Skrikkelwraak

  • 6

Skrikkelwraak

Foto: Canva

Die koerante het my die “skrikkeljaar-reeksmoordenaar” gedoop. Dit is seker gepas, al het ek tot dusver oor ’n tydperk van twintig jaar nog net drie mense doodgemaak en is daar nog net een moord oor. Laasgenoemde gaan vandag, op 29 Februarie, plaasvind. Ek wil net ’n regstelling maak. Die koerante is verkeerd. Ek is nie regtig ’n reeksmoordenaar nie. Ek is ’n wraaknemer. Ek neem wraak op wat twintig jaar gelede op 29 Februarie gebeur het. Oor wat hierdie vier skoolboelies aan my gedoen het. Geen regdenkende mens sit ’n rekkie met ’n kastreertang aan iemand se skrotum en sê hulle het hom ’n poets gebak nie.

Die eerste moord was sestien jaar gelede op 29 Februarie. Vier jaar na die insident. Die slagoffer was Heunis en ek het hom met sy eie hamer in sy werkskamer doodgeslaan. Dit was nogal bevredigend. Hy was immers die voorbok. Die ondersoekbeampte op daardie stadium kon geen enkele leidraad op die misdaadtoneel vind nie.

Vier jaar later het ek vir Strydom, ’n professionele krieketspeler, met sy eie krieketkolf doodgeslaan. Hy het mooi gepraat en verskoning gevra, maar dit was te laat. Die lekkerste deel van sy moord was om sy spierwit tande met sy kolf uit te slaan. Sy verbryselde gesig was die mooiste ding wat ek nog ooit gesien het. Daar was weereens geen leidraad wat die polisie kon opvolg nie.

Truter was die volgende slagoffer. Weer op 29 Februarie die volgende skrikkeljaar. Vir hom het ek in sy braaikamer met sy byl doodgekap. Sy oopgekapte kop het my hart vinniger laat klop. Die ondersoekbeampte was radeloos. Dit was die skrikkeljaarmoordenaar se derde slagoffer in twaalf jaar sonder dat daar enige leidraad nagelaat is.

Vandag is dit uiteindelik weer 29 Februarie. Hierdie keer is dit Rademan se beurt. Ek het ʼn spesiale dood vir hom in gedagte. ’n Kannetjie petrol en ’n sigaretaansteker. O ja, en kabelbinders.

Rademan se werkswinkel, waar hy restourasiewerk aan veteraan- en klassieke motors doen, is op ’n afgesonderde kleinhoewe. Dit is ná ure en hy is alleen in sy werkswinkel. Hy is besig om aan ’n ou Fiat X19-sportmotor te werk toe ek by sy werkswinkel instap. Hy groet vriendelik; ons ken mekaar immers al langer as twintig jaar. Ek tel ’n moersleutel van sy werksbank af op en slaan hom daarmee teen sy kop. Toe hy val, bind ek sy hande en voete met die kabelbinders vas. Ek giet die brandstof oor hom uit. Hy kom by en kyk my verbysterd aan.

“Dan was dit al die tyd jy!” skreeu hy.

“Ja,” sê ek en haal my aansteker uit. Die vlammetjie wat dit maak, laat Rademan se klere dadelik vlamvat.

Ek is nie bekommerd oor sy gille nie. Sy kleinhoewe is afgeleë. Dit is ná ure. Niemand sal hom hoor nie.

Daar sal geen leidrade wees nie. Daarvoor het ek gesorg. As kolonel in die SAPD weet ek presies hoe. Boonop is ek die heel beste speurder in die polisiediens. My suksesrekord spreek vanself. Agt en negentig persent van die moorddossiere op my lessenaar is suksesvol opgelos. Daar is net een enkele moorddossier wat ek nog nooit kon oplos nie. Die een saak waaraan ek al twintig jaar werk sonder enige deurbraak.

Dit is die moorddossier oor die skrikkeljaar-reeksmoordenaar.

  • 6

Kommentaar

  • Welgedaan Jannie. Laat dit vir daai skoolboelies ’n les wees. Dit was nou ’n lekkerlees-riller!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top