Skoon wasgoed: Vetkoek en ’n paleisrevolusie

  • 5

Lizette Rabe, toe nog redakteur van Sarie, bel my. Of ek van vetkoek hou.

Ekskuus?

Vetkoekresepte.

Hoe so?

’n Boek met vetkoekresepte.

O.

.......

Kookboeke is ’n gespesialiseerde veld. By groot uitgewerye is daar hele afdelings voor. Dit is duur produksies, want volgens die konvensie moet die foto’s in volkleur wees, die stilering professioneel en die kos onweerstaanbaar lyk.

........

Kookboeke is ’n gespesialiseerde veld. By groot uitgewerye is daar hele afdelings voor. Dit is duur produksies, want volgens die konvensie moet die foto’s in volkleur wees, die stilering professioneel en die kos onweerstaanbaar lyk. Die reproduksie moet van die duursaamste wees, en so ook die papier waarop die boek gedruk word. En dan word sulke boeke selde in Suid-Afrika gedruk, maar by spesialiskleurdrukkers in die Ooste.

Die mededinging in hierdie sektor is ook kwaai en Suid-Afrikaanse kookboeke moet boonop meeding teen die verruklikste kosboeke van oorsee. Dus moet jy uithaal as jy ’n kookboek wil publiseer.

Dekades later het ek self vir anderhalfjaar ’n kookrubriek geskryf. Daar was nie begroting vir foto’s nie en ek het sommer self foto’s geneem van die geregte waaroor ek geskryf het. Met my selfoon, met doeke wat ons in die huis het, ruwe planke, ou eetgerei, natuurlike lig. Dit was gangbaar, hoewel steeds bra amateuragtig gemeet teen die standaard van regte kookboeke vandag.

Die oefening het my egter weer herinner aan ’n sekere kunsmatigheid in die voorstelling van kos in boeke met resepte. En as mens, soos ek in my rubriek, met woordtowery aangaan oor die voorbereiding en geskiedenis van ’n gereg, anekdotes voorsit en die leser op elke manier probeer bekoor, is jy maar wesenlik met dieselfde opsmukking van die kos besig as wat die foto’s veronderstel is om te doen. En dis niks nuuts nie. Selfs Leipoldt is hieraan “skuldig”.

......

Daar is ’n fassinerende essay oor kookboeke in Umberto Eco se Travels in hyperreality. Daarin maak hy ’n saak daarvoor uit dat die foto’s in kostydskrifte en -boeke uiteindelik niks met kos uit te waaie het nie. Maar ’n breukdeel van die verbruikers – en let op dié woord – van die kosblaaie maak in werklikheid die geregte daarop.

........

Daar is ’n fassinerende essay oor kookboeke in Umberto Eco se Travels in hyperreality. Daarin maak hy ’n saak daarvoor uit dat die foto’s in kostydskrifte en -boeke uiteindelik niks met kos uit te waaie het nie. Maar ’n breukdeel van die verbruikers – en let op dié woord – van die kosblaaie maak in werklikheid die geregte daarop. Die oorgrote meerderheid vul die oog met die opgeskerpte, onmoontlik-om-na-te-boots- en daarom onwerklike beelde. Vandaar die “hiperrealiteit”. Dit is ’n virtuele belewenis waarvan die sukses trouens omgekeerd eweredig is aan hoeveel verband dit hou met regte mense, regte kos en ’n tasbare ervaring.

En so het die fantasievlugte aan die uiterste kant van haute couture ’n ooreenkoms gevind in haute cuisine in die sin dat dit nie meer gaan oor klere wat mense sal dra of kos wat hulle sal maak nie. Juis dit verklaar moontlik waarom kookboeke so ’n sterk, durende mark het. Dit is die mark vir versugting, vir fantasievlugte na byvoorbeeld die asemrowende Toskane in ’n boek soos Tuscany: The beautiful cookbook  ­– ’n land van melk en heuning en skoonheid en oorvloed. (Die boek, in my besit, is baie bekyk maar weinig bekook.)

