Skaliegas-ontginning: rampspoedig of werkskeppend?

  • 1

Bertus Steenkamp is ’n skaapboer van die plaas Klipbanksfontein naby Carnarvon. Hy is die vierde geslag van Steenkamps op die familieplaas, wat volgens die transportakte van 1 Desember 1838 die oudste plaas in die distrik is (lees meer by www.karoomeatoforigin.com). Hy is ’n opgeleide geoloog en volg die debat oor die omstrede kwessie van skaliegas-eksplorasie deur middel van breking in die Karoo as wetenskaplike sowel as landbouer.

Ebbe Domisse het die volgende vrae aan hom gestel:

Jy is ’n skaapboer wat onder meer skaapvleis met die beroemde handelsmerk Karoo-lam vir die mark lewer. Watter gevolge kan grootskaalse breking vir jou boerdery inhou?

Katastrofies!

Ek het al baie in artikels gesê dat die bekende sertifiseringsmerk Karoo Meat of Origin vir die nageslag ontwikkel is en dat groot, oop, stil, onbesoedelde Karoo-ruimtes waar skaaptroppe ongestoord kan wei, vir altyd versteur gaan word, veral as grootskaalse waterbesoedeling plaasvind. Mens en dier sal baie vinnig alternatiewe moet soek wat nie bestaan nie. Die vraag is: Gaan die Karoo vou of gaan hy hou?

Soos jy in die Karoo beweeg, wat is die algemene gevoel oor breking wat jy teenkom?

Meestal van onkunde. Vandat Google ons raadgewer geword het, is daar soveel teenstrydighede wat gewone mense verwar. Ek het nog nooit enige boer hoor sê dat hy/sy opgewonde is oor vooruitsigte wat breking gaan bring nie – en onsekerheid skep wantroue en afsku.

Waar gaan die water gevind word wat in die Karoo met sy waterskaarste nodig sal wees om breking suksesvol te maak?

Die nuutste tegnologie voorspel veiliger brekingsmetodes sonder water, maar as dit nie bestaan nie, sal ’n hoëkapasiteitspyplyn vanaf die Oranjerivier wat geaffekteerde Karoodorpe verbind, die oplossing bied. Dit kan ook sommer gebruik word om honderde opkomende besproeiingsboere te vestig by elke dorpie wat groente, vrugte, neute, graan ensovoorts vir plaaslike inwoners kan oorsien. Die voorstel gaan meer volhoubaar vir mense van die Karoo wees as SKA en breking gekombineerd. Finansiering en bestuur sal egter baie groot uitdagings wees. Ek het reeds ’n voorlegging aan Shell deurgestuur.

Gaan daar nadelige gevolge wees, soos chemikalieë en radioaktiwiteit wat bestaande waterbronne kan besoedel en infrastruktuur soos paaie wat onder groot druk geplaas kan word?

Breking gaan gepaard met grootskaalse ondergrondse drukgradiënte wat die vloei van water sywaarts of opwaarts kan affekteer. Die hele proses moet gelaat word in die hande van gespesialiseerde geohidroloë soos Danie Vermeulen, direkteur van die Instituut vir Grondwaterstudies aan die Universiteit van die Vrystaat, wat gereeld reis na Amerika, die enigste land ter wêreld waar grootskaalse breking plaasvind. Onafhanklike wetenskaplike navorsing sal antwoorde kan verskaf. Suid-Afrika kort energie, en skaliegas wat veilig ontgin en reg bestuur word, kan groot leemtes vul, maar kan ons groot maatskappye of ons huidige regering vertrou word om dit reg te bestuur?

Foto: Karoo meat of origin

Wat is die waarskynlike impak op ’n tipiese Karoodorp/-gemeenskap indien die grondwater besoedel sou word?

Dink self: as jy môre-oggend opstaan en uit die kraan kom vuil, besoedelde, ondrinkbare metaangas-water. Dit sal katastrofies wees vir enige mens of gemeenskap. So 'n Karoodorpie is hoofsaaklik afhanklik van boorgate sonder alternatiewe, so inwoners sal op groot skaal gebottelde water teen groot koste moet aanskaf. Diere gaan vrek. Die Karoo beslaan een derde van Suid-Afrika se oppervlakte en is ongeveer 37,2 miljoen ha groot, so dink net watter impak dit op die res van die streek/land sal hê.

