
Foto: Canva
Sitadel van verkwikking
bewus van die nabyheid
versink in Troos
rus ek
in die oninneembare
Sitadel van Verkwikking
ek sien –
’n ruit breek sonlig
in parallelle strale
na ’n eikehoutvloer:
kantelende ligkolomme
louter swewende stof
tot skitterende sterrereën
oor gordel, helm en harnas
op skild en swaard
ons stryd knars buitekant
in my hart en gedagtes
word vrede bewaak
buite –
duisternis kerm
in gillende golwe
swaar
donker reuse
oorspoel sonder rus
ek stormloop met
skouer teen skild
ander volg in lyn
sy aan sy
kolomme van hellende lig –
swart tref ’n witligmuur
die Koning
is aan die kom