’n Grootformaat Toskaanse kookboek met hemelhoë produksiewaardes

Daardie “sterk, durende mark” vir kookboeke het intussen verswak en uiteindelik nie geduur nie. Dit was om strukturele redes, ekstern aan die produk self. Met die heengaan van Leserskring en die drastiese afname in aankope deur vroeëre staatmakers soos die CNA het die boom van die kookboekmark uitgeval. So hoor ’n mens die uitgewers kla.

Maar 1997 was nog in die vet jare. Queillerie was klein en soms op dun ys, en ’n gebrek aan kundigheid oor kookboeke sou ons nie verhinder om ’n bietjie van dié mark te probeer haal nie. En ons het al ’n klein bietjie ondervinding gehad met die baie suksesvolle publikasie van Aan tafel met Nettie Pikeur drie jaar tevore. Toe was ons manier om die duur kosstilering en volkleurreproduksie te systap en die boek bloot net swart-en-wit lyntekeninge te laat illustreer. Maar dit was darem ook nie net enige tekeninge nie, want die talentvolle Piet Grobler, vroeg nog in sy loopbaan, het ingestem om vir die boek te teken. Dit het met akklamasie geslaag.

Die verruklike, onwerklike bladsye van 'n Toskaanse kookboek

Ewenwel. Sarie het ’n vetkoekresepkompetisie saam met die destydse TV2 van die toenmalige SAUK aangebied, en meer spesifiek saam met die hoogs gewilde komediereeks Vetkoekpaleis. En die redakteur bied dit nou aan vir Queillerie om uit te gee. Ek weet nie van jou smaak nie, maar ek was gek oor die reeks. Die one-liners en running gags was tegelyk laf en sjarmant en die karakters het elk die kern van ’n oortuigende mens gehad wat jou tot hulle aangetrokke gehou het. En dit was heerlik verlossend, dié oorgawe aan verspotte pret.

Ek het iets fassinerends onthou van Willie Esterhuizen, die skrywer en hoofrolspeler in die karakter van die halfsimpel potjierol Worsie Visagie. Jare tevore het ek hom in ’n ballet gesien dans – wil jy glo daar was ’n tyd toe die SAUK ballet uitgesaai het. Die kontras tussen die wilgerlat van ’n danser en die spekworsie van ’n grapjas kon nie skerper gewees het nie.

Wat beteken het dat ek my nóg meer tot die idee van ’n vetkoekboek aangetrokke gevoel het. Dit het die verdere bonus gehad dat die kosfoto’s klaar gestileer uit die bladsye van die tydskrif sou kom. Plus die enorme voordeel dat Willie sy tyd vrygewig sou afstaan om die boek te help promoveer.

Eenvoudige en ekonomiese bladuitleg

Dis nie ’n tamaai groot, skitterblink hardeband nie. Ons het op ’n A5-grootte landskapformaat in sagteband besluit. Die besluit was deels prakties, om die mees ekonomiese uitleg van die resepte moontlik te maak (die tipografie van resepte vra altyd vindingrykheid van die ontwerper). Maar dit het ook deels met persepsie te make gehad. ’n Klein boekie in landskapformaat – so het ons geredeneer – sê onmiddellik: Hier is iets informeels, selfs grappigs. So word immers al die versamelings spotprente gepubliseer, of dit nou Giles van Engeland of Zapiro van Suid-Afrika is.

Waarom dié klem op informaliteit, die mooi maar gewis onglansryke foto’s? Omdat die mark vir hierdie boek dáár was waar Vetkoekpaleis, die TV-reekse, gemik het: bloukraag-, ouer mense, boeremense met ’n voorliefde vir tradisionele kos soos vetkoek, mense onder wie daar dié was wat hulle deur boeke geïntimideer voel, en wat met die een oog op die beursie sou terugdeins van iets wat duur lyk soos die meer glamorous kookboeke. Dit is so dat ek hier bo vertel hoeveel ek van die reekse gehou het, terwyl ek nie in die demografie pas wat ek nou net hier bo beskryf het nie. Maar ek sou self nie ’n boek met vetkoekresepte gaan soek onder die glansryke uitvlugte in hiperrealiteit nie, maar so naby moontlik aan die egte, die outentieke bly.

