Om die gepaste titel vir ’n boek te vind is meestal moeiliker gesê as gedaan. Soms vind jy dit nooit en dan moet die boek maar met die tweede beste naam die wêreld invaar. Op die kaai staan die makers van die pas te water gelate bootjie en wens die vaartuig die beste toe, wel wetende dat Boaty McBoatface nie die naam is wat hulle daarvoor wou gehad het nie.
Ek het baie saam met kollegas en skrywers om ’n tafel gesit vir ’n ideestorm om ’n titel vir ’n boek te vind. Die reël is: Jy sê alles wat in jou kop kom en iemand skryf alles neer. Teoreties moet daar ’n klinkende titel iewers op die twee, drie, vier A4’s vol neerslag vind.
As jy genoeg avontuurlike mense om so ’n tafel het, genoeg aweregse sinnigheid, indien nie plein kranke sinnigheid nie, is die kanse beter. Waarna soek mens? Dit is moontlik om ’n lys elemente te maak, maar wat die deurslag gee, is ’n faktor – kom ons noem dit Z – wat jy nie kan omskryf of voorspel nie, en nog minder kan beheer. Dit is daar of dit is nie daar nie, en jy erken dit sonder redenasie wanneer jy dit sien.
Titels vir boeke en flieks, gedigte en dramas, stories, artikels, is ’n vreemde ding as jy dit op die keper beskou. Wat is hierdie rare woord of reëltjie boaan wat beide niks en alles met die storie daaronder te make het nie? Dit sneller nie die vertelling nie, stu dit nie organies vorentoe soos elke ander element in die verhaal behoort te doen nie, en tog is dit in jou agterkop teenwoordig tydens jou hele reis deur die boek.
’n Goeie boektitel doen minstens twee uit die volgende vier dinge: (1) dit identifiseer die boek, (2) dit gee ’n konteks vir die inhoud daarvan plus (3) ’n puntgrootte-opsomming daarvan, en (4) dit trek die aandag.
As jy ’n uitgewer vra om ’n titel voor te stel, sal nommer 1 en 4 neig om te oorheers, want jy wil boeke verkoop en dit beteken die titel moet tussen tienduisende ander titels in die winkel uitroep om ’n koper se aandag te trek. As jy ’n skrywer vra, sal 2 en 3 bes moontlik die hardste werk. As jy ’n redakteur vra, ten minste een wat sy sout werd is, behoort al vier in sy voorstel teenwoordig te wees.
Ek was in my loopbaan as redakteur en later uitgewer nie volkome hopeloos in die vind van titels vir boeke nie, en ek dink dit is omdat ek gehou het van ’n klinkende titel. Iets wat, soos die Engelsman sê, “ring”. Iets melodieus, elegants, mooi gefraseerd en slim.
Om die 40ste verjaarsdag van Tafelberg-uitgewers te vier, is ’n boek uitgegee met opstelle deur skrywers en ander wat in die groot familie om die uitgewery gewentel het. My voorstel vir ’n titel, grappenderwys bedoel, is sonder meer aanvaar: In ons goeie boekies.
Daardie klinkende reël, was dit altyd my gevoel, staan reeds in die manuskrip, iewers waar jy nie daarvoor sou soek nie. Ek vermoed dis juis die onverhoedse eienskap van daardie reël wat dit so treffend as ’n titel maak. Dit bespring jou wanneer jy nie kyk nie. Iewers in ’n pragtige boekie van JC Steyn het dié reël gestaan: “hoeke Boerseuns ons was”. In sy onbewaakte en daarom onbevange gemeensaamheid vat hy die boek perfek vas, en daarom het ons saamgestem dit moet die titel wees.
Daardie onverhoedse reël staan egter nie altyd in die manuskrip nie. Soms val dit uit ’n informele gesprek oor die boek of die saak waaroor dit in die boek gaan. Wanneer mens die titel hoor van die wêreldwye topverkoper deur Richard Branson, Screw it let’s do it, kan jy jou goed voorstel hoe dit in die raadskamer van ’n avontuurlike entrepreneur soos Branson gesê is. Ons het die boekie by Umuzi in Afrikaans uitgegee onder die titel Se maai, laat waai.

