Skrik van die Swart Hond

  • 2

Vanmore toe ek wakker word, hoor ek iets aan my voordeur krap. Ek maak oop en daar lȇ die Swart Hond. Die hond waarvan ek nog net gehoor het, maar nie ken nie. Sy oë gloei en hy knor vir my!

Ek het al van hierdie hond gehoor. Hy kry jou eers aan die voet beet, dan die been en dan jou hele lyf en trek jou af in ʼn diep put. Wanneer jy opkyk raak die kolletjie lig daarbo al hoe kleiner en kleiner en wanneer jy om hulp skree en skree, hoor niemand nie! Dan sal die Swart Hond jou vashou en keer dat jy weer kan opgaan na die lig. Ek is so bang vir hierdie gedierte! Die Swart Hond is soos die Duiwel, jy weet van hom, maar wil hom nie ken nie!!

Die enigste wapen teen hierdie gedierte is blykbaar om diep binne-in jou eie wese te gaan soek na lig. Elke mens het blykbaar ʼn bron van lig diep binne waar hy eers ʼn kersie kan gaan aansteek en dan word die kers ʼn lamp en wanneer die lamp helder skyn, hardloop die Hond weg en los jou om weer op te beweeg na die helder lig daarbuite. Dit is blykbaar nie so maklik nie en sommige mense kry nooit weer hulle liggies aangesteek nie.

Ek het gehoor die Swart Hond is soos ʼn visserman wat lyne uitgooi om sy prooi te vang. Vir aas gebruik hy siekte, banknote, verhoudings, ongelukke, ens. Hy vang almal daarmee. Wanneer jy eers gebyt het aan hierdie hoek, dan moet jy self die hoek uitsny om los te kom! Ek ken mense wat aan hierdie hoeke gebyt het en niemand kon die hoeke vir hulle uitsny nie, net hulle self.

Ek het nooit gedink ek sal die Hond sien nie, wat nog te sȇ voor my eie deur. Ek het die deur vinnig toegeklap en met my rug daarteen gestaan en hard asem gehaal. Die hond het bly krap! En grom! Ek was so bang. Ek het geweier om weer die deur oop te maak, maar hier binne-in myself weet ek die Hond sal weer terugkom. Ek moet hom permanent weghou.

Miskien moet ek hom skiet, ek moet net die regte ammunisie kry! Miskien moet ek op hom skreeu en hom verjaag. Ek weet as ek ʼn lig in sy oë skyn sal hy stert tussen die bene weghol, maar die batterye moet sterk wees! As dit nie vir Eskom was nie, kon ek myne laai!!

Ek het lank gelede - so voel dit - eenmaal aan die Swart Hond se verhoudingshoek gebyt! Dit was seer, baie seer. Die dokter het vir my pille gegee en stadig maar seker het die bloed ophou vloei en ek kon self die hoek uitsny. Ek was daarna sterker as ooit.

My vrolike gelag en liefde vir mense het nog altyd die Hond ver van my af laat verbyhardloop. Ek het gedink ek is onaantasbaar. Toe, wragtig, gooi hy vir my die gesondheidshoek en ek byt daaraan. Ouch! Nou moet ek weer gaan soek na die lig.

Blykbaar wanneer jy jou oë toemaak en met die Groot Lig praat, dan kan jy jou batterye sonder Eskom laai! Ek sal dit probeer. Solank ek net die Duiwel en die Swart Hond van my voordeur kan weghou!!

  • 2

Kommentaar

  • Kobus de Klerk

    Anna
    Jy het my volkome ondersteuning - die Groot Lig is beslis daar by jou en sal graag na jou luister - en jy is reg, die swart donker (hond) vlug keer op keer voor die Lig uit, want hy kan die Lig nie uitstaan nie. As jy lank genoeg direk met die Groot Lig assosieer, word jy so gevul met die Lig en die Lig so sigbaar in jou, dat die swart donker (hond) net eenvoudig nie meer kans sien vir jou nie en ’n ander, makliker prooi gaan soek en jou heeltyd met rus laat.
    En jy het dit reg, die swart donker (hond) het nie net sensitiewe oë nie, maar ook sensitiewe ore. As die swart donker (hond) by jou deur krap, praat hardop met die Groot Lig, en die donker swart (hond) sal daarvoor beslis wegvlug, want hy kan die geluid daarvan ook nie uitstaan nie ...
    Sterkte! Want daar is 'n blink toekoms met die Groot Lig wat vir jou wag ...
    Kobus de Klerk

  • Goeie beskrywing van 'n siekte wat so oud soos die mensdom self is. Ek stem heelhartig saam met jou. Die Swart Hond lê vir elke persoon en wag. Hy slaan toe op die mees ongemaklike en ongeleë tye. My swart hond spring gewoonlik op my rug want hy is te lui om alleen te loop. Die antichriste sal natuurlik weer ten sterkste beswaar aanteken, maar my Geloof trek my gewoonlik deur. Ek bid en soek vir genesing en leiding en gewoonlik kry ek dit. Ek is gelukkig dat ek nog nooit op medikasie was vir die "siekte" nie. Ek kry mense jammer wat 'n chemiese wanbalans het wat op medikasie is. Ek dink dat die meeste depressie-gevalle te vinnig met medikasie behandel word. Die brein is die ingewikkeldste orgaan en jy kan deur 'n wilsbesluit te maak iets aan jou depressie doen. Dit is soos mense wat kla oor oorgewig en rook en drank of dwelmverslawing. Dit is 'n keuse wat jy gemaak het. Niemand het vir jou gesê om te veel te vreet, suip of te begin rook of dwelms te gebruik nie. Ek was oorgewig. Ek het net besluit om minder te eet en het die afgelope jaar 16kg verloor. Ek het ook gerook en het op een dag net besluit ek hou op, en is dit nou reeds 22 jaar dat ek nie rook nie. Ek het ook te veel gesuip en kan deesdae twee tot drie biere hanteer. My lus vir alkohol is weg gedrink. Dis keuses. Jy is bemagtig om dit te doen. Moenie iets buite jou soek om te blameer nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top