Skoon wasgoed: Poskaarte van ver af

  • 0
  • Die foto's van Eben Venter voor die kothuisie in Prins Albert en in Donegal en van die Nederlandse uitgawe van Foxtrot is deur hom verskaf.

Eben Venter en 'n vriendin voor die kothuis in Donegal, Ierland. Hier het hy Foxtrot van die vleiseters geskryf.

Iewers in die jong jare negentig kom daar ’n manuskrip met ’n posstempel van Donegal in Ierland by Tafelberg aan. Die skrywer was half onbekend. Ek stel dit so omdat hy, Eben Venter, vier of vyf jaar tevore ’n kortverhaalbundel by Taurus uitgegee het getitel Witblitz. Kortverhale synde mos die stiefkind onder genres, en Taurus synde doelbewus weg beurend van die hoofstroom af.

Dié skrywer is nie ’n ydel mens nie, maar na die skryf van Foxtrot van die vleisteters moes hy aangevoel het, dalk selfs onbewustelik, dat sy werk van rat verwissel het, en kan aanspraak maak op die middele waaroor ’n groot uitgewery beskik.

Ek kon in elk geval onmiddellik sien iets het hier met ons letterkunde gebeur. Foxtrot het nie die avontuurlike in Venter se eksperimentele debuutwerk agtergelaat nie, maar dit is op ’n groter doek geskilder en die stem was vas en suiwer en eiendomlik. ’n Nuwe skrywerskap het voor die deur gestaan.

Ek het die manuskrip aan kollegas gewys, en ons het ook seker buitekeurders opgevorder. Daar was geen sprake van dat ons die boek nie sou uitgee nie.

Die besluitnemingsproses gebeur egter nie so vinnig soos dit hier mag klink nie, en ek het poskaarte van Eben uit Ierland en elders gekry om na die vordering te verneem. Dit sou die eerstes van verskeie word wat ek oor die jare van hom ontvang het. Ek het van hulle nog.

Eben Venter is ’n poskaartstuurder. Altyd met die een of ander besonderse prent daarop, dikwels van ’n kunswerk – demonstrasie van sy neus vir die ongewone, die treffende. En altyd ook met die fyn maar hoekige handskrif wat iets manliks suggereer maar ook weer nie.

Die manuskrip is uit Ierland aangestuur omdat Eben vir drie, vier maande in 1992 in ’n kothuis in Donegal County gaan sit het om sy aantekeninge tot ’n roman om te skryf. Die poskaarte het die haltes op sy daaropvolgende reise verteenwoordig.

Van die begin af was daar iets aan dié boek wat nie wou stilsit op een plek nie.

Nie die inhoud nie. Hoewel die boek met wortel en tak in plaasgrond staan, gaan van sy interessantste uitsaaiings na Chili en ’n bisarre episode met ’n weermaggeneraal.

Nie die skryfproses nie. Eben het Suid-Afrika na die skryf van Witblitz verlaat en hom in Australië gaan vestig. “In Australië,” sê hy in ’n onderhoud, “het die afgeslotenheid, die gebrek aan kontak met Afrikaansheid, my omtrent gedwing om te begin skryf. Dit was ’n manier om nog steeds met my eie Afrikaansheid te kommunikeer, om ontslae te raak van my skuldgevoel, en om opnuut Afrikaans-mens-wees te herwaardeer.”

Nie die redigering van die manuskrip nie. Eben het Suid-Afrika besoek en, na die gaan groet van sy familie in die Oos-Kaap, na Kaapstad gekom sodat ons saam met die manuskrip kon gaan sit. Ek sien hom nou nog voor my op die straathoek in Mowbray staan waar ons afgespreek het dat ek hom sou oplaai: die skraal, byna tenger figuur in swart geklee. Selde nog het iemand my as so weerloos getref.

En toe ek my ’n maand of wat later in Prins Albert bevind – ek weet nie meer hoekom nie, waarskynlik verlof – moes ek die bladproewe nagaan nadat Eben hulle gelees het. Hy was toe reeds terug in East St Kilda, Melbourne, waar hy Wild Rice, sy makrobiotiekkafee, bedryf het.

Die proewe, het ek later vir hom geskryf, het van daar per koerier na Sydney gegaan en is toe via Londen na Johannesburg gestuur. Van daar na Kaapstad, na Beaufort-Wes. Daar het twee broers uit die Gamkaskloof (oftewel die Hel) wat karweiwerk in die kontrei gedoen het, dit gaan haal om na Prins Albert saam te bring. So wat van ’n schlepp is onvoorstelbaar nou dat dit alles in een oomblik van sy rekenaar na myne kan blits.

Eben het my agterna vertel dat my kartering van dié epiese reis wat in die fraai Karoodorp geëindig het, saam met my beskrywing van die omgewing, hom besiel om later self daar te gaan woon.

Foxtrot is in 1993 gepubliseer en besonder goed ontvang. Dit het die WA Hofmeyr-prys ontvang, maar is vir die M-Net-prys gediskwalifiseer omdat die skrywer nie voltyds in Suid-Afrika gewoon het nie, al het hy nog ’n Suid-Afrikaanse paspoort saam met sy Australiese een besit. Dié onoorwoë reël is toe verander, maar dit was te laat vir Eben.

Die boek het ook weer op ’n ander manier deur die wêreld gereis deur vertaalde uitgawes in Nederland en Duitsland.

