Skoonma

  • 0

Foto: Canva.com

Vanoggend sien ek toevallig weer die plastieksakkie in die tuinstoor. Daarmee sal ek nog moet planmaak, maar nie nou dadelik nie. Maar, alle stories het ’n begin al eindig hulle nie almal in die tuinstoor op nie.

’n Ongedurige skoonma is nie ’n ding waarmee ’n man sukkel nie. Soos dit toe ook nou gebeur, kry ek vermoedelik die duiwel se eie sussie vir ’n skoonma, en ek en sy kan van meet af aan nie vatplek kry aan mekaar nie.

Met ons eerste ontmoeting jarre terug word ’n pot tee gebrou en ek moet my leë teekoppie ’n paar keer in die rondte swish sodat die teeblare haar kan vertel wat vir my in die toekoms voorlê, en om seker te maak dat daar nie dalk ’n beduidenis is dat ek straks ’n reeksmoordernaar, verkragter of katoliek is nie. Die gegorrel was seker nie baie akkuraat nie, want kort voor lank toe is ek en haar dogter getroud.

Soos dit ’n goeie skoonma betaam, moes ons die huweliksnag onder hulle dak deurbring, en die volgende oggend is hulle terstond saam met ons Pietersburg toe, waar ek kort tevore ’n huis laat bou het. Net om ’n week of so te kom kuier en ons te help insettle ... Bye bye honeymoon.

Ons word die trotse eienaars van ’n koperdubbelbed, wasmasjien, yskas en ’n Berda Snackwich (courtesy of Bears Furniture) waarvan ek vir twee maande lank elke aand aandete kry.

Oor die res van daardie kuiertjie sal ek nou nie te veel uitwei nie, maar dit was nag. ’n Paar dae later het hulle die aftog geblaas en is hulle terug met die wete dat hulle dogter ’n onbeskofte armgat getrou het wat nog nie eens die erf laat omhein het nie – aldus skoonma, verbatim.

Na die onvermydelike egskeiding 25 jaar gelede het ek en die skoonouers selde kontak gehad en dit het almal perfek gepas. Tot onlangs toe.

Ek woon in Mafikeng, en so bel my kind my een aand in Oktober om te sê sy oupa is oorlede. Ek simpatiseer, maar omrede die ouma en oupa bykans geen belangstelling ooit in hom getoon het nie, is dit maar eintlik uit ordentlikgeit dat hy my laat weet. Denkend dat dit die vorige aand gebeur het, vra ek uit en sê hy nee, pa verstaan nie mooi nie – dit was al blykbaar iewers in Julie of Augustus. Sy ma het hom nou eers laat weet. Nouja, te laat vir ’n ruiker of ’n kransie, en skynbaar is daar niks wat ons kan of hoef te doen nie.

’n Paar dae later bel gewese vroulief my uit Mosselbaai – sy is bekommerd oor haar ma in Vereeniging. Aldus die bure, sien hulle haar selde, dit lyk of alles nie pluis is daar nie, kan ek nie asseblief op ’n stadium ’n draai daar maak nie?

Ten spyte van die vooruitsig van ’n drie uur-lange rit, kry ek die adres en ry ek op ’n pragtige Sondagoggend deur. Met my gebrek aan ’n sin vir rigting neem dit my nog ’n goeie uur en ’n half se verdwaal voor ek die huis opspoor. Op die oog af lyk dit netjies, maar daar is ’n stewige slot en ketting aan die hek. Ek spring toe maar bo-oor, ten aanskoue van verskeie nuuskierige bure – jy sien net gordyne beweeg links en regs. Skoonma herken my toe bo alle verwagting, is beleefd en ek kry ’n koppie koffie uit die deal. Omrede dinge nie lekker lyk nie, neem ek skelmpies ’n paar foto’s met my selfoon. ’n Halfuur later is ek weer oppad en ek bel gewese liefie net om te sê dinge is nie pluis nie. Daar is weinig meubels in die huis, daar is nie juis kos in die yskas nie en haar ma se gedagtes dwaal effe. Nee, bevestig sy, los dit net so, haar ma is moeilik en dan is alles reg.