En kyk wat is in die boek. Die wenner van Sarie se wedstryd was mevrou Graatjie Uys van Centurion met haar volstruisnekvulsel. Die finaliste was Greta Bester van Durbanville, Hennie Ferreira van Oos-Londen, Rienie Lotz van Brakpan, Sussie Rossouw van die Paarl. Name wat net sowel dié van karakters in Vetkoekpaleis of Orkney snork nie kon gewees het. Eg, lekker in die mond en nie in die minste intimiderend nie. Regte mense van regte plekke met eenvoudige, smaaklike resepte. Die hele boek beur in die teenoorgestelde rigting as dié wat Umberto Eco beskryf.

En as ons bevestiging hiervan gemakeer het, sou ons dit in Willie Esterhuizen kry. Jy sou erg fouteer deur die dommie van ’n Worsie Visagie met sy skepper, Willie, te verwar. Laasgenoemde is ’n besonder skerpsinnige, skeppende en toegewyde mens wat presies weet waar sy mark sit en hoe om dit te dien. Die sukses van sy TV-werk spreek duidelik genoeg.

Een van die goed wat ons gedoen het, was ’n promosie vir die boek by ’n straatmark in Somerset-Wes wat deel was van die een of ander fees waarvan ek die aard vergeet het. Die hoofstraat was vir verkeer gesluit. Ons het boeke uitgepak in ’n klein stalletjie. Willie het in sy Vetkoekpaleis-uniform daar aangekom. Sowat het ek in my dag des lewens nog nie beleef nie.

Die mense het soos vlieë om hom saamgedrom, tien diep (ek het getel). Hulle het mekaar verdring om aan hom te raak. Hulle het gefluit, reëls uit die reekse uitgeroep, tipiese dinge wat die karakter sou kwytraak, of net sy naam: Worsie! Willie het vir ’n goeie uur konsert gehou, staaltjies vertel, mense aangehoor, hulle boeke geteken, die gestamp aan hom goedig verduur.

Agterna het hy my gesê: Dís aspirasie. Dit is mense wat opkyk na Worsie en in hom ’n voertuig sien vir opwaartse mobiliteit, hoe nederig die karakter ook al vir my en jou voorkom. Ek het ’n diepe indruk van dié man se deernis en insig oorgehou.

Foto’s gestileer, maar nugter

Die skrywer Mike Nicol het my eendag vertel hoe iemand hom in ’n boekwinkel genader het. Verskoon my, het die persoon gesê, maar hoe kies jy ’n boek uit al hierdie rakke en rakke vol? Dit was sy eerste keer ooit in ’n boekwinkel. Mike het dadelik begryp, want, het hy my vertel, as hy self steeds geïntimideer voel deur die aanbod in ’n groterige boekwinkel, hoeveel te meer mense wat nie grootgeword het met boeke as ’n vanselfsprekendheid nie. As ons in die boekbedryf nie dieselfde begrip as Willie en Mike het vir aspirasie en die struikelblokke voor mense se toetrede tot boekkultuur nie, sal ons versmoor van die dun lug in die hoogtes van haute literature.

  • 5

Kommentaar

  • Marlene van der Westhuizen

    Dankie Frederik, sekuur vat jy hier raak. Statisties beland presies EEN resep uit elke verkoopte kookboek op die kombuistafel. En behoede jou siel as die resep nie 'werk' nie - as kosskrywer verloor jy daardie 'ek-lees-kookboeke-voor-ek-gaan-slaap'-volgeling terstond. 'n Kookboek is maar bloot 'n klim deur die spieël na 'n wonderwêreld - ons klomp skep drome met elke knypie saffraan wat by die dis gevoeg word.

  • Jare gelede het ek ses kosrubrieke vir Rapport/MyTyd geskryf. Resepte met vonkstories. Die foto's daarby het my verstom. Sou dit graag in boekvorm sien.

  • Frederik+de+Jager

    Net soos jy dit stel, Marlene. Ek het eenkeer 'n kookboek gepubliseer met een eetlepel bakpoeier in plaas van een teelepel by 'n muffinresep. Gelukkig kon ons vroeg herdruk en dit regstel.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top