Skreeu loop "taboe"-onderwerpe trompop

  • 0

Skreeu en ander verhale
Saamgestel deur Marieta Nel en Adinda Vermaak
Uitgewer: LAPA
ISBN: 9780799346848
Prys: R88.95

Klik hier en koop Skreeu en ander verhale nou van Kalahari.net!

Wanneer ’n mens se hormone as tiener op loop is, wil jy dikwels skreeu. Van pyn, van vreugde, van verlange, van woede. Dalk veral van woede.

Die titel van dié bundel kortverhale wat op die tienermark gemik is, is dus heel gepas.  (Kom ons vergeet maar gerieflikheidshalwe dat die eise van volwasse wees ’n mens ook heel gereeld wil laat skree.)

Daar is onskuldige liefdesverhale, verhale van wraak en verhale van moord. Elke verhaal dra daartoe by om die werklikheid van nie net die tiener nie, maar die samelewing in die breë, te verteenwoordig. Uit die pen van die land se voorste skrywers, soos Riana Scheepers, Carina Diedericks-Hugo, EKM Dido, Christine Barkhuizen Le Roux, Martie Preller, Jaco Jacobs en Jan van Tonder het die leser hier te make met, in die algemeen, goed-ontwikkelde karakters en verhale.

Die grootste waarde van die boek lê waarskynlik daarin dat allerlei “taboe” onderwerpe hier trompop geloop word. Daar is tieners wat aan anoreksie ly (“Dit is ek, Lara” deur Riana Scheepers), tieners wat hulself sny in ’n poging om van ’n ander groter pyn te ontsnap (“Pynstiller” deur Fanie Viljoen), tieners wat hulself oorgee aan hul donker kant (“Groete uit Alaska” deur Nelia Engelbrecht), en tieners wat in ’n groep ’n bergie aanval (“Êrens tussenin is daar ’n mens” deur Arnold Vermaak.)

Hier is ook geen maklike oplossings vir die tieners se probleme nie. In bogenoemde verhale is die eindes oop, en die leser het geen benul van wat vorentoe vir die karakters voorlê nie. Die slotwoorde van Viljoen se “Pynstiller” eggo nog lank nadat jy die verhaal gelees het in jou kop en jy wonder oor die miljoene tieners wat op dié manier ’n uitweg soek.

Met die lees van “Êrens tussenin is daar ’n mens” eggo die onsinnige moord jare gelede op ’n hawelose man in Pretoria en is jy weer eens woedend vir die Waterkloof Vier.

Nanette van Rooyen gebruik ’n jagtog om die rite van ’n seun se oorgang na “manlikheid” te verteenwoordig. Wanneer die seun triomfantelik die bok oplig, weet ’n mens hy het ’n belangrike mylpaal bereik. Dis ’n knap-geskrewe verhaal. Tog, ek deins weg van dié werklikheid waar ’n omstrede sportsoort bepalend is tot ’n belangrike oorgang.

In teenstelling tot van die verhale waar die jongmense hul kinderlikheid en naïwiteit lank reeds agtergelaat het, is daar Maritha Snyman se “Storieboekheld” waar die verteller dagboek hou van die verloop van haar verhouding en uiteindelik tot ’n pynlike besef kom. Tog word die onskuld behou. Onskuldig en naïef word die dagboekskryfwerk aangevul deur letters wat uit tydskrifte gesny word om woorde te vorm. Daar is geen twyfel dat derduisende meisies wel op dié manier dagboek hou nie, maar ek het dit steurend gevind om soms die woorde te lees. Dis eenvoudig ’n foefie en die teks sou gebaat het by die weglaat daarvan.

Net nog ’n woord van kritiek: my kopie bevat talle bladsye waar die teks van die volgende blad “deurgebloei” het en die woorde onleesbaar maak. ’n Mens hoop dat dié probleem nie in elke kopie voorkom nie.

Koop gerus die boek. Vir ’n tiener of om self te lees.  

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top