Intussen verhuis ek Karoo toe, en so kry ek ’n paar keer sulke oproepe van haar. Die bure sê hulle het haar ’n paar dae laas gesien, dan het sy hulle verskree, dan het sy om die huis geloop met die sambok en die mure geklits, volgende keer lyk dit of sy nie kos het nie, ensovoorts. So kom ek agter my broer se vrou se suster woon hoeka reg voorkant die straat, en hulle beloof om ’n ogie oor haar te hou. So neem my broer ’n kospakkie en met die volgende kospakkie weier sy om dit te aanvaar. As die bure naby die huis kom, dreig sy om hulle morsdood te skiet. So word sy soms gesien waar sy swetsend om die huis stap en die mure met haar sambok klits terwyl sy duiwels uitdryf. Ai, tog, ingryping is dringend.

So word die oproepe van die bure al hoe meer gereeld. Ek sukkel om die Vereenigingse welsyn in die hande te kry, Seun stuur op ’n kol die ambulans nadat die bure haar vir ’n week lank nie sien nie, maar hulle hoor haar weeklaag in die nag. Begin Januarie begin dit totaal handuit ruk. Weer kry ek die oproep om te sê Skoonma is al bykans twee weke nie te sien nie – die bure vermoed die ergste. Na ’n verbete stryd kry ek die SAPS en die welsyn gelyktydig daar, en gee telefonies toestemming om die deur oop te breek. En ook nie ’n oomblik te laat nie. Skoonma word in ’n hoogs verswakte toestand aangetref, gepaardgaande met erge delusions.

Intussen is my seun oppad vanaf Plettenbergbaai na my in Steynsburg, waarna ons die nag sal deurry na Vereeniging. Na sy aankoms half-elf die aand val ons in die pad, en toe die sonnetjie sy opwagting maak oor ’n vaal Vaaldriehoek, hou ons by die hospitaal stil na ’n vinnige koffietjie by kleinboet in Sasol.

Skoonma is op ’n drippie in die vrouesaal, maar swets soos ’n matroos toe sy ons sien. Haar kleinseun herken sy glad nie, en sien hom vir ’n indringer en opportunis aan. Volgens beide die SAPS en welsyn is sy nie langer in staat om na haarself om te sien nie, en ons word versoek om reëlings te tref om haar te laat opneem in ’n instansie wat haar kan versorg. So beveel hulle aan dat die huis opgepak word aangesien inbrake gereeld in daardie omgewing plaasvind en die huis tans oopstaan. Binne ’n bestek van twee dae pak ek en Seun die huisinhoud op, was al die klere en linne, skrop die huis, sny die oerwoud van ’n tuin en kry haar motortjie uit die lang grasse uitgevis.

So met die skoonmaak van die Corollatjie kry ek die eerste banksakkie – nie met geld in nie, maar ’n grys-bruin inhoud wat baie verdag lyk. Ja, beaam Seun, dit lyk my dit is my Oupa daardie. Verskeie plastieksakkies later op strategiese plekke uitgevis, weet ons – dit is sy oupa se assies. Mooi gebêre onder sitplekke, matte, kattebak ensovoorts. So word Oupa saggies ter ruste gestrooi in die tuin, en ons gaan voort.

Maandagoggend vroeg laat weet die hospitaal Skoonma word ontslaan, hulle het die bed nodig en sy is buite gevaar. Met ’n geweldige gesukkel en die hulp van die welsynbeampte, kry ons haar buite in ’n rolstoel, tot by haar motortjie. Aangesien my bakkie by haar huis staan, gelaai met haar karige goedjies agterop, het ons haar karretjie opgekommandeer met die gedagte dat sy dalk meer tuis sal voel met die bekende.

