
Byleveld: Dossier van ’n baasspeurder
Hanlie Retief
Uitgewer: Umuzi
ISBN: 9781415201428
Dit gebeur soms dat die tyd vir ’n boek nét mooi reg is, en dan hardloop hy op sy eie voete. Dit moet gedeeltelik die antwoord wees vir die mislukking van soveel ander, hoogs verdienstelike boeke. Die tyd was vir hulle nie reg nie. Ongelukkig is daar meer van laasgenoemde as van eersgenoemde.
Soms, egter, tref dit, en dan skep skrywers en uitgewers asem, want daar is ’n paar ekstra daalders te skep. Van die suksesfenomene hier te lande en binne bereik van menseheugenis tel uitskieters soos Dalene Matthee se Kringe in ’n bos, Marita van der Vyver se Griet skryf ’n sprokie en John van de Ruit se Spud-boeke. Om nie te praat van Deon Meyer en Karin Brynard nie.

Nie dat mens hulle ganse sukses aan die tydsgees kan toeskryf nie. Gehalte van skryfwerk gee nog altyd die deurslag.
Met nie-fiksie werk dit ook so, en hoewel ek nie meer toegang het tot die Nielsen-verkoopsyfers nie, verstout ek my om te sê nie-fiksie lewer meer gereeld superverkopers op as fiksie. Ek dink plaaslik aan Tim Noakes, Dana Snyman, Jacques Pauw en nog ander.

In die geval van nie-fiksie is die tydsgees miskien duideliker definieerbaar deurdat die boeke meesal regstreeks volg uit wat in die land of die wêreld aan die gebeur is. So is een van die vrugbaarste bronne van boeke wat buitengewoon goed verkoop, die grootskeepse bestelery van die land deur politici en almal wat soos bosluise op die bees sit. Jy kan sê die reklame is by voorbaat vir die uitgewers gedoen op die voorblaaie van die nuusmedia.
Een boek waarvoor die tyd so ryp soos ’n appel aan ’n boom was, is Piet Byleveld: dossier van ’n baasspeuder en sy Engelse maat wat ons in 2011 by Umuzi uitgegee het. Dit was asof die grond daarvoor voorberei is lank voordat iemand stappe in daardie rigting begin neem het. Ons handelsverteenwoordigers (of soos hulle algemeen genoem word, ons reps) het begin rapporteer die boekhandelaars vra of ons nie ’n boek oor Piet Byleveld het nie. Hulle, die boekhandelaars, kry gereeld navrae daaroor van klante.
As jy ’n suksesvolle boekuitgewer wil wees, moet jy met mense praat. Bemarkers, lesers, reps en boekhandelaars, van dié wie se werk dit is om rakke te pak, tot die winkelassistente, tot die bestuurders. Daar was boekwinkelbestuurders by wie dit roetine was dat ons hulle sou raadpleeg oor die moontlike sukses van nuwe boekidees. Een of twee van hulle se oordeel was onbesproke.
Oor Byleveld was dit asof daar stoom opgebou het. Hy was aan die einde van sy loopbaan, maar steeds gereeld in die nuus met sake wat sy reputasie as die suksesvolste speurder in die Suid-Afrikaanse geskiedenis bly voed het. Suksesvol was hy veral met reeksmoordenaars, in welke sake hy honderd persent sukses behaal het. Hy was op die kruin van sy loopbaan. Sy naam was huishoudelik. Hy was gewild onder sowel swart as wit landsburgers, omdat soveel van die slagoffers wie se moordenaars hy uitgesnuffel het swart was. Hy was internasionaal bekend, was konsultant vir Scotland Yard.
Die land het bemes en geploeg gelê vir die saai. En toe bel Hanlie Retief. Of ons sou belangstel in ’n boek oor Piet Byleveld. Wel.
Hanlie was toe reeds bekend as een van die beste profielonderhoudskrywers, en bekroon vir haar werk. Sy kon met skerp waarneming en deur nog skerper formulering deur die dikste lae van middelmatigheid dring en die unieke, en daarom interessante, in ’n persoon na vore haal. Dikwels deur die geringste nuanse in frasering – die letterkundige ekwivalent van die veelseggende draai van ’n oog of die lig van ’n skouer. Sy was, kortom, briljant. Is dit nog steeds. Wat sy met ’n karakter soos Byleveld sou kon vermag, het ons opgewonde gemaak.
