Skoen

  • 0

“Skoen” is voorgelê om Afrikaans te vier onder die tema “Kyk hoe ver het ons gekom”. Dié inisiatief van PEN Afrikaans word ondersteun deur LitNet en moontlik gemaak deur Kruger Internasionaal Bate- & Welvaartbestuur. Hierdie fiksiekompetisie se tema sluit aan by een van die motiverings vir die Afrikaans Amptelik 100-veldtog.

Die prysgeld beloop R10 000 vir die eerste-, R5 000 vir die tweede- en R2 500 vir die derdeplekwenner.

*

Skoen 

Een stukkende stowwerige skoen en ’n toga.

Dis al wat hy dra. Tipies van Doors om sulke grappies te maak in hierdie somerhitte, maar dis nie vandag snaaks nie – ook nie vir hom nie.

Hy staan doodstil aan die bopunt van die houttrappe, reg voor Pa se kantoor wat oor die droë plaas uitkyk. Links van hom is sy kindertydslaapkamer; die deur nou toe.

Daar’s ’n somberheid in sy jong gesig. Ek het hom nie so geken nie. Hy was die grapkasbroer, oë altyd vonkelend.

Hy pen my vas met sy blik, sê niks. Asof ek moet weet wat hy dink.

Hoendervleis rol van die agterkant van my nek af tot by my enkels. Ek ril.

Buite bewe die hitte op die horison. Van hier af is die Karoobossies uit fokus. Die sweet dam op onder my ooglede, ’n straaltjie loop tussen my blaaie af. Selfs die dun, bruin mat is louwarm onder my kaalvoete.

Wat máák Doors hier?

Pa en Ma skree op mekaar in die kombuis. Hulle trap gedurig op mekaar se tone, vryf mekaar heeltyd verkeerd op. Stry omdat stry stry is. Dis sielepyn wat so maak: Die verlies aan ’n seun wat hulle oor en oor in mekaar raaksien, wil vashou, dan teleurgesteld-kwaad word oor die wete dat hy weg-weg is.

Dis al amper roetine: Pa lig sy stem, Ma begin huil, Pa word al kwater, Ma begin ook skree en dan stap hulle skel-skel weg van mekaar. Vanaand hou hulle hande vas voor die TV, vannag slaap hulle in mekaar se arms, die pyn ’n bietjie dowwer – tot môre.

Dis hierdie geskree wat Doors so ontstel. Hy wil hê hulle moet ophou, ophou om mekaar so seer te maak. Hy voel aandadig.

En hy is.

Dis tien jaar sedert dáárdie Moedersdagnag. Doors agter die stuur van die donkergroen, tweedehandse Golf GTi. Nelius, sy woonstelmaat, wat langs hom aan die passasierskant slaap. Die maat ruk wakker, skiet verward regop, gryp die dashboard vas, sien die hooflig aan sy kant in kolkende stof brand.

In die oorverdowende stilte ná die geweld van spoed en bloed, hoor hy Doors diep sug. Sy oopgebarste borskas om die stuurwiel gevou, die airbag wapperend in sy geskende gesig, voorruitglas glinster in sy donker hare. Die res van hom ingefrommel tussen die verwronge metaal van twee voertuie wat mekaar kort ná middernag oopgeskeur het.

Nelius sukkel om die sitplekgordel los te knip, voel iets nat en taai aan sy bewende vingers. Sonder ’n skrapie klim hy uit die onbeskadigde passasierskant, stom geskrik en verbysterd, die adrenalien wat soos branders in sy ore breek. Aan die ander kant van die kar sien hy ’n kakiehemp aan ’n stukkende slap lyf by die oopgebreekte voorruit van ’n rooi Hilux uithang, bloed wat blinkdonker uit die gespierde blonde man drup, stol op die lanferswart teerpad.

Hy kyk na die bebloede wrakstukke om hom. ’n Skerp petrolreuk hang in die lug. Hy kug van die stof. Die besef dat hy slegs met hewige hamerslae van sy eie hart en sonder ’n skrapie van hierdie hopelose toneel gaan wegstap, beur stadig deur die dik dofheid van ’n folterende hoofpyn. Taamlik verskillend van die babelaas wat hy ’n paar uur later ná sy suster se troudagopskop verwag het.