Die sekuriteit kry haar in die kar, sy swets deurentyd en dreig om haar (oorlede) man te vertel met watter onderduimsheid ons besig is. Net ’n vinnige stop by haar huis om die kluis se sleutel, haar dokumente en haar pappegaai te kry, en ons is oppad – Skoonma, die pappegaai en ek.

Sy is gedisoriënteer, swetsend en glo vas ons is oppad na haar huis toe. Aangesien sy rook as satanisties beskou, mag ek nie in haar teenwoordigheid rook nie en dit noop dit my om ter wille van sanity elke halfuur van die pad te trek om te kalmeer en dan suig ek die sigaret dat die kooltjie bloedrooi gloei.

Na ’n uitmergelende 13 ure in die kar, arriveer ons in Steynsburg te midde van gietende reën en daar weier sy, heel verstaanbaar, om uit die kar te klim. Na ’n hewige stryd is sy in die huis en lekker agressief. Sy dreig om die polisie te bel oor die ontvoering, vloek soos ’n matroos en lig my in dat sy op die stoel gaan “urineer”. Maar, ’n halfuur later kom sy rustig uit die kamer, vra ’n koppie tee, besoek die badkamer en gaan rustig slaap. Hallelujah.

Dinsdagoggend kom sy uit die kamer uit met ’n donderwolk op die gesig. Geensins spraaksaam nie, maar ten minste nie skellend nie. Koffie word aangedra en sy sit relatief kalm in die sitkamer en drink. Intussen gaan ek kyk of haar kamer in die ouetehuis gereed is, en hulle beloof om haar dadelik te kom haal.

Met die suster se aankoms is sy paaiend na die kombi gelei en klim effens steeks in, maar ten minste is sy in. By die ouetehuis aangekom, begin sy mor en uiteindelik kry ons haar in haar kamer met ’n koppie tee. Neewat, sê die suster, die pappegaai kan sommer ook bly. En, moenie worry nie, sy is netnou ingesettle.

Ek is skaars by die huis toe bel die einste suster. Jy moet jou skoonma asseblief onmiddellik kom haal, sy wag al by die hek. Sy het só amok gemaak en die ander inwoners ontstel dat hulle nie kans sien om haar langer onder hulle dak te hê nie. Ek moet nou self plan sien. Ter versagtende omstandighede, voeg sy ten slotte by, dalkies kan sy namens my by dr Herbst hoor of hy haar nie kan sedeer of opneem in die plaaslike hospitaal nie. Die enigste ander opsie is vir my om haar direk Queenstown toe te neem na die psigiatriese hospitaal. Ek begin gereedmaak vir die ekspedisie, en ek was skaars weer tuis toe sy my laat weet die saak is reg – sy kan solank plaaslik opgeneem word.

Vandaar is ons reguit hospitaal toe. Na ’n laaang wag word sy uiteindelik in die privaatsaal opgeneem, pappegaai steeds op die skouer. Daar is Skoonma ingeburger in die hospitaal, en vrede volg vir ’n paar dae.

Ek besoek haar getrou elke dag, en ewe getrou swets sy elke keer wat sy my sien. Teen Vrydag besluit die hospitaal ook genoeg is genoeg, en ek word ingelig dat hulle haar gaan ontslaan.

Hoogs benoud begin ek weer die rondte van oproepe doen. Iemand moet haar inneem, sy weier om by my aan huis te wees en dreig om die huis af te brand as ek haar nie terugneem na haar huis nie. Ek gaan pleit by die ouetehuis. As ek kan waarborg dat sy stabiel en onder medikasie is, kan hulle dit weer ’n kans gee. Ek vra die suster om dr Herbst te bel. Sy doen so, en kort voor lank gil hulle só op mekaar dat die telefoonlyne bewe. Sy weier toe volstrek en ek moet maar self by dr Herbst gaan smeek. Daar gekom, bel hy die suster terug, skree op haar, plak die foon in haar oor neer en sê kalmpies hy kan niks doen nie – dit is maar my probleem.

Genadiglik sien die een swart dokter in wat die probleem is. Hy begin oproepe maak, en kry toe plek in Komani-hospitaal in Queenstown.

