Skryf in vir Rachelle Greeff se Skryfskool in 2020

  • 0

Suid-Afrika se voorste misdaadskrywer, Deon Meyer, is op Saterdag 1 Februarie die gasspreker by 2020 se intree- daglange werkwinkel van die Breytenbach Sentrum se Skryfskool. Hiermee begin die skryfkursus van nege maande. Dit word vir die sesde agtereenvolgende jaar aangebied, en duur tot einde Oktober 2020.

Deon Meyer

’n Voldag-werkwinkel word die eerste Saterdag van elke maand by die Breytenbachsentrum gehou. Indien dié Saterdag op ’n openbare vakansiedag of langnaweek val, word dit met ’n week uitgestel of vervroeg. Die Saterdag-slypskool begin 09h00 en eindig 16h00. Tussen dié sessies werk Rachelle via die internet individueel met elke student. Studente kry deurlopend werkopdragte en gedetailleerde terugvoering van hul take, maar werk in hul eie tempo.

Fokuspunte is die skryf van kortverhale, romans, meningstukke (rubrieke), tydskrifstories, radiodramas en artikels vir die populêre media. Toneeltekste met potensiaal word ook oorweeg.  

Voornemende skrywers leer onder meer hoe om ’n karakter te skep en uit te bou, hoe dialoog in fiksie verskil van tussen werklike mense, waarom skrywers “diewe” en “leuenaars” moet wees en hoekom beginnerskrywers dikwels te ver en diep vir stories gaan soek – terwyl dit die spreekwoordelike armlengte ver saam met die hond en pantoffels op die mat langs die bed lê. Die praktiese leerplan sluit in breingim, woordfiksheid, verbeeldingsoefeninge, vertaling en ondersoeke na die vereistes van navorsing, hersiening, redigering, herskryf en dissipline. Die pad van 'n manuskrip na die rekenaar van 'n uitgewer of tydskrifredakteur word ook deurgetrap, so ook werk en media-onderhoude van gerekende wêreldskrywers. 'n Belangrike onderafdeling van die kursus is gereelde besoeke van verskillende rolspelers in die boekewêreld. Van die mees vooraanstaande skrywers in Afrikaans het al skryfwenke, -riglyne en staaljies by die Skryfskool kom deel. Dit sluit in Lodewyk du Plessis (Die Dao van Daan van der Walt se Andries Buys), Eben Venter, Karin Brynard en Ingrid Winterbach, voorste Suid-Afrikaanse uitgewers en sleutelpersone in die media is ook gereeld op die spyskaart. Vanjaar het Margot Luyt van RSG ’n boeiende blitskursus in die skryf van radioteater gelei en radiodrama kom voortaan ook onder die loep.

Rachelle Greeff

Voormalige studente van die Skryfskool het die afgelope paar jaar wyd gepubliseer. Lize Albertyn-du Toit se hoogaangeskrewe roman, Die kinders van Spookwerwe (Human&Rousseau), het vroeër vanjaar verskyn. Van eertydse student Brian Fredericks is drie kortverhale in die pasverskene Die groot Afrikaanse prosaboek (Human&Rossouw) opgeneem en sy debuutbundel kortverhale verskyn aanstaande jaar. Verlede jaar het Die daggaboer (Human&Rossouw) van Jean-Pierre de Kock lesers verras. Met enkele uitsonderings maak studente ’n debuut-kniebuiging terwyl hulle aan die skryfskool verbonde is of kort na voltooiing van die kursus. So verskyn werk wat in die Skryfskool ontwikkel is toenemend in Huisgenoot, Sarie en Vrouekeur en 'n interessante nuwe stem gaan binnekort in Rooi Rose gehoor word. Een van die Breytenbachsentrum se oud-studente doen toneelwerk onder tieners,’n ander een het mededraaiboekskrywer vir Suidooster en Sewende Laan geword en verskeie het as artikel- of rubriekskrywer ontpop. Die werk van heelparty is ook vir van die Woordfeesbundels van die afgelope paar jaar gekeur, een was ’n finalis in ’n LitNet-skryfkompetisie en ’n ander een het ’n wenteks vir ’n ATKV-kompetisie gelewer. ’n Gekose PEN Afrikaans se New Voices-skrywer kom ook uit die huis op Wellington waar Breyten Breytenbach grootgeword het.

Die maandelikse koste van R1 500 sluit in 'n middagete, drink- en snoepgoed sowel as studiemateriaal.

Soos die jaar vorder word studente se skryfwerk in die groep bespreek. Dié sessies is vertroulik en professioneel – en meermale prettig. Studente het ’n whatsapp-groep vir boekenuus,  gesprekke oor skryftake, die ruil van skryfwenke (en boeke) en gesels oor vars boekenuus. Die vernaamste diep-duik-werk gebeur tussen die maandelikse kontaksessie wanneer Rachelle die rekenaarfunksie van spoorveranderinge (“track-changes”) gebruik om woord vir woord in die ontwikkelende teks leiding te gee. Studente van die verlede is dit eens dat hulle hul sukses te danke is aan nie net hul eie toewyding nie, maar Rachelle se werkwyse van aansporing en empaties dog professionele kritiek.

Hoe doen ek aansoek?

Via e-pos by Jessica Ruiters by info@breytenbachsentrum.co.za

Wat moet in my aansoek staan?

  1. Naam & kontakbesonderhede.
  2. Kort motivering (maksimum 100 woorde) oor hoekom jy die kursus wil doen.
  3. Titels van die laaste sewe boeke (ongeag genre) gelees.
  4. ’n Ongepubliseerde of gepubliseerde skryfstuk, of ’n uittreksel, deur die aansoeker. (Ongeveer 200 tot 500 woorde.)

Aansoeke sluit op 17 Januarie 2020. Aansoekers word op 20 Januarie gekontak. E-pos navrae aan Jessica by info@breytenbachsentrum.co.za of bel haar in kantoorure by (021) 873 2786. Rig enige navrae ook Rachelle by rageltjieg@gmail.com

Die kursusfooi van R1 500 per maand is aan die Breytenbachsentrum betaalbaar. Betalingsbewys word gestuur aan Jessica by info@breytenbachsentrum.co.za.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top