Dit onderstreep die noodsaak dat mens moet oplet na wat op die vloer val, deur die vingers glip, die weggooireël. Ek kan my goed indink dat die vermaarde film All that jazz sy volmaakte titel gevind het in ’n terloopse beskrywing deur iemand van dinge waaroor die film gaan – this and that and the other thing, and all that jazz.
As ’n titel ’n boek behoortlik identifiseer, beteken dit ook onder andere dat die titel onthoubaar is. Net ongewoon genoeg dat dit opval, maar nie te uitlands om te onthou nie. Eenwoordtitels, ’n kanniedoodgunsteling, kry die bogenoemde minder goed reg.

Met een van die beroemdste romans in Afrikaans, Triomf van Marlene van Niekerk, moes ek van beter geweet het. Marlene se titel vir die boek was iets baie sagters: Weens gebrek aan asem. Sy het tereg geargumenteer dat die ironie in ’n titel soos Triomf sigself meteens sou uitput en dat dit daarna flou sou wees soos verslaande sjampanje. Ek het gevoel Triomf was klinkend en dubbelsinnig genoeg om potensiële kopers gou in werklike kopers om te sit. Ons uitgewery, Queillerie, was jonk en klein en ons het alles op die spel geplaas met die produksie van hierdie lywige boek. Verkope moes tot elke prys prioriteit kry. Ek vermoed Marlene was net te uitgeput om verder te stry, en ek het my sin gekry. Maar ek was nie reg nie. Marlene se voorgestelde titel was iets wat deur die hele boek gedistilleer is en nie net een macho hamerhou toedien nie.
Gelukkig het iets gebeur wat jy kry wanneer ’n boek baie suksesvol is. Daar kom ’n infleksiepunt waar die titel nie meer die boek benoem nie, maar die boek die titel. As iemand vandag in belese Afrikaanse kringe die naam Triomf sê, wed ek jou mens sal eerste aan die boek dink voor jy aan die woonbuurt dink. In uiterste gevalle hiervan verdring die konnotasie met die boek alle ander konnotasies van ’n frase. As jy die naam Silberstein hoor, is jou eerste assosiasie die boeke van Etienne Leroux. Die frase Catch-22 kan maar net na die betrokke boek verwys.

In die laasgenoemde geval gaan so ’n titel op in die algemene spreektaal en kry dit idiomatiese status. Ons is nie almal so nie van Jeanne Goosen is sekerlik een van die mees gebruikte Afrikaanse titels, omdat dit verby die konneksie met die boek strek en ’n ikoniese sêding geword het. Soos sekere advertensiespreuke: “It’s not inside, its on top.” Of “Braaivleis, rugby, sonneskyn en Chevrolet”.
As jy dít met ’n boektitel kan regkry, hoef jy geen reklame daarvoor te doen nie.

Dit wil nie sê dat eenwoordtitels nie kragtig kan wees nie. Met Toorberg, sy vroeë meesterstuk, roep Etienne van Heerden ook slim die magtige Thomas Mann met Der Zauberberg tot getuie. Sy Asbesmiddag is ook evokatief. Moerland deur Chris Barnard kon geen ander titel hê nie. Nóg Roepman deur Jan van Tonder, nóg Huilboek van Ryk Hattingh. Miskien is dit betekenisvol dat hierdie titels almal minstens twee lettergrepe het, wat hulle die ritmiese waarde van ’n meerwoordtitel gee.
Toe ons ’n titel moes soek vir die Afrikaanse uitgawe van Carol Campbell se pragtige boek oor die karretjiemense, was daar werklik geen keuse buite die eponimiese benadering nie: Die boek moes Karretjiemense heet. Daardie besluit was reg, want die boek was ’n tamaai sukses, groter as sy Engelse suster met ’n “beter” titel: My children have faces.
Die vermoë van ’n gefraseerde titel om ’n verhaal in die kleine te vertel kan een van die treffendste dinge aan ’n boek wees. The Curious Incident of the Dog in the Night-Time (Mark Haddon). The Hundred-Year-Old Man Who Climbed Out the Window and Disappeared (Jonas Jonasson). Wie sê ’n titel moet kort wees?

