Skoon wasgoed: Die Oom en die Juffrou

  • 3

Ek het skrywers van sóveel agtergronde gehad. Skrywers uit die middelklas, skrywers uit die akademie. Van die regbank, van die tronk. Van die spoorwegwerf en die torings van staal en glas in die middestad. Van kerk en kroeg, van land en see. Maar onder hulle almal was een van die kleurrykstes seker die vrou wat in ’n hut in die berge woon. Sy en die oom.

Ek ken Antoinette Pienaar in die verbygaan al van ons universiteitsdae af, maar dis eers in haar later jare, tydens haar loopbaan as akteur en sanger, dat ek haar beter geleer ken het. En nog beter nadat sy dit alles agtergelaat het om iewers in ’n driehoek met Beaufort-Wes en Nelspoort op die plaas Theefontein in die berg te gaan bly.

Ek het haar daar gaan besoek saam met my neef, met wie sy goeie vriende is. As ek sê “haar” bedoel ek eintlik “hulle”, want dertig meter van haar witgepleisterde eenvertrek-arbeidershuisie af staan dié van oom Johannes Willemse. “Oom”, want hy moet nou al by honderd jaar oud wees. ’n Sterk, veerkragtige man met die Griekwa-trekke wat met die jare net al hoe mooier geplooi word.

Die boek waaroor ek dit hier het, is van Antoinette, maar dit gaan alles eintlik oor oom Johannes.

Oom Johannes

Antoinette vertel hoe sy reeds as kind ongedurig gevoel het in haar eie vel. Sy het nie in die patroon gepas nie. Sy wou van die veld leer, nie wat mense van haar verwag het om te leer nie. Dié ongemak het voortgeduur terwyl sy die konvensionele weë gevolg het van skool, universiteit en werk. Sy het nooit die begeerte na veldkennis verloor nie en het begin soek na iemand om haar te leer. Haar soektog het haar op ’n dag in Dapper, haar rooi bakkie, tot op die werf van Theefontein gebring.

Oom Johannes staan aan die uiteinde van ’n linie medisynemanne wat van oupa na kleinseun oorgedra is. Die ongebroke ketting strek terug tot in die newels van die tyd, die figure vergete maar nie die kennis nie. Maar hy was die laaste, daar was nie ’n kleinseun om te leer nie. Hy het skaapwagter geword en bouer; hy het saam met sy pa die paaie van plaas tot plaas geloop vir bouwerk en draadwerk. Tog het hy ’n visioen gehad van iemand wat met ’n rooi voertuig na hom sou kom om van die veldkruie te leer.

Antoinette Pienaar

Toe “die juffrou” voor hom stilhou, het hy geweet. En sy het geweet. Maar sy was nie in die eerste plek daar om te leer nie. Sy was ten dode siek. Sy was in Mali en daar het sy malaria opgedoen. Teen die tyd dat sy terug was in Suid-Afrika, was sy in ’n slegte toestand. Niks wou meer help nie. Toe gaan sy na oom Johannes. Hy het haar vir twee jaar gedokter, en sy het gesond geword. Daarna het sy gebly. Hulle werk nou al meer as twintig jaar saam.

Vroeg soggens is hulle met die honde uit in die veld om plante te versamel. Die oom is so rats soos ’n bok die steiltes uit. As hy jou groet, kry jy ’n beerdruk waarin jy kan voel hoe sterk hy is, hoe hard sy borskas. Hy het my en my neef gebad in water wat in gifbol (Boopane disticha) geweek is, ’n lelieagtige plant met ’n uiagtige bol. Ons moes ons klere afstroop en in die sinkbad staan en die water oor onsself gooi. Dit het soos vuur gebrand, maar dit sou ons skoonmaak na liggaam en gees.

