Skoon wasgoed: Die duursame trooswoorde van Ferdinand Deist

  • 9

Na ’n paar maande in die pos waarin hy my aangestel het, vra my baas, Helgaard Raubenheimer, my eendag hoe dit nou vir my voel in dié werk. Die werk was dié van assistentuitgewer van akademiese boeke by JL van Schaik Uitgewers in Pretoria.

Voor dit was ek onderwyser, maar ek was ’n knaap met akademiese ambisies, ingeskryf vir ’n magistergraad in die filosofie. ’n Slimmer mens sou jy ver moes gaan soek.

Om die een of ander rede onthou ek my presiese woorde: “Ek sit daar lekker in.” Ek het geantwoord sonder om te dink, en die spontaneïteit van my antwoord het voorspel wat vorentoe natuurlikerwys my loopbaankeuse sou word: uitgewer. Ek het soos ’n vis in die water gevoel.

Dit het my nie minder volleerd gemaak nie. Tot slim eendag sy baas vang.

Iewers in 1987, dink ek, gee Helgaard my ’n anonieme manuskrip om by die huis te gaan lees en vir hom my mening te gee. Die titel daarvan was Skep moed en leef. Ag nee wat, was die strekking van my geskrewe verslag, dié soort piëtistiese godsdiensvertroosting hoort nie by Van Schaik nie. Daar is Christelike uitgewers daarvoor. Dit is buitendien agterhaald, ons leef in ’n tyd wat nugterder antwoorde vra.

En buitendien, wie is hierdie sukkelaars wat so moed ingepraat moet word? Dié laaste sin het ek nie geskryf nie, maar ek vermoed ek het dit gedink. So, altans, dink ’n jongeling wat hoë hoogtes voor hom sien, en ’n roete tot bo, en wat die energie en drif voel om die pad te vat.

Miskien ’n week later nooi die baas my na sy kantoor toe. Daar sit Ferdinand Deist, hoogleraar in die Ou Testament aan Unisa, skrywer van ’n string boeke en ’n gereelde gas op radio. ’n Openbare persoonlikheid, dus, wat ek dadelik herken het. Nie ’n lang man nie, en was dit nie vir die manier hoe sy hare onder om sy ore gekrul het nie, sou jy hom vir ’n boer uit die Sandveld kon aansien. Sy vriendelike gesig, nie fynbesnede nie, het meer aan die veld herinner as aan die lesingsaal.

Sit, sê die baas, en hy gaan voort deur te sê die manuskrip waaroor ek verslag gedoen het, was van professor Deist, en hy het my die verslag laat skryf sodat ek bietjie kon leer uit die reaksie wat ’n mens van ’n skrywer kan kry. En op dié punt lig hy sy wenkbrou in die rigting van die professor. Over to you.

Ek sit daar met rooi ore, en nie net van verleentheid nie. Wat ’n lae hou, dag ek by myself. Maar Ferdinand – so het hy vanuit die staanspoor aangedring hy genoem wil wees – begin met ’n waardering vir my harde werk en ’n verklaring van hoeveel hy daaruit geleer het. Die felste kritiek sou hom help om ’n beter skrywer te wees. Ek het besef hy praat nie ironies nie. Soos almal wat hom geleer ken het, sou ek mettertyd sien hier is ’n mens vir wie dit onmoontlik is om vals te wees.

Ek het al minder ongemaklik gevoel. Toe wil Ferdinand meer weet hoe verstaan ek die begrip piëtisme. Ek het die algemeen gangbare begrip weergegee van oor-sentimentele godsdienstige uitdrukking. Ferdinand het verduidelik watter ryk tradisie die piëtisme eintlik is, hoe dit ontstaan het as ’n beweging binne die Lutherse kerk van die sewentiende eeu wat die persoonlike belewenis weer wou uitsuiwer uit die doktrinale ortodoksie wat die kerk oorheers het. Die sentimentaliteit wat daaraan toegedig word, was in werklikheid ’n perversie van die egte oorsprong.

Een van die uitdrukkingswyses van die piëtisme was ’n diep bewoënheid vir ander mense. Dit het my ’n herlees van die manuskrip gekos om deur my eie vooroordeel te sien. Die boekie was ’n geïnspireerde poging om mense wat nie meer moed gehad het nie, op te help. En dit was nie in hogere teologiese taal gemonster nie, maar in gewone, innige spreektaal wat ek vir eenvoudigheid van gees aangesien het.

Ek gee teenoor myself toe dat ek onervare was, maar dit was vir my ’n belangrike les in die lees van manuskripte vir publikasie. Die raad wat ons van Marthinus Nijhoff het vir die lees van literêre werk, kan ook niefiksie geld, selfs van die oënskynlik eenvoudigste: Lees maar, er staat niet wat er staat.

Die boekie het vir jare in druk gebly en minstens vier uitgawes beleef en ek weet nie hoeveel herdrukke nie.

