Skoon wasgoed: Die hoogsomer van Klaas Steytler

  • 4

Deurslaggewende oomblikke kondig hulleself dikwels sonder fanfare aan. Jy beleef iets wat jy eers agterna eien as ’n baken in die tyd, ’n merker van betekenisvolle dinge wat sou volg.

Die oomblik toe my assosiasie met Klaas Steytler begin het, kan ek helder onthou. Ons was in die voorportaal van Tafelberg-Uitgewers in hulle kantore in die neogotiese Waalburg-gebou in Kaapstad. Grys graniet buite, houtpanele binne. Danie van Niekerk, die hoof van Tafelberg, was daar, en Charles Fryer, die hoof van fiksie. Ons het Klaas en Elsa Steytler ingewag.

Die Steytlers was literêre royalty. Elsa, wat geskryf het onder haar nooiensvan, Joubert, het wêreldbekendheid verwerf met Die swerfjare van Poppie Nongena. Maar voor dit was sy met ’n gewigtige oeuvre reeds een van die vernaamste Afrikaanse skrywers. Klaas was haar gelyke nóg in uitset, nóg in literêre prestasie, maar hy was ’n ewe groot gees as sy.

Hy was vroeër onder meer redakteur van Huisgenoot toe dié tydskrif pitkos gepubliseer het en nie meesal verstrooiing nie. Hy was ook die skrywer van ’n hele handvol boeke van uiteenlopende aard. In sy werk het hy moeite gehad om altyd die groot idees in sy kop, wat geïnspireer is deur ’n diepgaande belangstelling in mitologie en dieptesielkunde, verhalend gestalte te gee.

Maar dit sou nie so bly nie. Die rede waarom ons die Steytlers dié dag daar in die voorportaal van Tafelberg-Uitgewers verwag het, was dat Klaas sy nuwe manuskrip sou kom indien. Dit was ’n bielie van ’n manuskrip, ruim drie duim dik. Ek kan dit nog voor my geestesoog sien.

Ek kan Klaas ook nog sien, in die onderbaadjie wat hy graag gedra het, laphoedjie op sy kop. Hy wou trippel van opgewondenheid oor sy boek. Ek was ook opgewonde, want die manuskrip is aan my toegewys om mee te werk. Die titel daarvan was In die somer van ’36.

Maar eers moes ek deurgekyk word. Klaas het my na hulle huis in Belvederelaan in Tuine uitgenooi vir die eerste van baie glase whisky wat ek oor die jare by die Steytlers sou geniet. Dit was eintlik ’n belaglike situasie. Klaas was nie net my senior met 36 jaar nie, hy was ook ’n voorganger as boekredakteur by Tafelberg. Ek was nat agter die ore, maar Klaas het my met grasie en respek behandel en my ’n kans gegee.

Eers moes hy my inlei in die mitologiese agtergrond van die boek. Hoewel hy self gesê het die hoofkarakter is eintlik die Vrystaatse dorp K, is die katalisator in die storie sonder twyfel die jong meisie met die naam Dewwie Dykstra, die apteker se nuwe assistent.

Dewwie is ’n bynaam afgelei van haar regte naam, Dawida. Laasgenoemde sinspeel op die Drawidiaanse god Krisjna van Indië. Krisjna in Sanskrit beteken "die donker een". Dewwie is naamlik blas van gelaat. Dit het minder met ras te make as met die donkerder drifte in die mens. Die boek, kan jy verder sê, speel af rondom sekere van die tjakras van Dewwie. Tjakras is energiepunte wat deur die liggaam versprei is, volgens tradisies in Hindoeïsme en tantriese Boeddhisme.

Van hierdie dinge het ek niks geweet nie, en dis nie al wat ek oor die jare wat sou volg, van Klaas geleer het nie. Dit was egter goeie agtergrondskennis vir die redigering van die boek, al is dit nie vir lesers nodig om te weet vir hul waardering van die verhaal nie.

(As jy die boek nog nie gelees het nie, moet jy dalk hier ophou, want ek skryf verder ondertoe oor die verrassende slot.)

Die verhaal is een van die betowerendste, vermaaklikste en uiteindelik aangrypendste onder die boeke wat ek in my jare as redakteur onder hande gehad het. ’n Lieflike, soel meisie kom werk op ’n hoogs ordelike dorp. Die mans kan hulle oë en hulle pote nie van haar af hou nie. Sy, ’n mengsel van onskuld en verleidster, gee sonder te veel moeite toe. Gou is sy saam met almal vasgewoel in ’n onmoontlike situasie waarvoor die enigste oplossing is dat sy die dorp verlaat. ’n Orkaan wat die plek tref en dan verby trek.

Daar, altans, het die manuskrip geëindig. Toe sê Elsa vir Klaas maar die boek is nog nie klaar nie. In ’n terloops skreeusnaakse toneel loer twee skoolseuns ’n vrytoneel af, en verder het daar niks van gekom nie. Wat Klaas egter toe daar byskryf, skop jou in die maag: Een van die twee kom onder soveel druk oor wat hy gesien het dat hy homself ophang.

Daarmee is dit asof die valdeur onder die hele gegewe oopgaan en die donker dieptes wat werklik onder die orde bestaan, blootstel. Vroomheid en wellus is keerkante, en wellus is geweld. Dit het Klaas uitmuntend uitgebeeld in ’n pakkende verhaal waarin sy grinterige, sardoniese vertelstem volkome gepas is.