Afrikaans het mooi eweknieë: Die uurwerk kantel (Marie Heese). Pa maak vir my ’n vlieër Pa (Chris Barnard). Toe die wêreld nog anders en ek nog jonk was (Klaas Steytler). Die swerfjare van Poppie Nongena (Elsa Joubert). Die middag voel na warm as (FA Venter). Die afdraand van die dag is kil (Alba Bouwer). Daar’s ’n gaatjie in die middel van die see (AS van Straten). Die man met die dertien kinders (Harry Kalmer). Die biblioteek aan die einde van die wêreld (Etienne van Heerden). Mens kan so voortgaan.
In die diep winter van 1992 of ’93 is ek in Grahamstad by die Van Heerdens in hulle mooi Herbert Baker-huis. Ek sit saam met Etienne deur sy jongste roman en werk en ons drink baie potte tee leeg. In die aand gaan ons na jazz by die kunstefees luister, en laatnag wil Etienne sien wat gaan in die strate aan. Ons dwaal onder die geel straatligte rond. By die rolbalklub, om eenuur in die oggend, verduidelik ’n grysaard vir Etienne hoe om die jack met jou bal weg te stamp. In die hoofstraat, nog later, merk hy die aktrise Nomsa Nene op en gaan maak ’n geselsie.
Maar waarheen óns gesels kort-kort terugkeer, is ’n titel vir die boek. Die werkstitel is Die stoetmeester, maar dit bevredig nie heeltemal nie, omdat dit reduktief is op die manier dat alle Die-titels een enkele element in ’n boek isoleer en vaspen. Juis in 1992 het die filmweergawe uitgekom van Norman Maclean se gelyknamige roman A river runs through it. Ek sê maar dit moes die titel van hierdie boek gewees het, want die rivier speel ’n groot organiese en metaforiese rol in die boek.
Ons gooi titels links en regs rond, maar almal gly af, niks wil vassit nie. “Demmit!” roep ek of Etienne dan uit. “A river runs through it!” Uiteindelik het die boek onder sy werkstitel verskyn. Die volmaaktheid van Norman Maclean se titel het enige ander poging so oorskadu dat ons nie daaronder uit gedink kon kry nie. So kom ’n boek soms met ’n kompromistitel uit. ’n Heeltemal skaflike een darem, in hierdie geval.
Daar is terloops geen beletsel op die herhaling van ’n titel nie. Jy kan nie kopiereg op ’n titel uitneem nie, tensy jy diep genoeg sakke het om die bewoording plus variante in elke streek in die wêreld, in elkeen van talle onderwerpklasse te gaan registreer. Sulke herhalings gebeur meer as wat mens sou dink. Dit is egter om voor die hand liggende redes nie raadsaam om kort op die hakke van ’n voorganger dieselfde titel te gebruik nie.
Jy sou moontlik opgelet het hoedat die naam van ’n skrywer al hoe groter op ’n boek word hoe bekender en suksesvoller hy of sy word, en die boek se titel omgekeerd al hoe kleiner word. Dan word die naam van die skrywer die element wat die meeste werk doen om die boek by klante in die boekwinkel aan te beveel.
In Van Heerden se geval is die outeursnaam en boektitel by Stoetmeester, midoeuvre, ewe groot. Dit geld ook die volgende roman, Kikoejoe. Voor dit was die titel die grootste. Daarvandaan word die skrywersnaam groter as die titel, behalwe by die latere titels, wat met die uitsondering van Klimtol almal langer is en dus meer plek opneem. Altyd egter die outeursnaam in ’n prominente posisie en in ’n opsigtelike kleur en font.

