy hel
En ons mense vlug almal oor C
Elma Hancke
Daar was eenmaal ʼn Pres genaamd Zuma
sy graad sou hy nooit nie kon cumma
Hy hêhêhêhê
ons lag tot ons lê
die Pres is nou skielik nie meer Zuma
Andreas van Rooyen
ANC het gekom om te red.
Beloof hul antwoord volk se gebed.
Hul vergryp aan mag.
Die land lê verkrag.
Generasies se toekoms verwed.
Giep van Zyl
Cyril’t beloof om te luister
na my en jou se gefluister
nou wag ons in spanning
vir korrupsieverbanning
maar sit altoos in die duister
Hélen Möller
Gerugte loop rond dat Radebe
Al die krag in die land wil afhê.
Dan verskyn daar ʼn held
Met sakke vol geld
In die vorm van sy swaer Motsepe.
Annalene Kinghorn
Hier in ons ou land in Afrika
woon ʼn knaap met die naam Malema
Altyd getooi in rooi
Vir my is dit so mooi
Was hy tog net nie ʼn mamparra!
Maré Taljaard
Die vakbonde is baie ontsteld
oor die misdaad en oor die geweld
daarom brand hul ʼn trein
lê die strate in puin
en vra dan die regering vir geld.
Christa Botha
Politiek
Woorde gelaai met sensasie.
Op elke media se spasie.
De la Rey sal in sy graf omdraai
Oor die donderende lawaai
Van ʼn verskroeide aarde ... nasie.
Bevan Boggenpoel
parlement
daar word die huis weer ʼn hoenderhok
lede se optrede sorg vir skok
beskuldigings waai heen-en-weer
sekuriteit spring in en keer
humeure hoog soos hysers, uitgelok
Gerry Esterhuizen
ʼn Reënboognasie, sê hulle
en ons oorleef op wyn en pille
die pot goud is gesteel
die EFF wil hulle wát verbeel
Gelukkig kan ons nog lag oor die Bulle
Jo Prentice
Stemdag
Zuid-Afrika wag op my stem
My kruisie kan vasstel wie wen!
Maar wie sal ek kies?
Vir hoop of verlies?
ʼTrou nie Eskom se krag - maar die pen!
Sheugnet Jones
As Eskom van hande verwissel
En UP Chinees begint praat
Dan neem ek my sanna
en gryp my ou branna
en vlug om die land te verlaat ...
Ilse Guldenpfennig
Stem vir my
met skaamtelose oneer promise ek jou
ʼn skynhuis, mirage-paleis, stofgebou
bal jou vuis
trek jou kruis
ek help jou om jou gat te grou


Kommentaar
Miskien 'n stukkie raad vir ons deelnemers?
Hoe wil dan vir my lyk of ons beoordelaars 'n swak vir kru humor het:
Dis blou bulle balls en puttoilette
Dit mag net lei tot 'n "dalende" neiging by die inskrywings
Puttoilette is nie kru nie. Ons neem deel vir die pret. Niemand dwing jou om jou standaarde te verlaag om by ander se inskrywings te pas nie. Hou by jou eie styl. Ons mag maar vir onsself lag of hoe?
Middag wat is 'n Puttoilette?
Dit is mooi Afrikaans vir 'n longdrop. Plaastoilet waar daar 'n gat in die grond gegrou word. 'n Deksel of toilet word bo-oor geplaas ... siedaar puttoilet.