Die boek was sy groot deurbraak in ’n laat uur, en vir my die begin van ’n sewejaar-vriendskap. By die Steytlers aan huis, beide in Oranjezicht en in hulle strandhuis in Onrus, was jy tuis. In weerwil van hulle statuur was daar aan nie een van die twee die geringste aansittery en vernaamdoenery nie. Hulle het eg in jou belang gestel, in wat jy dink. Hulle geselskap was oor idees en hul intellektuele nuuskierigheid onvermoei deur ouderdom. En of dit nou oor ’n glas whisky of oor aandete was, daar was byna altyd iemand interessants by, skrywers, kunstenaars, aweregses. Ek, ’n penkop, het my uitermate deur hulle bevoorreg gevoel.

En dit het my geïnspireer om hulle twee so saam te sien, hetsy in harmonie of in opposisie. Meesal harmonie. Soggens het hulle hul na ontbyt elkeen in sy of haar skryfkamer teruggetrek en onder volle konsentrasie gewerk. Dan saam tee gedrink en weer gaan werk. Dan middagete, miskien ’n bietjie gerus, en dan weer geskryf tot vyfuur of so. Dit was die whisky-uur, dikwels met ’n gas by vir geselskap.

Hulle was altyd mekaar se eerste lesers. Dit verklaar die insig in mekaar se werk, die feit dat Elsa kon sien dat In die somer van ‘36 nog nie klaar was nie en so ’n deurslaggewende rol gespeel het in die geslaagdheid van die boek. En tog was hulle heeltemal verskillende soort skrywers. Elsa die skrywer van diep penetrerende maar glashelder kronieke. Klaas die Jungiaan wat in die verborge ondergrond ingeboor het.

Een aand tuis by my aan tafel, toe die geselskap al goed op dreef was, roep Elsa uit: "Maar moet alles dan oor Carl Jung gaan?" Dit was die begin van ’n nuwe, energieke wending in die geselskap. Selfs in opposisie teenoor mekaar se idees was hulle bydraend en kreatief.

In die somer van ‘36 het Klaas in lewe nog twee titels gepubliseer. Toe die wêreld nog anders en ek nog jonk was (1993) is die herbewerking van ’n vroeëre jeugherinnering. Die goue kalf (1995) is ’n voortsetting van ’n vroeëre satiriese roman. Genoeglike boeke uit eie reg, maar nie van dieselfde kaliber as Somer nie. Ek is intussen weg na Queillerie-uitgewers. Bogenoemde twee titels het beide by Queillerie verskyn, waarvan die eerste onder die sorg van my vennoot, Hettie Scholtz.

Klaas was besig om sy volgende substansiële boek na te vors en te skryf, maar die noodlot trap ander spore as ons s’n. Sy gesondheid was in die jare dat ek hom geken het, nooit honderd persent nie. Jy sou hom egter nooit hoor kla of sien wegskram van iets om aan te pak nie. Hy en Elsa het nog op ’n reis na Indië gegaan waaroor hy later opgewonde vertel het.

In die laat jare negentig het dit begin slegter gaan. Dit was kanker, maar al was Klaas siek en swak, het hy aangehou en volgehou. Hy het ’n versoek om ’n TV-draaiboek te skryf van die hand gewys, omdat hy al sy beskikbare tyd aan ernstige skryfwerk wou wy.

Sy belangstelling in dieptesielkunde het van hom ’n gretige droomuitlêer gemaak. Hy het ook die I Ching geraadpleeg. Om my te laat verstaan wat ek vorentoe aan skryfwerk van hom moes verwag, het hy my van ’n droom vertel.

Hy het met sy motor voor ’n drif tot stilstand gekom. Op die agtersitplek was ’n manuskrip. Dié moes in die droom tot elke prys die oorkant van die drif haal. Daar het ’n man in wit klere gestaan. Kwel jou nie, het die man gesê, ek sal jou help. Klaas het die manuskrip aan die man aangegee en dié het dit deur die drif gedra.

Sy interpretasie van die droom was dat die geneesheer (wit klere) hom sou genees sodat hy sy boek kon afhandel (deur die drif kry). Maar met drome kan jy nooit weet nie. ’n Ander interpretasie is altyd moontlik. Die lewe se eie interpretasie van die droom was dat Klaas sou agterbly terwyl sy boek deur ander verder geneem word.

Op 27 Augustus 1998 is Klaas Steytler oorlede. Sy laaste roman, Ons oorlog, is deur Elsa en hul seun, Nico Steytler, voltooi en in 2002 gepubliseer. Anderkant die drif tussen twee millennia.

  • Foto’s verskaf
  • 4

Kommentaar

  • Eduard van Graan

    Gawe stuk van Frederik de Jager oor Klaas Steytler en "In die Somer van '36".
    Die werklike dorp was nie K nie maar H.
    Ek het op 'n naburige dorp V groot geword, met heelwat familie op H.
    Toe ek die eerste keer die boek lees, het ek snuf in die neus gekry dit is H. Ek vertel toe die storie vir my Oom wat ook in die dertigjare 'n tienderjarige was op H en hy herken toe almal: die dominee, die dokter, die boer, die skoolhoof, die apteker, en die mooi, blas aptekerassistent wat die dorp se pot geroer het. Tot die vry- en afloerplek aan die rand van die dorp het hy herken. Dit het so gebeur. Net van die diep mitologiese en psigologiese implikasies van die blasheid sou my Oom, soos Liewe Heksie, nie geweet het nie. Steytler het 'n briljante boek geskryf van die gebeure op H. Dit sou hy ook kon doen oor dieselfde soort dinge op elke dorp daar rond, ook op B, M, V, W en die regte K. Of klink dit nou te veel na die ou Landstem en Sondagnuus?

  • Frederik+de+Jager

    Gewaardeerde bydrae, dankie Eduard. Klaas het in H grootgewrord, herinner ek my, so dit was die begrip soos jy dit het. Hoe knap van hom dat hy ’n samehang in soveel diversiteit kon sien.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top