Afgesien van die narratiewe allure van ’n meerwoordtitel is daar ook ander strategieë. Woordspel is een. Hiervoor is iemand soos Marita van der Vyver lief, met titels soos Griet kom weer, Vergenoeg, Franse briewe, Grensgeval. Die woordspel verskaf ’n oomblik se spanning wanneer die voornemende boekkoper dit uitwerk, maar die spel kan daarna sy fut verloor.
Langer durend is die spanningsveld wat ’n skynbare teenspraak kan veroorsaak. Met sy laaste kortverhaalbundel het ek saam met Chris Barnard lank koppe gestut en gehamer om ’n gepaste titel te fabriseer. Niks wou werk nie. “Daar moet ’n spanning in die titel wees,” sê Chris, “soos wanneer jy twee elemente saam gebruik wat gewoonlik nie saam staan nie. Iets soos wanneer mens ’n spreuk verkeerd verwoord en byvoorbeeld sê ’oulap se blou’ in plaas van ’rooi’.”
“Maar daar is die titel!” roep ek uit. Chris het dit onmiddellik ook ingesien, en toe kry die boek daardie toepaslike en volkome Barnardiaanse titel. En wie kan Oulap se blou vergeet? Eben Venter doen dit ook met Groen soos die hemel daarbo.

Ons het iets soortgelyks getref met die titel van Antoinette Pienaar se boek oor genesende veldkruie: Kruidjie roer my. Die afwesigheid van "nie" aan die einde hou aan dawer en forseer ons aandag op die gewysigde betekenis van die gesegde: die kruid roer my juis!
Dit is een ding vir ’n redakteur of uitgewer, of selfs ’n skrywer, om ten opsigte van die titel van ’n boek te fouteer. Vir ’n resensent is dit rampspoedig. In 2010 het ons by Umuzi ’n fotoboek van David Goldblatt uitgegee saam met ’n roman oor die fotokuns deur Ivan Vladislavić. Die gesamentlike titel was TJ / Double Negative. Die laaste deel was die roman se titel, en dit is later apart ook onder dieselfde titel vrygestel. Toe gaan een nogal geleerde resensent, wie se naam ek nie sal noem nie, en resenseer die boek as sou die titel Double Exposure wees. Gee nogal ’n hele uitgewerkte interpretasie van die literêr-teoretiese representasie-idees wat in die boek uitgewerk sou wees, maar gesien in die lig van blootstelling. Dit terwyl die skrywer gewerk het met dubbele en omgekeerde negatiewe soos sy titel suggereer.
Wat die yslike verleentheid egter darem bevestig het, is dat die titel part en deel van ’n boek is en deurslaggewend vir sy interpretasie, en dat mens dit met die grootste sorg moet kies. En daarna oplet wanneer jy ’n boek lees.


Kommentaar
Die wonderlike ding van 'n lui Saterdagoggend is dat jy Die Burger met sy afgewaterde By met misnoë eenkant toe kan skuif, jou selfoon optel, deur Litnet digitaal blaai en nie onverwags nie, op 'n glinsterende diamant van 'n artikel afkom.
Soos die edelsteen, skitter die artikel in alle rigtings. Omdat die oorspronklike invalshoeke so skerp(sinnig) is.
Soos 'n jong meisie/vrou wat haar oë met ingehoue spanning oor die een diamant na die ander in 'n juwelierswinkel laat gaan, wens jy daar moet nog 'n titel en nog 'n titel wees wat sy geheim wil verklap.
En dan skielik is daar volgens die skrywer een met 'n dowwe kol. Dit hang egter baie daarvan af hoe 'n mens daarna kyk. Vir hierdie leser is ook dié besondere titel 'n Triomf!
Briljant en nodig. Dankie.
Dankie Arrie, dankie Riette.
Ai, net as 'n mens al op en blou gedink is oor 'n titel vir jou nuwe boek, kom jy af op pêrels van wysheid. Dankie vir die insiggewende en inspirerende artikel. Nou kan ek weer skryf aan my nuutste boek. Met sy spiknuwe titel.