Die ambulans word gereël vir haar vervoer en ek moet agterna om die opname te doen. Ons beland uiteindelik in Queenstown, maar soos dit die staatshospitaal se gebruik is, moet ons haar eers adminstratief laat opneem in Frontier-hospitaal en vandaar na Komani. Makliker gesê as gedaan. By Frontier wag ons twee ure alvorens ons die nodige papierwerk bekom. Die hospitaal is walglik vuil en bloeiende pasiënte sit geduldig en wag vir hulle beurt op ’n bietjie aandag. Die feit dat ek en sy die enigste blankes is, veroorsaak die vreemdste kyke en definitief swakker behandeling.

Maar, nou weer terug na die wagtende ambulans. Wat toe nie meer wagtend is nie. Dié het besluit genoeg is genoeg en het pad gevat. Toe begin die gespook om Skoonma in die bakkie te kry. Op die ou einde oorreed ’n portier haar om tog in te klim, belowe haar dat sy nou Vereeniging toe gaan en daar ry sy ewe besadigd saam na Komani.

Daar aangekom, word ek plegtig ingelig dat die papierwerk nie reg is nie. Die suster bel vir Komani, skree op iemand in isiXhosa, en ek en Skoonma is weer terug oppad na Frontier. Toe is die wag nog langer. Die psigiater wat die evaluasie moet doen, is toegegooi onder werk, maar baie ordentlik. Ure later is ek en Skoonma weereens op pad na Komani vir die opname. Dié keer met hopelik al die regte vorms en papiere. Skoonma word opgeneem en ek kan uiteindelik laatmiddag terugry Steynsburg toe.

So volg ’n paar maande van vrede. Ek besoek so een of twee keer die hospitaal en bel so dan en wan om te hoor of alles okay is. Intussen klim Skoonma se suster, met wie ek 25 jaar gelede een keer telefonies gepraat het, uit die woodwork nadat die familie toevallig na vier maande agterkom sy woon nie meer in haar huis nie. Tant Miems bel, en so word selfoonoproepe gemaak, e-mails en SMS’e vlieg op en af. So kry ek ook die idee dat hulle dink ek is agter Skoonma se geld of goedjies aan (sy besit feitlik niks van waarde nie). Die hele ekspedisie het my ’n fortuin aan brandstof, oproepe en tyd gekos.

Aangesien daar ’n polisiesaaknommer op Skoonpa se doodsertifikaat staan, weier sy polis en pensioen om uit te betaal, en ek het die opnames op staatskoste gedoen gekry.

Alles is relatief rustig, tot een Donderdag. Tant Miems bel my, Skoonma is ontslaan. Alreeds eintlik. Ek bel Komani, pleit vir ten minste een dag grasie en jaag die volgende oggend deur na Komani om haar te gaan haal. Daar raak sy bitter moeilik en al vloekende word sy teruggelei na haar kamer. Naderhand besef die suster dat ek nie vir Skoonma kan terugneem nie. So smeek ek desperaat by die psigiater om ons twee tot drie weke uitstel te gee.

Skoonma is gediagnoseer met skisofrenie en reaksionêre psigose en moet in ’n omgewing gevestig word waar sy onder toesig en met medikasie versorg kan word. Dit is definitief nie ideaal by my huis nie. Veral nie omdat sy gedreig het om my huis aan die brand te steek nie.

Drie weke grasie word toegestaan, en genadiglik gaan haal tant Miems haar suster om by haar te gaan inwoon.

Maar, ’n maand of wat tevore is ek en Allan besig om haar mankoliekerige Corollatjie se bedrading te probeer herstel. Kan jy nou meer: in die enjinruim lê daar ’n plastieksakkie met ’n baie bekende tipe inhoud – effens verhard na die lang rit en maande neffens die alternator, maar onmiskenbaar – die laaste van lywige oupa Gert se remains.

En, deel Allan my mee, te oordeel aan die grootte van die plastieksakkie, is dit sonder twyfel sy oupa se linkerboud.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top