Marikana en die staking van vragmotorbestuurders kort daarvoor het aan ander werkers landwyd geïllustreer dat geweld en die vernietiging van eiendom doeltreffend is om looneise af te dwing. Soveel te meer in die Wes-Kaap waar stakings juis in die oesseisoen gereël word wanneer die bedryf op sy kwesbaarste is. Vorentoe sal dit na alle waarskynlikheid die norm vir stakingstrategieë in die Wes-Kaapse landboubedryf word.
Demagoë van COSATU en die ANC was vinnig om die woord “Boer” as die grondoorsaak van die Wes-Kaapse onluste rond te slinger. Histories het hierdie woord in ‘n emosioneel gelaaide term ontwikkel. Afgesien wat die betekenis van “landbouer” is die term “Boer” veral onder nie-wit werkers ook met konnotasies van “grondrower”, “onderdrukker”, “rassis”, “uitbuiter”, en in die meer onlangse apartheidsverlede, ‘n wit (meestal Afrikaanssprekende) polisieman geassosieer. Hierdie negatiewe konnotasie het twee oorspronge in die Suid-Afrikaanse geskiedenis: die instelling van vryburgers (landbouers wat nie Kompanjiesamptenare was nie, maar landbou-entrepreneurs wat op hul eie ‘n bestaan moes maak) deur die VOC aan die Kaap in 1657 en die koms van die eerste slawe in 1658. Deur laasgenoemde gebeurtenis het die Wes-Kaap ook ‘n slawesamelewing geword.
Teoreties kon ‘n persoon van enige ras ‘n vryburger word en in die 17de eeu is daar ook enkele sogenaamde “vryswartes” as boere veral in Jonkershoek buite Stellenbosch gevestig. Weens geldgebrek en as gevolg van geleidelike sosiale verdringing deur vryburgers het hierdie “vryswartes” uiteindelik teruggeval na die sosiale onderklas van Kaapstad. In die praktyk het die VOC sy amptenare en vrye immigrante in Europa gewerf. Deur slawe in te voer van wie nie één ‘n Europeër was nie, is die korrelasie tussen wetlike status en ras (slawe = swart) verskerp. Deur middel van verdrywing, verowering en pokke-epidemies in die vroeë 18de eeu is ook die aanvanklike “onafhanklike” status van die inheemse Khoisan tot feitlik dié van slawe verlaag en moes hulle ter wille van oorlewing meestal op vryburgerplase gaan werk.
Histories het daar dus in die boerderystreke van die Wes-Kaap ‘n ras- en klasverdeelde samelewing ontwikkel van wit grondbesitters (“Boere” of “base”) en nie-wit werkers. Die feit dat die ruimtelike ontwikkeling van tipiese Bolandse dorpe gekenmerk is deur ‘n “bo-dorp” met ‘n hoofsaaklik wit buurt, kerk en skool en ‘n “onder-dorp” met ‘n hoofsaaklik bruin buurt, kerk en skool, het die rasse-en klasseverdeling geaksentueer en dra by tot die emosionele lading van die woord “Boer” omdat daardie verdeling in wese vandag steeds voorkom. Dis daarom dat die appèl van hierdie woord so maklik deur vakbonddemagoë aangewend kan word om werkers mee op te sweep teen die “Boere” as die oorsake van hulle loonellende.
Sedert die Tweede Wêreldoorlog, toe op grootskaal in inmaakfabrieke, moderner besproeiingspraktyke en die uitbreiding van die sagtevrugte- en wingerdbedryf belê is, het Wes-Kaapse boere ook al hoe meer swart werkers veral vanuit die Oos-Kaap begin invoer omdat hulle produktiwiteit hoër was as dié van bruin werkers. Nou, na apartheid, het hierdie arbeidskomponent die demografie van die Wes-Kaapse platteland polities drasties begin beïnvloed. Die ANC besef maar al te goed dat hy waarskynlik nie gou weer in die Kaapse metropool aan bewind gaan kom nie en daarom het die Wes-Kaapse platteland nou ‘n verbete politieke slagveld geraak waar die loonkwessie in ‘n uiters sensitiewe bedryf deel van die politieke magspel geword het. Let wel, daar word geensins geargumenteer dat dagloners genoeg betaal word nie. Maar dit was tog opvallend dat daar slegs in die Wes-Kaapse vrugtebedryf, waar die DA regeer loonbetogings gehou is, terwyl daar in die Oos-Kaap, waar die ANC regeer, ook ‘n groot sagtevrugtebedryf bestaan waar dieselfde loonskale as in eersgenoemde geval betaal word, maar sover vasgestel kon word, geen betogings voorgekom het nie.