Foto: Karoo meat of origin

Wat is die gevolglike waarskynlike impak op boere en plaaswerkers?

Carnarvon se distrik dra na raming 100 000 produserende skaapooie plus nog bokke, beeste, perde, wild ens, wat seker ’n geraamde inkomste van R200 miljoen per jaar gee. Produksie sal onmiddellik gestaak word as alles begin kwyn of vrek. Boeregesinne met hul jare lange getroue plaaswerkers sal by hul duisende werkloos en haweloos word en nie eens Steven Spielberg sal ’n rolprent kan maak wat hierdie ramp ordentlik kan uitbeeld nie. Ek self sal nie verder wil lewe nie!

Sommige mense dink breking kan werkloosheid in die Karoo verminder. Is dit so?

Breking is ’n hoëtegnologie- en ingewikkelde proses, dus sou werkskepping tydelik van aard wees op die vlak van infrastruktuur-verbetering, soos die bou van paaie byvoorbeeld. SKA by Carnarvon het bewys dat plaaslike inwoners net tydelike poste kry wat nie volhoubaar is nie. Dieselfde sal vir breking geld.

Word gemeenskappe wat deur breking geraak kan word, behoorlik deur die regering ingelig oor al die moontlike gevolge wat grootskaalse nuwe bedrywighede vir hulle inhou?

Ja. Daar was al verskeie afvaardigings deur Shell in ons geval, en sekere staatsdepartemente onderneem voorligting in verskeie dele van die Karoo, maar almal se agendas verskil.

Foto: Karoo meat of origin

Is daar belangrike voordele vir die Karoo wat uit breking kan voortspruit?

In Amerika word nie veel werk in dorpies geskep nie, maar hulle vind baat by nuwe infrastruktuur, soos hospitale, skole en sportterreine wat die petroleummaatskappye bou. Die SKA het byvoorbeeld in Carnarvon, my tuisdorp, grootskaals belê in ’n rekenaarsentrum vir die skool, met ’n inligtingsentrum, maar niks is werklik sigbaar op grondvlak tov armoedeverligting deur die skep van permanente en volhoubare werksgeleenthede nie. Miskien kan goedkoper krag beskikbaar raak as breking in die Karoo suksesvol is.

Die regering het water- en mineraalregte effektief genasionaliseer, en is klaarblyklik op pad daarheen om dit ook met gas-eksplorasie te doen. Word die implikasies enigsins aan grondeienaars gekommunikeer?

Ja en nee.

Met die jongste veranderinge aan die wysigingswetsontwerp op die ontwikkeling van minerale en petroleumhulpbronne (MPRDA) gaan ons regering dalk onwetend of onbewustelik die Karoo red agv gulsigheid en gebrek aan insig. Die wetgewing maak voorsiening vir ’n staatsbelang van 20% (“free carry”) en dat die staat die bykomende 80% “teen ’n ooreengekome prys” kan bekom. Grondeienaars weet wat aangaan en gaan geen inkomste uit die bron kry nie, behalwe uit die uitkoop van geaffekteerde grond waar eksplorasieboorgate met toerusting gevestig gaan word. Daar sal wel ’n standaardooreenkoms tussen petroleummaatskappy en grondeienaar plaasvind wat beide bevoordeel.

Voel boere dat die regering hulle genoeg geleentheid gebied het om hul besware aan te meld en kommentaar op die projek te lewer?

Wat help dit tog om insette op openbare vergaderings te lewer? Wie oorweeg die geldigheid daarvan, en kry ons ooit terugvoering? Daar was voldoende inligtingsessies oral in die Karoo, alhoewel die agendas van alle vergaderings wat ek bygewoon het, verskil. Ek is waarskynlik een van baie min Karooboere met ’n BSc Geologie-graad wat al 32 jaar voltyds boer en ek het ondervind dat alle insette op grootskaalse georganiseerde basis moet wees, met bereidheid om geveg op duur regsgeveg voort te sit. Daarvoor is geld en motivering in die Karoo te min.