Ek het veel by skrywers geleer, en in hierdie rubriek het ek al daaroor geskryf. Met Ferdinand was dit ook so. Hy het sy deure wyd oopgegooi in vriendskap. Dit was my werk om die eindelose gange van Unisa te werk, om manuskripte te werf wat voorgeskryf kon word vir die allemintige studentegetalle van dié universiteit. Maar ek was allermins uitgeknip vir dié taak. By Ferdinand was daar egter altyd ’n toevlug. Ek kon enige tyd by hom in sy kantoor gaan sit en praat.

Hy was ’n man van verstommende intellek en produktiwiteit. Hy het parallel met sy vierjarige teologiese studie aan die Stellenbosse Kweekskool ’n honneurs- en magistergraad in Semitiese tale afgehandel – alles met lof. Sy doktorsgraad het hy onder die vermaarde professor Charles Fensham behaal. Hy was uit die staanspoor dosent in Semitiese tale en later Ou Testament en uiteindelik Antieke Nabye Oosterse studies. Op die wêreldtoneel was hy ’n Van Humboldt-beurshouer vir studie in Duitsland, gereeld ’n spreker by konferensies in die vakgebied, redakteur van ’n vaktydskrif, en is hy opgeneem in Cambridge se International Authors Who’s Who en hul International Who’s Who of Intellectuals.

Benewens die talle akademiese artikels het hy in lewe kort duskant sestig boeke gepubliseer, soms twee of selfs drie in een jaar.  Verskeie hiervan was van ’n nie-akademiese aard, maar – soos ek moes leer – grondig onderlê in vakkennis van teologie, die Bybeltale en veral die historiese konteks van wat die Bybel vertel. Nog belangriker: sy boeke was altyd gedrewe deur ’n onsentimentele deernis met mense in hul verslaentheid en hul twyfel.

Oor die twyfel het ons baie gesprekke gehad. My eie twyfel, wat my weggedryf het van my aanvangstudie vir die bediening, het hy geredelik gehelp spieël in sy eie twyfel en in die teologiese konteks van die fundamentele twyfel wat aan die wortel van ons mensheid sit. Hy het my vertel van strominge in die Joodse teologie waarvolgens dit ná die Tweedewêreldoorlogse volksmoord onmoontlik geword het om in ’n almagtige godheid te glo. Hy het voorspel dat die NG Kerk na die val van apartheid tot ’n skadu van sy magtige gestalte sou verval.

Dit is opmerklik hoedat hierdie mens wat in vergelyking met die gemiddelde man haas onbeperk was, hom so bemoei het met menslike beperkings, en dit so ernstig opgeneem het. Ek skryf dit onder meer toe aan die skaal waarmee hy danksy sy vakgebied gemeet het: dié van duisende jare van mensegeskiedenis. Op so ’n skaal is die relatiwiteit van die mens onmoontlik om mis te kyk.

So moet dit nie verbaas dat Ferdinand ook graag die opgeblasenheid van mense met relativerende humor geprik het nie. Hy was ’n storieverteller van die eerste water en as humoris sou hy gemaklik sy plek kon inneem in die geselskap van aartsvertellers en grapjaste soos PG du Plessis en Jan Spies.

In my tyd by JL van Schaik het ons drie bundels Sandveldstories van hom gepubliseer: Pofadder en Peddelford (1987), Die pomporrel-kônsert (1988) en Bom appeltiet op Eselspoort (1989). Ek is by Van Schaik weg na Tafelberg toe, en daar het ons in 1993 ook nog Tweebeendiere en ander verskynsels gepubliseer.

Dit was nooit moeilik om ’n boek deur Ferdinand Deist te verkoop nie. Hierdie bundels het verdere drukoplae en uitgawes beleef, en in 2019 het Tafelberg ook ’n keur daaruit onder die titel Sandveldstories gepubliseer. Tien van hierdie stories is deur RSG uitgesaai met Johnny Klein wat dit in sy klankryke Afrikaans voorlees. Jy kan hier daarna luister.

Ek glo ’n oeuvre soos dié van Ferdinand is getuie daarvan dat hy geen waardeonderskeid getref het tussen hoëre en laere maniere van kyk na die bestaan nie. Hy het al sy boeke, van die akademiese tot die humoristiese, met dieselfde drif aangepak. Hy was iemand wat die lewe met mening binnegevaar het soos ’n swemmer wat die water oopsny, maak nie saak met watter swemslag nie – of dit nou die saaklike borsslag is, of die aanskoulike vlinderslag, of die verspotte hondjiestyl.

Op 12 Julie 1997 kom die nuus uit Heidelberg in Duitsland waar hy navorsing gedoen het: Ferdinand Deist het aan sy hart beswyk. Daardie groot hart van hom. Op sy begrafnisbrief skryf professor Bernard Lategan: “Die respek wat Ferdinand by almal afgedwing het, het ten diepste voortgevloei uit die inherente respek wat hy vir elke mens gehad het en sy vermoë om ander in hulself te laat glo.”

