Skemer in Kartoem

  • 0

Foto: Canva

Skemer in Kartoem (Goud)

in verskroeide strate van Kartoem
bars bomskerwe los oor die Nyl
waar magsiek monsters harteloos roem

om die broses tot ootmoed te doem
wyl onheil in krygsgewaad skuil
in verskroeide strate van Kartoem

elke huis en hospitaal verdoem
met braaksel van oorlog bevuil
waar magsiek-monsters harteloos roem

en hulle eiewaan hoogheilig noem
terwyl skrapnel moskees deurpyl
in verskroeide strate van Kartoem

word honger krete deur gebed verbloem
as heiliges hul smeekbede huil
waar magsiek-monsters harteloos roem

terwyl die Nyl die skemerson soen
as gebroke drome die vreemde inseil
waar magsiek-monsters harteloos roem
in verskroeide strate van Kartoem

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top