Skaakmat

  • 0

Skaakmat

Foto: Canva

Langs ’n kernkragsentrale in niemandsland is ’n skaakbord
staangemaak en ondersteun deur die obelisk van die tye.

Ek sit aan die wit kant soos iemand aan die bibber-buitekant
en oorkant my sit jy, hartseer leser, soos ’n donker anderkant.

Met elke skuif bombardeer my gelaaide woorde jou brandsiek lyf –
vóltyds onder-breek deur die missiele van die vyand se elke skuif.

Langs die bord wankel die kernkragsentrale op sy fondamente
soos ons eie skuiwe wat bord-gedrewe verander het in pionne

wat hulde sou bring aan konings en koninginne – die aartsvyande
van die ruiters wat die goedige-hart-lopers se kerke moes beskerm.

Elke wit en swart stuk ’n meetsnoer van die groot verdrukking
wat die lees tussen die lyne moeilik maak: veragting, verraad

maar wie sê dat die spel nie is wat die ou dae voorspel het nie.

Om vir jou, hartseer meester, ’n kernkragstaat staan te maak
moet hierdie bord van ons ook die fondamente kan skud van

Rusland se missiele en ander Westerse kameraadskapsgrille
om Biden in ’n hoek te dryf – vir Kim Jong-un te skaak-maat: 

dowe neute te laat luister en woorde te bring vir geskaakte mense
wat aan die anderkant van bord wag vir meer as net ’n wêreldsideaal

maar eerder die belewenis van: die koeël is deur die moontlike kerk
rol ’n wit koning se kop langs ’n aardse kernkragsentrale verby ...

                  ... terwyl ons opstaan, sing: God save our gracious king.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top