Daar is die afgelope paar jaar baie meer gedoen om boerderypraktyke meer volhoubaar te maak. Enige mynbouprojek kan net so lank bestaan as wat die hulpbron ontgin kan word. Sien boere ’n moontlikheid vir mynbou en boerdery om saam te bestaan op die skaal wat skaliegasontginning waarskynlik sal geskied?

Ja. Neem Medupi as voorbeeld. Daar is nie genoeg water in die Waterberg om ’n kragstasie volhoubaar te bedryf nie, en water moet met ’n pyplyn aangepomp word. In die Karoo is water 'n baie kosbare bron, dus is my mening dat dit óf hidrobreking óf volhoubare boerdery sal wees. Die twee gaan om dieselfde bron meeding, en as skaliegasontginning nie suksesvol is nie, sal boerdery ook misluk. Die risiko is net te groot as daar nie waarborge is nie – los liewer Karoo uit en bly weg.

Foto: Treasure the Karoo

Baie boere in die VSA besit die mineraleregte onder hul grond, terwyl die regte in Suid-Afrika aan die staat behoort. Boere in die VSA kry dus ’n gedeelte van die wins wat die gas oplewer. Sien boere enigsins ’n geleentheid vir hulleself om voordeel uit die skaliegasprojek te trek?

Nee, behalwe as Shell byvoorbeeld ’n betrokke boer R500 000 tot R1 miljoen per boorgat aanbied, dan sal hy/sy met kapitaal ’n paar planne beraam as dinge skeefloop. Wat word van daardie boer se buurplase as grootskaalse waterbesoedeling begin plaasvind? Die jongste veranderinge aan MPRDA speel eintlik voordelig in die hand van mense van die Karoo en sal groot internasionale petroleummaatskappye eerder afskrik as wat hulle eksplorasierisiko loop en daarna al hul winste prysgee. Die regering se onkunde en gierigheid werk dalk wonderbaarlik in die guns van die Karoo.

Die regering beskou gasontginning klaarblyklik as ’n welkome meevaller om die trae ekonomiese groei te bevorder. Maar is daar deeglike navorsing gedoen oor hoeveel gas werklik in die Karoo ontgin kan word? Is die vermeende bron groter of kleiner as in ander lande?

Niemand weet regtig hoeveel tegnies ontginbare of stimuleerbare skaliegasreserwes daar in die Karoo is nie. Aanvanklik, in April 2011, het die Amerikaanse energie-inligtingsadministrasie die bron geraam op 485 triljoen kubieke voet en nou raam die Petroleumagentskap van SA (PASA) dit maar op 40. Die Amerikaanse raming is gegrond op die Marcellus-skaliegaskom, wat tov grootte en ouderdom geologies met die Karookom ooreenstem en oor drie Amerikaanse deelstate strek. Dit staaf my punt deur die stelling te maak dat onafhanklike wetenskaplikes eerder aannames moet weerlê of bevestig.

Daar is egter twee punte van uiterste belang vir mense van die Karoo:

1. Breking is deel van die Nasionale Ontwikkelingsplan en daar is geen waarborg van sukses nie.

2. Groot internasionale petroleummaatskappye met hul filiale, soos Shell wat in meer as 70 lande sake doen, beskou hierdie ekologies sensitiewe gebied as maar net nog ’n klein deeltjie van hul groter portefeulje in die proses om energie te verskaf, met gepaardgaande eksplorasierisiko, dus sal hulle ook nie vir mense van die Karoo enige waarborg gee nie.

Dit laat ons tussen die duiwel en die diep blou see, daarom sou ek afsluit deur te sê dat ons net een Karoo het, so los dit liewer uit en laat vir die nageslag ’n ongeskonde, skoon, veilige vesting soos aanvanklik deur ons Skepper geskape.

  • 1

Kommentaar

  • Waldemar Gouws

    Kan mens iets doen om die Karoo die breking te spaar? Vandag (9/4) sien ek Mantashe se woorde: "We are going to do fracking in the Karoo. I know some people do not like that, but we need it." Die "it" is egter meer waarskynlik te verstane as 'n ramp as net die verkryging van 'n paar ton brandstof vir die regering.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top