Poskaarte uit Australië en België

In 1994 skryf Eben in ’n poskaart uit Antwerpen: “Ek is nou gereed om my volgende boek te begin. Hoop om my lewe gereed te maak daarvoor.”

Dit doen hy toe die volgende jaar. Voor hy hom later in Prins Albert sou gaan vestig het, huur hy in 1995 tydelik ’n huisie genaamd Oorgenoeg in die dorp, net soos met Foxtrot in Donegal, om Ek stamel ek sterwe – sy meesterstuk – te skryf.

In hierdie tyd het ek hom daar besoek. Dit was winter, daar was kerriesop op die stoof. ’n Selderystingel met welige blare het by die pot se deksel uitgesteek. Ek onthou hierdie besonderhede omdat ek die skrywer se woorde so skerp onthou. “Ek weet nie meer of dit ’n klomp onsin is nie.” (Eintlik het hy sterker taal as dié gebruik.) En hy het nie van die sop gepraat nie.

Later sou hy vertel hoe hy hom die sterwensproses wat hy in die boek as eerstepersoonsverteller weergee, so aangetrek het dat dit begin voel het of hy self aan ’t sterwe is. Hy het ook, steeds in ’n onderhoud, vertel dat dit goed was om terug te kom na ’n Afrikaanse gemeenskap. “’n Mens raak uit voeling met jou taal.”

Waar hy dus met Foxtrot moes weg uit die land om, letterlik, tot verhaal te kom, moes hy met Ek stamel juis weer ín die land wees om homself aan die regte taalregisters bloot te stel.

Foxtrot van die vleiseters, Nederlandse uitgawe

Ek onthou dat ek Foxtrot iewers beskryf het as ’n liefdesbrief aan Afrikaans van ’n ver land af. Postcards from the edge, wil mens amper sê. Poskaarte en briewe is wat jy skryf wanneer jy nie in die vlees teenwoordig kan wees nie. Soos wat met Ek stamel ek sterwe moontlik was danksy die skrywer se verblyf in Prins Albert. Behalwe dat die rigting van die versending hierdie keer omgekeer was. Die gewigtigste deel van die boek speel in Australië af en sein van daar af terug na die vaderhuis in Suid-Afrika. Poskaarte, weer van ’n ander buiterand gestuur.

In 1995 skryf Eben aan my uit Australië op ’n poskaart van Berlyn: “Het nog boggherol van [noem hom maar X, ’n letterkundige – FdJ] gehoor oor my manuskrip. Dis ontmoedigend.” Hy skryf daarin ook oor ’n voorgenome besoek aan Suid-Afrika en verneem of ek in Indië sou wees, ’n reis wat ek destyds beplan het. “Indien jy in SA is, hoop ek ons kan heelwat aan my boek werk.”

Gelukkig het ons mekaar wel in Suid-Afrika getref. Ek het uitgery na sy ouers se plaas in die distrik Burgersdorp, ’n besoek wat my altyd sal bybly.

In Julie 1996 skryf hy: “… lank laas gehoor v. jou. Wonder of my boek nog Augustus sal maak.” Dis moontlik dat die boek toe nie in Augustus verskyn het nie, want in ’n eksemplaar wat Eben vir my geteken het – seker by die bekendstelling – staan die datum 21-11-’96.

Die skrywer se inskripsie voorin my eksemplaar: in sy netjiese, hoekige handskrif

Met die publikasie van Ek stamel ek sterwe het daar ook ’n ander soort migrasie plaasgevind. Ek is ná die publikasie van Foxtrot van die vleiseters weg by Tafelberg om my as vennoot by Queillerie aan te sluit. Eben wou weer by my uitgee en het sy boek dus na Queillerie gebring. Wat ook die verskuiwing van ’n publikasiedatum sou kon verklaar, want Queillerie was net ek en Hettie Scholtz en die wêreld se werkslading.

Eben Venter voor Oorgenoeg in Prins Albert, waar hy Ek stamel ek sterwe geskryf het.

Dit is redelik algemene gebruik in uitgewery dat ’n skrywer sy redakteur volg. Deon Meyer het dit gedoen, asook Rachelle Greeff, Jaco Fouché en Chris Barnard, om enkele ander voorbeelde te noem. In die groot noordelike markte, waar ’n skrywer se agent as tussenganger met die uitgewery as sodanig werk terwyl die skrywer eintlik hoofsaaklik met sy redakteur te make het, gebeur dit nog meer. Gegee die intimiteit en vertroue van die rendezvous in en om die manuskrip, is dit nie verbasend nie.

Ek het daarna nog twee van Eben se boeke by Queillerie uitgegee: My simpatie, Cerise en die verhaalbundel Twaalf. Daarna het ek by Engelse uitgewerye beland. Eben is terug na Tafelberg, wie se moeder, NB Uitgewers, buitendien later vir Queillerie gekoop het.

Eben sou later in sy werk keer op keer terugkeer na veral landelike Suid-Afrika, en altyd na Afrikaans. Sy jongste boek het hy egter eers in Engels geskryf en dit toe self in Afrikaans vertaal: Groen soos die hemel daarbo. Hy het so pas ’n doktorsgraad behaal met ’n tesis oor hierdie proses. Die boek speel hom in verskeie lande af, waarvan Suid-Afrika maar een is.

Dit blyk ’n lang, lang reis te wees, dié een weg van Suid-Afrika af. Een wat jy nooit heeltemal klaar aflê nie, maar jy kom darem algaande verder.

En daar is altyd poskaarte.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top