Titel: Skeur
Outeur: Carel van Rooyen
Uitgewer: Human & Rousseau
ISBN: 9780798182126
Children will not just inherit the future, but need to participate in shaping it. (Reynolds 2007:14) [i]
Distopiese fiksie bied ’n ideale ruimte van waar kulturele vrese en dreigende gevare aangespreek kan word. Dit bied ook die geleentheid om te besin oor die ideale toestand, of dan utopie (Dror 2010:14)[ii]. Hierdie spannende debuut bied juis ’n ideale leesgeleentheid waartydens jongmense se dilemmas voorgestel en getoets kan word. Terselfdertyd bied dit die kans vir jongmense om deel van moontlike oplossings vir die toekoms te wees.
.......
Teenswoordige realiteite word in hierdie meesleurende werk ’n werklikheid wanneer jong karakters voor die bedreiging te staan kom: Die einde van die wêreld is op hande; wat nou?
.........
Teenswoordige realiteite word in hierdie meesleurende werk ’n werklikheid wanneer jong karakters voor die bedreiging te staan kom: Die einde van die wêreld is op hande; wat nou? Jong lesers kry die geleentheid om te herbesin, om krities te dink oor die rol van die mens en sy aandeel in die situasie waarin hulle hul bevind. Jongmense kry met die lees van hierdie boek die geleentheid om moontlikhede vir die toekoms te verbeel. Vir my was hierdie boek opwindend, juis vanweë die potensiaal van die inhoud daarvan.
Reeds van die treffende voorplat af is daar die voorspelling van verlies, van rampspoed, van dinge wat gaan verander. Daar is die pertinente benoeming van die vrees: Op 21 Julie kom die finale, verwoestende aardbewings, die Nightshifts. Die onvoorspelbaarheid daarvan, die uitgelewerdheid van mens en natuur word reeds hier uitgespel. Niks sal ooit weer dieselfde wees nie, soos wat die skeuring duidelik waarneembaar geïllustreer word. Voorts word mens en natuur as verstrengeld, as één uitgebeeld. In die voorplatillustrasie is die menslike figuur (kop en bors) een met bome, met takke en blare. Dit is verteenwoordigend van die onlosmaaklikheid waarmee mens en natuur met mekaar verweef is.
Die aanhaling voor in die boek van Lifehouse is ’n voortsetting van die afwagting wat deur die voorplat geskep word. Dit is ook ’n suggestie van die tussenwêreld waarin tieners hulle bevind: “somewhere in between”, iewers tussen volwassenheid en kindwees, tussen sekerheid en onsekerheid, maar ook tussen realiteit en droom.
.......
Die verhaalgebeure gee die leser ’n blik op die lewe van Maria, ’n tiener wat haar pa te vroeg verloor het, wat nou waarskynlik self te vroeg gaan sterf, en hierdie wete noop haar om die sin in dit alles te soek.
..........
Die verhaalgebeure gee die leser ’n blik op die lewe van Maria, ’n tiener wat haar pa te vroeg verloor het, wat nou waarskynlik self te vroeg gaan sterf, en hierdie wete noop haar om die sin in dit alles te soek. Die vergeefsheid van haar soeke manifesteer in teksgedeeltes soos: “[D]is eintlik hoe ek altyd voel, asof ek iets mis …” en “Nou is die verlede al wat daar is.” Sy probeer antwoorde vind by meneer Vorster haar onderwyser vir wie sy verwarrende gevoelens koester. Sy beskou hom waarskynlik as iets tussen ’n vaderfiguur en ’n romantiese held, maar eintlik soek sy bloot vertroosting in hierdie onsekerheid: “Ek wens die lug tussen ons kon breek. Dat ek weer my gesig teen sy skouer kon druk.” Dit is juis aangrypende teksgedeeltes soos hierdie wat van Skeur ’n meesterstuk maak en wat sporadiese onwaarskynlike taalgebruik verskoon (sien Jonathan Amid se resensie, “Die regte boek op die regte tyd” in Die Burger van 16 Augustus, bl 15).
