Skryf in vir die skryfwedstryd van die Bloemfonteinse Skrywersvereniging

  • 0

Die uurglas is vinnig besig om leeg te loop vir die Bloemfonteinse Skrywersvereniging se landswye skryfwedstryd, Skrywers 2013, waarvan R15000 prysgeld geborg word deur die Fakulteit Geesteswetenskappe van die Universiteit van die Vrystaat.

Corlietha Swart, voorsitter van die BSV en UV-dosent, nooi alle hoërskoolleerders en volwasse skrywers (gepubliseerdes, sowel as ongepubliseerdes) om kortverhale, sketse, essays en gedigte oor voorgeskrewe onderwerpe in te skryf. Daar is selfs ’n kontantbedrag vir die skool, met die meeste inskrywings, op die spel. Die geskiedenis het egter geleer dat Hoërskool DF Malan, Bellville, moeilik onttroon gaan word. Hulle verdedig jaarliks hul titel en het in 2012 ’n hele 350 inskrywings ingestuur. Enkele Vrystaatskole stuur ook jaarliks ’n gawe klompie inskrywings.

Studente en volwassenes neem meestal op individuele vlak in die ope-afdelings deel. Die wedstryd se sluitingsdatum is op 10 Mei, maar alle posstukke met die regte datumstempel word aanvaar en die bottelnek, weens die posstakings, sal verreken word.

Alle wenners en eervol vermelde skrywers word ook genooi om die BSV-slypskool op 24 Augustus, wat gelei word deur die bekende Leon van Nierop in die nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (NALN), gratis by te woon. Tydens hierdie geleentheid word die pryse van die skryfwedstryd ook oorhandig en ontvang die wenners die publikasie, Inkvars 2013, waarin al die wenkortverhale en -gedigte gepubliseer is, asook die beoordelaarsverslae wat terugvoer en goeie riglyne vir kreatiewe skryf bevat. Diegene wat nog wil deelneem aan die skryfwedstryd, kan die heerlike onderwerpe en inskrywingsvorms self aflaai by http://bloemsv.wordpress.com , of dit aanvra by bloemsv@gmail.com, of ons sekretaresse, Lelani Fourie telefonies kontak by sel. 0733883377. Lekker skryf!

Corlietha Swart

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top