Hy buk af en maak die veter van sy een nuwe wit Nike vas. Hy het só lank vir hulle gespaar. Hy klik sy tong vir die swart merk waar die fyn meisietjie vroeër die aand met haar goue sandaaltjies op sy tone getrap het.

Terwyl hy loop om te gaan hulp soek, die volmaan wat die pad na Prins Albert verlig, sy tekkiesole wat weergalm in die nagstilte, wonder hy skielik hoekom dit altyd die mooi meisies is wat nie kan dans nie.

Doors se een skoen is later uit die oorblyfsels van die enjinwrak gesny. Die ander lê saam met hom in die harde kalkgrond van die familiebegraafplaas hier buite – stukkend en stowwerig.

Ek wonder hoekom mense altyd hulle skoene verloor wanneer trauma en geweld toeslaan, die oerbrein oorvat en hulle op die vlug laat slaan. Aardbewings, vertrappings, ongelukke, brande – dis altyd die skoene wat op die ramptoneel agterbly. Wanneer ’n mens net aan oorleef dink, raak jou lyf klaarblyklik van skoene ontslae.

Maar Doors wou nie sy skoene laat gaan nie. Hy het aan een tot in die dood vasgeklou. Het hy nou sy ánder skoen kom soek?

Hy pen my vas met sy oë, steeds eendimensioneel aan die bopunt van die trappe, vraagtekens in sy gesig. Ek bewe en sweet, my voete is ysterklippe.

Ek het geen idee hoe ’n mens met die anderkant kommunikeer nie. Ek kies stilbly.

Hy kom stadig af met die trappe. Sokkievoet, skoenvoet, sokkievoet, skoenvoet.

Dit voel of ek graniet word – loodswaar, stom en yskoud.

Hy beweeg verby my, draai effe om, gluur my aan: Ek moet saamloop.

Die trane stroom geluidloos oor my wange, vermeng met snot en sweet, loop in ’n stroompie tussen my borste af tot teen die onderkant van my swart bra. Ek het nie besef ek huil nie.

Ek sleep my klipvoete saam tot by die instapkas onder die houttrappe. Hy staan opsy. Ek maak die krakende knotty pine-deur oop, loop gebukkend in, knip my oë in die skemerte – die bulb is lankal geblaas. Niemand kom ooit meer hier nie, nie ná daardie laaste Desembervakansie toe ons gesin nog voltallig was nie.

Oral staan leë 5 liter bottels waarin ons gemmerbier gemaak het, ’n verweerde opslaan-Krismisboom, bokse vol dofblink rooi, silwer en goue sierballe, handevol saamgekoekte streamers, stringe gekleurde liggies. Ou koekblikke wat altyd vol vlakoekies, skurwejantjies en gemmerkoekies was. ’n Graftombe van ons jaarlikse feesvieringe voor Doors weggeruk is.

Daar was nooit weer sulke uitbundige Kersfeeste nie, nooit weer het ons gesin volledig gevoel nie. En dis nie ons skuld nie, maar óns ly darem daaronder.

Almal praat draaie om die seer verlange na ’n broer, ’n seun, ’n neef as ons elke jaar rondom die stiller Kerstafel aansit. Al die lekker-lag het saam met hom verongeluk; ons voel skuldig as ons sonder hom grappe maak.

Doors kyk vraend na my. Ek dink hy wil hê ek moet iets opspoor. Al die Krismisartefakte in die kas skeur die pyngordyn van ’n dekade oop, te veel herinnerings beur buitentoe. Die lug is dik en dood. Ek kook, ek kry koud. Ek weet nie waarna ek moet soek nie.

Diep agter in die stofdonker sien ek dit lê agter ’n koekblik met twee dogtertjies in valletjiesrokkies op die deksel: ’n blinkswart, amper vierkantige skoenboks. UK 10. Dit lyk nog nuut. Ek gril vir die gommerigheid van die spinnerakke toe ek dit optel. Die deksel skuif af – net een manskoen, ’n olieblerts oor die voorkant, dit ruik ’n bietjie na brandstof.