Die lewe voel dikwels soos ’n manuskrip wat in jou skoot gegooi word met die opdrag: lees en maak sin. Maar mens kan g’n kop of stert daarvan uitmaak nie. Ons beleef op die oomblik globaal so ’n tyd. Dit is dan wanneer ek wens daar is ’n Ferdinand in wie se kantoor ek kan gaan sit terwyl ek behoort te werk. Net sodat hy iets van die troebelheid kan help opklaar. Met ’n grappie op die koop toe.

  • 9

Kommentaar

  • Beste Frederik De Jager
    Trane rol nou vrylik oor my wange. Ek was in my finale jaar op universiteit toe ek saam met my ma my pa in Heidelberg gegroet het. Ek het toe nog nie die tyd opsygesit om hom só te leer ken nie. As jong volwassene is jou ouers nie juis prioritiet nie. Dis was eers as vrou en ma wat ek hom al hoe meer begin mis het, wat ek ook wens ek kan soos jy en ander die voorreg hê om in sy kantoor te sit en oor my moedeloosheid en twyfels te gesels, en hy sy insig, kennis, wyshede, troos en hoop - sonder oordeel - met my kan deel. Baie dankie vir die besonderse rubriek waarin ek hom beter kon leer ken en leer van die besonderse mens wie hy was, geliefd en gerespekteer deur almal. My pa het vir ons van kleins af geleer "almal is gelyk", om "considerate" te wees en "to do unto others as you want them to do unto you". Dit is duidelik uit jou rubriek dat hy dit nie net gepreek het nie, maar geleef het. Hierdie rubriek is vir my van onskatbare waarde - baie baie dankie!

  • Frederik de Jager

    Beste Karen, baie dankie vir jou kommentaar. Dit stem my nederig maar ook bly dat dit iets vir jou kon beteken. Ferdinand was eenmalig. So iemand kom mens nooit twee keer teë nie. Dit was my uitsonderlike voorreg om hom vroeg in my volwasse lewe te ken. Hoeveel goed het jy nie ook ongetwyfeld van hom geërf nie. Mooi bly en beste wense, Frederik.

  • Sandra Pretorius

    Ek vind u rubrieke altyd geweldig interessant. As ek dit nie mis het nie, was u ook betrokke by die uitgee van Antjie Krog se wonderbaarlike bundel Verweerskrif? En as ek dit nie mis het nie ook daardie kontroversiële boek oor die lang man of die lang generaal of so-iets. Ek sal graag meer oor die stories agter die storie van hierdie boeke uit u pen wil verneem, dit sal hoogs boeiend wees, weet ek sommer.

  • Sakkie Spangenberg

    Ek het Ferdinand in 1978 deur middel van sy boekie "Tussen Angs en Sekerheid" (Tafelberg, 1978) ontmoet en daarna byna elke boek wat hy gepubliseer het, gelees. Hy het ons jonger geslag Bybelwetenskaplikes geleer wat kritiese denke behels. Ek wou onder hom my tesis in Ou Testament skryf, maar hy het my (vanweë my belangstelling in die wysheidsliteratuur) na Jimmie Loader gerangeer. Hieroor was ek nooit spyt nie. Deist en Loader het uiteindelik my groot leermeesters geword.

  • Philippus P Janse van Rensburg

    Frederik, dankie vir wat jy geskryf het. Op my geestelike horison was hy altyd dáár, al het ek hom nie bewustelik geken nie. Laat my dink aan die storie van die sendeling wat "in die heidenland" Jesus wou gaan bekendstel en nadat sy werk al goed voorgestel is, die reaksie van die inwoners was: Ons ken hom, hy het hier gewoon! Ai, die hartswroegende gebed van broer Paulus dat Christus tog "gestalte" moet kry onder ons!

  • Frederik de Jager

    @Sandra Pretorius: Baie dankie. Verweerskrif het by Umuzi verskyn voor ek daar gewerk het. Oor Die Lang Generaal deur Allan Elsdon is daar nie veel agter die boek te vertel nie.

  • Rolene Oosthuizen

    Ferdinand Deist se teenwoordigheid in ons huis, of ons hom via radio, tv of 'n boek wat ons aan't lese was, gehoor praat het, is altyd met respek bejeën. Ons, gewone mense, het sy vereenselwigheid met ons nog net altyd waardeer. Sy dood was vir ons ook 'n skok. Dankie vir 'n skrywe wat net weereens beaam, hy was besonders begaafd.

  • Corlietha Swart

    Stem saam, Johan Jack Smith. Twee van Afrikaans se groot harte klop weer besielend sáám in hierdie artikel ‒ al het die een reeds stil geword ...

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top