En hy wás ’n karakter. ’n Karakter en ’n kalant. Dit was moeilik om enigiets met hom af te spreek. Toe die venster op ’n kiertjie oopmaak, het ek op ’n vliegtuig Johannesburg toe gespring met ’n kontrak in my tas. Hy het gevra dat ons by die Schwabinger Stube in Ferndale ontmoet. Dit is ’n plek waar daar om elf in die oggend onder die harde Hoëveldse son net trieste eggo’s van Duitse gemütlichkeit is.
Ek moes wag. Dinge het hom voorgespring, hy sal nou daar wees. En dan nog ’n bietjie wag, hy kom. Toe hy uiteindelik opdaag, staan daar voor my die skraal polisiebrigadier met die donker, geplooide gesig, onberispelik geklee in das en baadjie. En soos altyd wanneer ek hom in die daaropvolgende maande ontmoet, met die sigaretrook wat soos gedagtes om sy kop dwarrel.
Hy was bedees en byna eerbiedig. Hy het my, tien jaar sy junior, ge-u. Die foon het ’n paar keer gelui, dan praat hy met ’n "meneer" in die derde persoon, soos ons geleer het om met grootmense te praat. "Ek maak so, Meneer, net soos Meneer sê."
Ek het hom deur die bepalings van die kontrak gepraat, maar hy was skaars geïnteresseerd. Verder onthou ek nie veel van die gesprek nie, behalwe dat daar weinig gemeen was om oor op te warm. Ten spyte van die feit dat ons nie land en sand gesels het nie, het ek my terugvlug verpas.
Die primêre outeurskontrak was met Byleveld, maar daar was ’n aparte kontrak met Hanlie Retief as skrywer. So ver, so goed. Maar toe kom daar ’n ander oproep. Dit was van Theresa Papenfus in Pretoria. Sy was die eienaar-uitgewer van ’n klein uitgewery, Litera. Gemeet aan die kaliber van die boeke op haar fondslys het sy bo haar gewig geboks. In die onlangse jare, byvoorbeeld, het sy ’n tamaai biografie oor Pik Botha – wat sy ook self geskryf het – in twee tale uitgegee.
Jare tevore was Theresa een van ’n handjievol redaksionele medewerkers by JL van Schaik toe ek daar assistent-uitgewer was. Ek het hoë agting vir haar gehad en ek verstout my om te sê die omgekeerde was ook waar. Maar nou was daar ’n probleem. Theresa het ’n kontrak met Piet om sy boek uit te gee.
Hoe gemaak? Praat met Hanlie. Sy weet van niks. Praat met Piet. Ja, dit is so, maar hy wil nie meer by Theresa uitgee nie. Ek sê maar hy moet, hy het ’n kontrak. Hy sê maar hy gaan nie.
Weer op die vliegtuig, ek gaan nou vir Theresa spreek. In haar kantoor sit ek en wriemel. Kyk, sê ek vir haar, ek het hom probeer oorreed om die boek te neem na die plek waar hy gekontrakteer is, maar om redes van sy eie wil hy nie. Ek vermoed dat hy van plan verander het toe Hanlie na hom kom met die moontlikheid van ’n groot uitgewery (Umuzi was deel van Random House Struik). Ek kan weier om die boek uit te gee, maar dan is daar geen boek nie. Jy kan hom vervolg, maar dit gaan jou net geld kos. Kom ons werk liewer saam.
Theresa het my voorstel aanvaar. Umuzi sou die boek uitgee en aan Litera ’n tantiéme op ons verkope betaal. Sodoende kry sy ’n meevaller sonder enige moeite aan haar kant, terwyl ons die risiko en die finansiële uitleg aangaan. Nie ideaal nie, maar so lyk kompromie. Die opgestapelde royalties, aan ons kant, het uiteindelik beteken dat ons nie soveel uit die boek gemaak het nie, ten spyte van sy aansienlike sukses in twee tale. Die eerste prys, egter, was dat ek en Theresa vriende gebly het, wat veel sê van haar ruimheid van gees.
Maar dit daargelaat. Ek sou weer dieselfde pad volg, want die uitgee van hierdie boek was ’n uitsonderlike ervaring. Die samewerking met Hanlie was ’n onverdunde vreugde – slim, helder, vasberade en iemand met ’n groot humorsin. Toe ons ’n ete in die Mount Nelson aanbied om die verskyning van die boek te vier, kom daar in die geselskap een van daardie oomblikke dat die hele geselskap stil is. Nét toe raak ek die skandaligste ding kwyt, ’n Freudiaanse glips wat ek nie weet wáár dit vandaan kom nie. Maar ek dag Hanlie val van haar stoel af soos sy lag. Wat die situasie gered het en haar vir ewig boaan my estimasie gevestig het.