Dit voel of iemand my van die binnekant af in my maag skop. Dis te werklik. Dis te veel. Hiér is die skoen waarin Doors sy laaste treë gegee het, waarmee hy daardie verskriklike nag die rem tevergeefs getrap het. Ek begin weer snik, my keel brand.

Moeg gehuil gee ek ’n diep sug en draai stadig met die oop boks na waar Doors by die kasdeur staan. Sy blik versag, ’n vredige glimlag sprei oor sy jong gesig. Hy kyk erg ingenome na die enkele skoen in die blink boks. ’n Mens sou sweer dis ’n trofee. Dis nie heeltemal die reaksie wat ek verwag het nie.

’n Ander soort hitte stoot in my op. Dis hoe dit moet voel as bloed begin kook. Doors het altyd die gawe gehad om my goed die bliksem in te maak; vandag is geen uitsondering nie. Ek’s woedend oor die pyn waardeur hy my pas gesit het, pyn oor hóm, en dit vir ’n verdomde, maatlose skoen!

Ek wonder nie meer oor kommunikasieprotokol met die anderkant nie.

“Watdehel, Doors!”

Ek skrik vir my skor gilstem wat in die groot vertrek weergalm; dit eggo terug na my toe. Ek sis met een asem voort. “Wat het jou besiel hoekom los jy ons net so niks is meer heel nie almal pyn en niemand praat nie en watdefok moet ek nou met jou skoen maak?”

“My kind…?”

Hulle staan albei daar, verwese geskrik, besorgd.

“Met wie práát jy?” Ek struikel-val vorentoe, die boks plof op die vloer neer, Doors se skoen val uit. Ons gryp mekaar vas; my voorkop teen my pa se bors. Ek sien my trane op sy veldskoene drup-drup, my ma se plat, bruin leersandale langs my granaatrooi toonnaels. Ek voel my pa se ken teen my kroontjie bewe, hoor my ma snuif. Sy praat eerste.

“So ja, wat.” Ons staan effens weg van mekaar, nog half ingehaak. Sy maak of sy nie die skoen sien nie. My pa kyk stip na waar dit op die bruin mat lê, sê niks.

“Ek dink dis hoog tyd dat ons ’n slag weer ’n boom opslaan en mooi maak.” Sy lig haar ken op, stryk haar blommetjies-voorskoot plat, sit haar hande op die heupe. “Pa, kry jy vir ons die lead vir die liggies en kyk sommer of hulle almal werk. Ek dink daar’s nog nuwe bulbpies. As daai boom te op is, koop ons môre ’n nuwe ene. Dieselfde geld die balle en streamers. Haal ook vir ons daai bottels en koekblikke uit. Hierdie jaar bak ons ’n slag iets anders en dalk moet ons eerder limonade of ’n pons of ’n ding maak. Ek sien nie weer kans vir ’n taaisel as die gemmerbier ontplof nie. Toe, toe, toe.” Sy stap vasberade in die kas in, begin rondkrap.

Pa tel Doors se skoen op in sy bruingebrande boerehande. Hy plaas dit liefderyk terug in die blink boks, vou dit in die swart sneespapier toe, kyk lank daarna. Hy sit die deksel stadig op en loop met krom skouers kas toe, maak keel skoon, druk verby my ma en bêre dit diep, diep agterin. Vir ’n oomblik is dit stil. Dan begin hy die bokse vol Kersfeesgoeters by die kas se deur uitstoot. Ek snuif, vee my oë met my oop handpalms af. Kyk rond.

Ek skrik toe ek vir Doors op dieselfde plek buite die kas sien staan. Hy glimlag, knipoog vir my, draai om en stap stadig in die rigting van die stoepdeur.

Skoenvoet, skoenvoet, skoenvoet, skoenvoet.

Lees die ander verhale hier:

Kyk hoe ver het ons gekom: PEN Afrikaans en LitNet se kortverhaalkompetisie

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top