Hy het ons klippe gewys wat hy versamel het. Een daarvan het hy van sy oupa, wat dit weer van sý oupa het, en so verder terug. Dis ’n ongewone klip, bruinerig, en byna of dit rondom met speldepunte geprik is. As jy die klip ronddraai, kom jy af op ’n klein goue kolletjie waar die lig weerkaats. Dit is die klip se oog, sê die oom. Met daardie oog sou hy na my aanhou kyk wanneer ek weer terug in die Kaap is. Want hy wat oom Johannes is, het mos die gesiente.

Hy het vir ons kankerbostee laat drink (Sutherlandia frutscens). Hy het vir ons dasbos (Pelargonium griseum) gebrand sodat die rook ons kon beklee. Vir ons dawidjiewortel (Cissampelos capensis) saamgegee vir beskerming van voertuig en huis. Hy het ons gevat na die watervrou se blyplek in die fontein hoër op, waar ons doodstil moes vertoef om haar nie te vererg nie. Hy het vertel van die verskriklike storm wat oor die Karoo uitgebreek het die dag toe hy ’n verkleurmannetjie doodgemaak het. Hy was nog ’n kind. En van hoe sy oupa ’n lou geword het toe booswigte hom wou aanval. Lou was sy totemdier, en die ou mense kon nog gemene saak maak met die diere in wie hulle gees verleng het.

Wat jy nou ook al van sulke toorpraatjies dink, daar in die óú wêreld, waar die heugnis so ver teruggaan dat hulle praat van die dorre Karoo as ’n waterwêreld, waar die rotse nog in hul vorm die water onthou op maniere wat duidelik is vir dié wat weet hoe om te kyk, is dit makliker om te glo. Of eintlik is dit daar onnodig om nié te glo nie. Zoom jy egter van daar af uit, ver uit tot in die ruimte, lyk geloof in water en wonders nie rasioneel nie – nie deur die lens van Google Earth se kamera wat net bruin en barre aarde sien nie, nie deur ons tegnologies gekondisioneerde oog nie.

Ewenwel. Daar is nog genoeg mense wat heling soek by Antoinette en oom Johannes en hulle kruie. Antoinette het jare lank ’n weeklikse radioprogram gehad waarin sy met groot charisma vertel het van haar en oom Johannes se gesjarmeerde lewe en hulle veldkennis. Haar luisteraars het groot hoeveelhede van die medisyne bestel wat sy van die poskantoor op Beaufort-Wes versend het. Mense het na haar en die oom daar op Theefontein gegaan vir heling, of hulle nou stukkend was van liggaam of van gees. TV-spanne het gekom om hulle storie te vertel. (As jy hier klik, kry jy ’n hele aantal video’s oor hulle.)

Toe Antoinette dus die dag laat weet sy wil ’n boek skryf en net ek mag dit uitgee, het ek nie ’n oomblik getwyfel nie. Daar sou ’n mark voor wees, en dit sou die boekstawing wees van ’n kosbaarheid in ons kultuur. Dit was in 2007. Sy het met die hand in ’n grootmaat-oefeningboek geskryf, dit op die een of ander manier reggekry om te laat oortik, en stuk-stuk aan my gestuur. Hierdie proses het oor baie maande gestrek.

Toe ons die teks min of meer uitgestryk gehad het, moes ons begin dink aan foto’s. My baas, Annari van der Merwe, is ’n avontuurlike vrou. Ek en sy het toe al meer as een sak sout op reis saam opgeëet in Zimbabwe, Indië, Italië en Egipte. Ons ry Theefontein toe, sê sy, en sy gaan neem die foto’s. Annari was – is – ’n knap fotograaf, en ’n ewe goeie motorbestuurder. Haar splinternuwe Volvo het egter swaar gekry op die klippad tot op die hoogte waar Antoinette en die oom bly. Ons moes voetjie vir voetjie aankruip.

Oom Johannes

Ons is met dieselfde hartlikheid verwelkom as laas toe ek daar was. Die oom het ons darem die bad met die gifbol gespaar, maar ons moes van die bitter kankerbostee drink. Antoinette het al die kruie uitgestal gehad vir die foto’s, en ons het nog baie ander op die werf en op staptogte in die veld geneem. Is enige ander landstreek so fotogenies as die Karoo?