Piet Byl was ’n onvergeetlike mens. Hy was altyd so onberispelik hoflik as wat hy geklee was. Sag van stem en bedaard. Nooit veel gesê nie. ’n Bietjie geheimsinnig. Hoe anders sou ’n mens ook wees as jy alles moes sien wat hy in sy loopbaan meegemaak het? In jou interieur die gemaal van moordenaars en lyke en geweld, dinge wat jy agter ’n masker moet hou, so nie loop jou gesig daarvan oor. Hy het nie veel gepraat nie maar mens het altyd die gevoel gehad nie die geringste detail ontlip sy aandag nie.
As speurder was hy gewoon briljant. Hy het sake opgelos wat verlore gelyk het. Hy het op sy eie gewerk, en ou-skool die voetwerk gaan doen. Hy het ’n moordtoneel nie net fisiek gefynkam nie maar ook in sy gedagtes deurskou, byna in ’n geestelike eenheid daarmee gegaan. Geen wonder hy het die kalmte van ’n Zen-meester uitgestraal nie.
In een saak het hy vir langer as ’n dag gaan sit op die mynhoop waar ’n moord plaasgevind het. Dit was pure Zen, hoe hy hom een gemaak het met die landskap. Hy het alles ingeneem, die kleinste detail van ligging en lig, hom ingedink in die skoene van beide slagoffer en moordenaar, die hoe en die waar en die wanneer. En so het hy die saak in sy kop opgelos.
Sy benadering kan niks anders as simpatiek genoem word nie, met slagoffer en moordenaar eweneens. Ek vra hom hoe hy dit regkry dat die verdagtes hom so, soos dit my voorgekom het, mettertyd alles vertel. Hy huiwer nie in sy antwoord nie: respek. Hy het sagkens met die verdagte omgegaan, vol begrip en met respek vir hom as ’n mens. Eenkeer het hy uit sy eie sak vir ’n beskuldigde ’n pak klere gaan koop sodat hy ordentlik in die hof sal lyk.
Uit films leer ons die beskuldigde trek hom of haar mooi en konserwatief aan om ’n goeie indruk in die hof te maak. Dat Byleveld ’n aangeklaagde in hierdie opsig sou help, spreek van sy vertroue in sy saak. Hy was bekend vir die deeglikheid waarmee hy sy hofsake waterdig gemaak het. Hy het my ’n foto gewys van ’n hele rak vol ringleggers stampvol papierwerk, seker vyftien of twintig daarvan, wat hy vir een saak ingedien het.
Van daardie materiaal moes ons vir die boek deurwerk: ’n boks vol foto’s wat hy ons gegee het om vir die boek te gebruik. Dit was loshande die grusaamste taak wat ek ooit as boekuitgewer moes doen. Die beeld van Lee Matthews, die volmaak geskape blonde meisie naak en geskend in die lang gras digby Grassmere, sal ek nooit kan uitwis nie. Haar hand met die gebreekte naels.
Maar hoe gemaak met die foto’s? Ons het geweet daar moet foto’s in die boek wees. Dis wat die meeste lesers sou verwag. Maar hulle was grusaam. Wat van die familie van die slagoffers? Ons het op ’n middeweg besluit: ons sou die vermoorde figuur uitknip en met wit vervang om ’n idee van die moordtoneel te gee sonder om te skok of privaatheid te skend. Nie dat enigiets dit ooit vir die agtergeblewenes sou versag nie.
Een gevolg van daardie boks foto’s is wat die natuur vir my aan onskuld ingeboet het. Sien ek ’n verdigting van bosse en struike – daar kan ’n lyk onder lê. ’n Sloot met bloekombome begroei? Iemand kon daar hul lewe gewelddadig verloor het. Die pragtige wuiwende gras van die Hoëveld waarvoor ek so lief is? Daar lê Lee.
Piet Byleveld het hom ná sy aftrede beskikbaar gestel as private ondersoeker in moordsake. Hy het onder meer vir die slagoffer se familie betrokke geraak by die Inge Lotz-saak. Ek het nie die indruk daar was verdere deurbrake nie – in ieder geval nie meer as die deurtastende forensiese ondersoek deur die Mollet-broers nie. Van laasgenoemde het ek trouens later ’n boek deur Thomas Mollett uitgegee met die titel Bloody Lies.
Later was daar ongunstige nuusberigte. Mense het blykbaar betaal vir ondersoeke wat nie gebeur het nie. Hy het nie hulle oproepe geantwoord nie. Ek ken nie die omstandighede nie. Ons weet hy was siek. Op 24 Mei 2017 sterf hy aan longkanker, daardie onkeerbare reeksmoordenaar.