Maria en haar vriende gaan vir oulaas partytjie hou. Hulle gaan kuier op Luan-hulle se plot in ’n eenkanthuis wat deur ’n brug van die res van die dorp geskei word. Sy wil net vinnig gaan inloer om dan eerder saam met haar ma en Bibi, haar sussie, op die einde te wag. Dinge verander egter in ’n oogwink en die tieners word gestrand gelaat op ’n stuk grond wat soos ’n eiland afgeskei is van die res van die samelewing. Daar moet hulle die donkerte van hulle situasie, maar ook die donker in mekaar se psiges trotseer.
........
Wat lesersgerigtheid betref, ressorteer hierdie roman onder apokaliptiese fiksie, toepaslik vir die teikengroep 14 jaar en ouer. Apokaliptiese fiksie vertel ’n storie oor die einde van die wêreld soos wat dit in ’n spesifieke verhaal uitgebeeld word. Dit is ’n spekulatiewe genre wat ’n alternatiewe realiteit skep, wat ’n blik op ’n moontlike toekoms bied en wat gebrekkigheid en tekortkominge in gemeenskappe blootlê.
..........
Wat lesersgerigtheid betref, ressorteer hierdie roman onder apokaliptiese fiksie, toepaslik vir die teikengroep 14 jaar en ouer. Apokaliptiese fiksie vertel ’n storie oor die einde van die wêreld soos wat dit in ’n spesifieke verhaal uitgebeeld word. Dit is ’n spekulatiewe genre wat ’n alternatiewe realiteit skep, wat ’n blik op ’n moontlike toekoms bied en wat gebrekkigheid en tekortkominge in gemeenskappe blootlê. Dit beeld karakters uit wat die gevolge van verlies en verval moet hanteer, wat moet stry teen kwessies soos omgewingsverval, tegnologiese beheer en regeringsdruk. Met die eerste oogopslag word daar van Skeur verwag om ’n volkome apokaliptiese, distopiese roman te wees, maar dit is veel meer. Dit daag wel die leser uit om anders te dink oor huidige wêreldtoestande, oor omgewingskwessies en oor die mens se verhouding met die natuur, maar dit is ook ’n psigologiese roman. Dit spreek tot die diepste, verdoeselde kamers van die siel en dit stel die versluierde kant van die menslike aard aan die kaak. Die leser word gekonfronteer met die vraag: “Hoe sou ek optree in ’n situasie om oorlewing?” Die verhaal bring dus ’n geleentheid tot selfondersoek. Daar is ook die vrae: Wat is die sin van die lewe? Wat is die sin in hierdie soort einde daarvan? Ken ek my vriende? En veral: Ken ek myself? Maria en haar vriende kom te staan teen die sluimerende donkerte in mekaar, maar ook in hulself. Die bedreiging is dus nie net vanaf die natuur nie, vanuit die “grommende” aarde nie, maar ook vanuit die medemens én die self. En die stryd is om oorlewing.
Die romantiese element in die verhaal is getemper en subtiel, maar Maria en Luan se bloeiende verhouding sal by jong lesers aanklank vind. So ook die aksiebelaaide en spanningsvolle gebeure in die verhaal. Al hierdie fasette maak dat die boek leesgenot sal verskaf en byval sal vind by jong lesers oor geslagte en ouderdomme heen.
Skeur bied insae in die karakters se selfondersoek, in hulle verlangens en vrese; dit bied ’n kykie op die oorkoepelende konflik van mens tot mens, van mens tot natuur en van natuur tot mens. Daar is teenswoordige temas ter sprake; dié van ontluikende verhoudings, ’n suggestie van homoseksualiteit, moontlikhede tot geweld en aggressie. Dit is alles sake van die dag waarmee jong lesers sal kan identifiseer.
Dat die jong, talentvolle skrywer van hierdie debuutwerk voorwaar iemand is om in die toekoms dop te hou, maak my mateloos opgewonde. Jong skrywers wat in die taal van hulle portuur krities belangrike boodskappe kan deel, is broodnodig. Ek verwag nog vele treffers uit Carel van Rooyen se pen.
[i] Reynolds, K. 2007. Radical children's literature: future visions and aesthetic transformations in juvenile fiction. Londen: Palgrave Macmillan
[ii] Dror, S. 2010. The ecology of Dystopia: An ecocritical analysis of Young Adult Distopian Texts. MA-verhandeling, The University of British Columbia: Vancouver.