Vir die titel het ek ’n blaadjie uit die boek van Chris Barnard geneem. Ons het destyds sy Oulap se blou so genoem nadat hy gesê het mens moet ’n element in die titel omdraai sodat dit ’n spanning skep en onthou kan word. Daarom van “rooi” na “blou”. Toe kry ek gedagte van die plantnaam kruidjie-roer-my-niet, en van Antoinette-hulle se kruie wat jou juis roer, en vandaar: Kruidjie roer my.

Marius Roux het die bladsye lieflik uitgelê en ek het die boek op mooi wit beslaande papier laat druk om die kleurfoto’s ten beste te laat vertoon. Dit is digte, swaarder papier waarvan die oppervlak gladder afgerond is as die gewone boekpapier. Toe daar later jare ’n nuwe grootbaas aangestel is, ’n Brit, het hy my voor stok gekry oor die duur papier en volkleur drukwerk van dié boek, maar die boek het besonder goed verkoop. Drie oplae, as ek reg onthou, en by die 20 000 eksemplare. Antoinette kon vir haar ’n nuwe bakkie koop, want Dapper was op sy laaste bene, of dan wiele.

Dit moes vir ’n buitelander, ’n gesofistikeerde Europeër, moeilik gewees het om hierdie paar oer-Afrikaanse mense van die veld klein te kry, laat staan nog om hulle waarde in te skat. As jy Antoinette uit volle bors hoor lag of sing, oom Johannes sy geronde Afrikaans hoor praat met sy sagte bry, die ingekleurde klinkers – daardie mooiste van alle Afrikaanse – kan jy maar net dankie sê vir ’n samestelling wat dit vir jou moontlik maak om sowat te waardeer. En wie kan kruidname weerstaan soos agtdaegenisbossie, balderjan, bontbees of kanniedood? Katjiedrieblaar, kokkoromoniet of langbeenwillekeur?

Gelukkig was Stephen Johnson nog die baas ten tye van die boek se vrystelling. Stephen, so Afrikaans as wat hy op Shakespeareaanse skaal Engels was, was ewe entoesiasties oor die boek as ek en Annari. Hy het nooit teruggedeins van die bietjie onkoste aan ’n bekendstellingsfunksie vir ’n boek waarin hy glo nie. Ons het dit in Exclusive Books in die Tygervalleisentrum in Bellville gedoen. Die kontras kon nie groter gewees het nie. Hierdie twee mense, skoongeskrop en in hulle mooiste klere, suiwer en opreg en volledig onbegaan oor materiële goed, teenoor daardie blinkgepoleerde handelstempel, die naakte kommersialisme in elke vorm van vertoon wat sy priesters kan bedink.

Agterna het ’n paar van ons in ’n kettingrestaurant daar in die sentrum iets gaan eet. Die kelnerin kon haarself nie keer om hulle aan te staar nie. Dit was duidelik dat sy moeite gehad het om uit te werk hoe sy hierdie mense moet bejeën. Hulle het aan haar ’n vraag gestel wat sy nie kon beantwoord nie.

  • Foto’s verskaf
  • 3

Kommentaar

  • Baie dankie vir hierdie mooi skrywe oor 'n kosbare vrou en wyse plooiman se werk en kennis. Dank ook aan almal wat met soveel sorg dié besonderse boek saamgestel het. Erfgoed.

  • Corlietha Swart

    Twee natuurmense se nederige, dog grootse lewenswerk luuks saamgestel en met sorg uitgegee - 'n versamelaarsitem. Dankie daarvoor, Frederik!

  • Frans van Eeden

    Twee mense reg uit die aarde. Aards en deur God aan ons gegee as voorbeeld van hoe sy skepping moet lyk. Vol liefde en genade.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top