Daar is slegs een manier om die beskuldiging tot ‘n einde te bring en vir eens en altyd vas te stel watter “Boere” regverdige lone bo die minimum loonskaal betaal en wie “uitbuiterlone” betaal: ‘n volledige oudit van elke betrokke plaas, landbouer en plaaswerker in die provinsie. Dis egter te betwyfel of die ANC die vermoë of die wil het om so-iets ten uitvoer te bring. En die groot tragiek is dat hierdie stakingskwessie uiteindelik tot grootskaalse landboumeganisasie gaan lei wat die einde van werksgeleenthede vir baie dagloners, wat ‘n groot komponent van die betogers uitgemaak het, gaan beteken. Van Robertson tot Vredendal sien mens deesdae alreeds meer en meer druiweoesmasjiene aan die werk en al hoe minder druiweplukkers.
Wessel Visser


Kommentaar
In vergelyking met Oosterse lande word ongeskoolde arbeiders in Suid-Afrika, gemeet aan hulle produktiwiteit, te veel betaal. Daar is ’n ooraanbod van ongeskoolde arbeiders in die nuwe Suid-Afrika. Enersyds weens "natuurlike" aanwas. Andersyds weens die ongebreidelde instroming van dikwels onwettige inkommers uit ander lande. Die kapitalistiese stelsel van loon volgens aanbod word deur die ANC en vakbonde vir swartes gesaboteer.
Wat in die nuwe Suid-Afrika gebeur, word in die eerste plek nie polities deur die veelgeprese demokrasie bepaal nie. Soos in die geval van die eertydse sogenaamde bevrydingsbewegings, gaan dit primer om geweld. Enigiets wat nie volgens die gepeupel se sin is nie, word met geweldadige massa-aksie herskik.
Omdat dit vir die ANC eerder om (swart) mag as demokrasie (wat aan iedere wettige inwoner sy plekkie in die son gun) gaan, word dit nie aanvaar dat ’n ander politieke party in die Wes-Kaap aan die bewind is nie. Nie net op die platteland word onrus gestook om dit onregeerbaar te maak nie, maar ook in die Kaapstadse metropool. Die DA-regering word bv nie toegelaat om op opvoedkundige gronde sekere skole in die Wes-Kaap te sluit nie.
Johannes Comestor
Wessel
’n Insiggewende, feitlike, objektiewe en gebalanseerde verslag. Al wat ek wil byvoeg is, is dat daardie “two ton” ennies wat op die nuus voor almal met hulle groteske lywe ronddans, alles behalwe na mense lyk wat op honger of broodlyn inkomste lewe.
Verontagsaam ekonomiese wette en jy kom altyd die korste daarvan af. Hierdie gaan nog lelik in die werkers se bakkies opblaas. Dit is reeds aan te gebeure met die Marikana fiasko, o.a. waar myne produksie afskaal en werkers afbetaal. Kapitaal voorsieners verloor; werkers verloor; die vakunie base loop weg met 'n glimlag op hul gesig, met vet bank balanse en politieke mag.
Jaco Fourie
Beste Dr. Visser, nog erger is dat ons medeburgers in isiXhosa na Afrikaans verwys as "die taal van die Boer" en dat die regering die term in hul amptelike dokumente gebruik.
Kobus Faasen
Meganisasie is grotendeels ontmoontlik. Sekere take kan net met die hand gedoen word. En as die helfte van alle kommersiele boere ’n omset van onder R300k het, is ’n tuingrassnyer omtrent die enigste meganisasie wat hulle met hul groot skuldlas kan bekostig.
Blip, ek hoop jy's reg, maar daar was onlangs ’n masjien in die koerant waarmee oorsee glo druiwe gepluk kan word. Mens vermoed dat daar nog meer as grassnyers kan kom.
Mens het groot simpatie met armes - sou ons nie ook so gevoel het as ons hulle was nie - maar hier is aspekte wat verontrustend is: die ANC-regime se gevoellose optrede, wat hulle morele korrupsie weereens ten toon stel, en dan die groter prentjie, nl. wat in China gebeur - daar word beweer dat hierdie land wat juis sy enorme arbeidsmag erg kan uitbuit (halooo kommunisme!) ter wille van lae omsetkostes uiteindelik, hulle potente hefboom gaan verloor omdat die massas geleidelik beter geskool raak en beter lone eis.
Die sleutelwoord is "verloor." Aan die een kant wil ons juis beter geskooldheid teweeg bring om internasionaal tegnologies mededingend te wees en om ons demokrasie beter te bedryf, en aan die ander kant gaan dit landboupryse verhoog as lone styg, wat ons landbou-mededining (internasionaal) kniehalter. Die ekonomie is veel ingewikkelder as meeste mense besef, en die ANC stook juis die onkundigstes op wat ironies genoeg die ergste gaan ly.
Wessel maak geldige punte, en die vernaamstes is dat daar die saak twee kante het en mens dit net kan insien as jy al die feite het. En koelkop bly. Die agenda van die opstokers is, soos gewoonlik, so opaag soos ’n stowwerige druiwekorrel.
Onder die ANC-indoenas is van die rykste mense in die land, wat met miljoene mors wat hulle nie verdien het nie - Malema het byvoorbeeld gese hy's geen kapitalis nie, want kapitaliste skep iets, en hy skep niks (behalwe chaos).
Soos die Amerikansers dit stel: go figure ...